Ons fokus hier slegs op die groot gees te onder viertreksportnutse, omdat dit haas onmoontlik is om élke veldryvoertuig te noem.

Dit beteken uiteraard ons moes ’n keuse maak en ’n klompie uitlaat.

Jammer aan die eienaars van die Fiat Panda en Volkswagen Amarok!

Die jare veertig

Die vroeë jare veertig word oorheers deur die Tweede Wêreldoorlog, maar in dié tyd raak die persoonlike veldryvoertuig en 4x4 gewild as ’n stokperdjie.

Toe die Amerikaanse weermag met die uitbreek van die oorlog sien die Britse leër gebruik ’n piepklein tweewielaangedrewe Austin 7 vir verkenningswerk, het hulle dadelik opdrag gegee vir die ontwikkeling van ’n soortgelyke voertuig vir militêre gebruik: die Jeep.

1940

Werk aan die Bantam BRC begin op 17 Julie 1940. Dit neem die ontwerper Karl Probst slegs twee dae om die BRC op papier te kry, en ’n werkende prototipe word binne 49 dae aan die Amerikaanse leër oorhandig. Bantam se beskeie aanleg is ongelukkig nie in staat om die eerste bestelling van 3 500 BRC’s op sy eie te vervaardig nie en die Willys-Overland- en Ford-motormaatskappy word gevra om elk ’n derde van die bestelling te lewer.

Die Bantam BRC (Blitz Buggy), Willys MA (Quad) en Ford GP (Pygmy) ry in 1941 in Europa aan wal en die soldate se versamelnaam vir dié kordater veldryvoertuie is Jeep. Die oorsprong vir die naam is onduidelik; sommige geskiedkundiges beweer dit kom uit die GP van Ford se karretjie en ander glo dis gegrond op die strokieskarakter Eugene the Jeep.

Volgens genl. Eisenhower is die “Jeep” een van die belangrikste wapentuie wat die oorwinning teen die Nazi’s moontlik gemaak het.

1941

Die Japannese leër neem die Filippyne oor en neem ’n Amerikaanse basis in. Een van hulle trofees is ’n Jeep, wat dadelik na Japan gestuur word – en die Toyota- motormaatskappy kry opdrag om iets soortgelyks vir die weermag te bou. Die gevolg is die Model AK, maar Japan word verslaan voor die vervaardiging in alle erns kan begin.

1943

Willys-Overland plaas advertensies in nuusblaaie wat aanvoer hý het die Jeep ontwerp en probeer die naam “Jeep” in Februarie 1943 registreer. Bantam wend hom tot die hof en ’n regter beslis die voertuig behoort nié aan Willys-Overland nie, maar wel aan Bantam.

1944

Ondanks die hofbeslissing stel Willys-Overland die CJ (Civilian Jeep) in Mei 1944 aan die Amerikaanse publiek bekend.

Hy is dadelik ’n treffer en verkoop soos soetkoek, veral onder soldate wat uit Europa terugkeer en vertel hoe lekker dit is om met hierdie klein viertrekvoertuig in die modder rond te speel.

Die 4x4-gogga vat vlam onder gewone landsburgers wat tegniese terrein voorheen vereenselwig het met ’n gesukkel. Nou beskou hulle dit as ’n prettige uitdaging.

1947

Die Jeep inspireer die Britse motormaatskappy Rover om ’n soortgelyke voertuig vir die landbousektor te bou. ’n Prototipe word in September 1947 getoets en dié word gekenmerk deur die bestuurder se sitplek in die middel en twee passasiersitplekke aan weerskante agter. Die sogenaamde Centre Steer is só ontwerp omdat boere glo gewoond is aan trekkers.

1948

Rover stel sy eerste Land Rover, die Series I, op 30 April 1948 by die Amsterdamse motorskou bekend. Die middelste sitplek is laat vaar en die stuurwiel sit nou aan die regterkant. 

Die jare vyftig

Die 1950’s word gekenmerk deur die Koue Oorlog, veral die Koreaanse konflik waaraan die Suid-Afrikaanse lugmag se tweede eskader deelneem, en die stigting van Springbokradio en Sasol. Dit is ook wanneer Japan tot die 4x4-voertuigmark toetree.

1950

Willys-Overland word toegelaat om die Jeep-naam te behou. Dit volg op die hofbeslissing dat Bantam nie genoeg ywer toon om Jeeps aan die publiek te verskaf nie – Bantam speel in dieselfde jaar nog bankrot.

1951

Die Nissan-motormaatskappy stel sy 4W60-veldryvoertuig in September 1951 bekend. Hy is losweg gegrond op die Jeep wat in die vorige dekade na Japan gebring is. In dieselfde jaar gee die Amerikaanse leër – nou gewikkel in die Koreaanse oorlog – opdrag dat Toyota militêre Jeeps in Japan bou van waar dit vinniger en goedkoper as uit Amerika na Korea verskeep kan word.

1954

Willys-Overland verneem Toyota bemark sy militêre Jeep aan die publiek en dreig die Japannese motorvervaardiger met regsoptrede. Toyota herdoop sy 4x4-voertuig tot die Land Cruiser, kwansuis uit respek vir die Britse Land Rover.

1955

Toyota se tweedegeslag-Land Cruiser J20 – nou nóg verder verwyder van die Jeep – word bekend gestel en na internasionale markte uitgevoer. Hy word kort daarna gevolg deur die vierdeur-Land Cruiser FJ35.

1959

Nissan se tweede veldryvoertuig, die Datsun Patrol 60, word in Australië verkoop waar hy die eerste motorvoertuig word wat die Simpson-woestyn in Australië oorsteek.

In dieselfde jaar stel Rover sy Land Rover Series II bekend, wat kosmetiese én meganiese aandag kry. Die Series IIA word beskou as die gehardste Land Rover nóg – in die jare sestig is meer as 60 000 eenhede per jaar verkoop (die Defender se beste tye was in die jare negentig, toe gemiddeld 25 000 per jaar van die hand gesit is).

Die jare sestig

Suid-Afrika word ’n republiek en dr. Hendrik Verwoerd, destydse premier, kondig die noodtoestand af ná die Sharpeville-slagting. Die eerste Boeing 747 land in die land en die gewildheid van 4x4-voertuie neem toe.

1960

Die Toyota Land Cruiser J40 maak sy verskyning, en teen die einde van die dekade verkoop Toyota byna 200 000 eenhede.

1967

Toyota rus nie op sy louere nie en stel die Land Cruiser J50 bekend. Dit is die eerste van Toyota se “luukse en gemaklike” Land Cruisers – in der waarheid die stamvader van die huidige Land Cruiser 200-reeks.

Die jare sewentig

Dié dekade word gekenmerk deur die oliekrisis in die Midde-Ooste. Led Zeppelin en ABBA laat waai op jou motorradio. Maar ondanks die hoë brandstofprys en sanksies teen Suid-Afrika weens apartheid neem die gewildheid van veldryvoertuie steeds toe – nou is dit nie meer die eksklusiewe milieu van veeboere en aweregse vakansiegangers nie.

1970

Charles Spencer King van British Leyland het met die bekendstelling van die Toyota Land Cruiser J50 gesien luukse 4x4-voertuie gaan gewild word, en die Range Rover word in Junie 1970 bekend gestel. Die Land Rover Series III word ’n paar maande later in 1971 bekend gestel. Die jare sewentig word oorheers deur Land Rover, Toyota en Nissan, terwyl Jeep mettertyd uitsak.

Suzuki tree toe tot die viertrekwêreld met sy Jimny LJ10, ’n piepklein karretjie wat 590 kg weeg en ’n topspoed van 75 km/h kan haal.

1979

Die weeldevoertuigvervaardiger Mercedes-Benz maak ’n onverwagte verskyning in die veldrymark met sy Geländewagen. Dié ryding is oorspronklik bedoel as ’n militêre voertuig vir die private leër van Iran se koning, maar daardie plan loop skeef en die G-wagen word aan die publiek beskikbaar.

Die jare tagtig

Ná die jare sewentig ontplof die rekenaartegnologie behoorlik – net soos die kleredrag, wat goed uitspattig raak. Pink Floyd se album The Wall word in Suid-Afrika verbied. Die voorval tussen Zola Budd en Mary Decker-Slaney by 1984 se Olimpiese Spele in Los Angeles het almal aan die praat, en al hoe meer 4x4-voertuie betree die mark.

1980

Nissan stel sy derdegeslag-Datsun Patrol bekend: die 160 en 260. Dit is die laaste Patrol wat die Datsun-kenteken dra, en hoewel hy ’n onmerkwaardige Patrol is, was dié voertuig die begin van ’n gewilde 1980’s-gier: Vierkantige hoofligte.

1981

Die tweedegeslag-Jimny, die SJ, word in Mei 1981 deur Suzuki aan die publiek bekend gestel. Die Jimny is aanvanklik gewild onder hengelaars wat ’n goedkoop ryding soek waarmee hulle kan gaan visvang, maar ook boere wat modderige paaie moet aandurf.

1982

Mitsubishi bars behoorlik uit die hekke met sy eerste Pajero. Die Pajero L040 is skaars op die verkoopvloer of hy is by die 1984 Dakar-veldtydren in aksie. Die Pajero gaan vir ’n hele paar dekades lank sy stempel op dié veldtydren afdruk.

1984

Toyota slaan terug met die Land Cruiser 70, ’n voertuig wat vandag nog gewild is onder boere, noodreddingsdienste, avonturiers, weermagte – eintlik enige hardebaard beroep waaraan jy kan dink.

1986

Lamborghini verras die wêreld met sy LM002. Die Italiaanse sportmotorvervaardiger wou ’n militêre viertrekvoertuig bou vir oliemagnate, en altesame 328 “Rambo-Lambo’s” word vervaardig. 1987 Nissan stel sy Patrol Y60 bekend. Dit is die eerste Patrol met kronkelvere voor en vyfskakelvere agterlangs. Hy sal ’n gewilde ryding word, maar sy toetrede tot die mark word oorskadu deur die terugkoms van ’n ou Amerikaanse legende: Jeep.

Dié naam keer in dieselfde jaar terug ná amper ’n halwe eeu van stagnasie. Jeep word nou besit deur Chrysler-motors, en ’n splinternuwe Jeep, die Wrangler, bekoor die nasies van die wêreld. Die Wrangler het vierkantige hoofligte – tipies van die jare tagtig – maar dis iets wat later verander.

1989

Teen die einde van die jare tagtig stel Land Rover sy Discovery bekend. Die Disco is veronderstel om tussen die Land Rover en die Range Rover te pas. Hy moet hardebaard-avonturiers tevrede stel, maar ook ma’s wat hulle kinders skool toe en terug karwei.

’n Jaar later, in 1990, word die gewone Land Rover Series herdoop tot die Land Rover Defender-reeks. 

Die jare negentig

Die internet skop hierdie dekade met mening af, maar Nelson Mandela se vrylating en Dolly, die gekloonde skaap, oorheers die nuus. Tienerseuns (en hulle pa’s) is vasgenael voor Baywatch en tientalle nuwe 4x4-sportnutse sien die lig.

1990

Toyota stel sy Land Cruiser J80 bekend – die luuksste Land Cruiser tot op hede. Hy het heeltydse vierwielaandrywing en kronkelvere op al vier wiele.

1992

Mitsubishi bring ’n nuwe Pajero, die V20, uit wat ’n groter bakwerk het. Mitsubishi stel ook sy bekende Super Select 4WD-stelsel aan die wêreld bekend.

1993

Jeep kom met sy Grand Cherokee vorendag. Die jare negentig is ’n goue era vir sportnutsvoertuie.

1994

Die eerste Range Rover in ’n kwarteeu sien die lig. Jy kan hom nou koop met BMW se sessilinder-turbodieselenjin.

1996

Toyota stel ’n nuwe produk bekend wat hy die Land Cruiser Prado noem. Mitsubishi doen dieselfde met sy Pajero Sport.

1997

Die Nissan Patrol Y61 maak in Desember 1997 sy verskyning. Groot luukse veldryers sê mekaar die stryd aan. Land Rover stel sy Freelander bekend, ’n kompakte sportnuts wat so ampertjies die maatskappy se ondergang veroorsaak.

1998

Land Rover rol sy Discovery Series II op die vloer. Hy word bemark met die slagspreuk “720 verskille”, maar dis moeilik om hom te onderskei van die Series I. In dieselfde jaar kry ons die Toyota Land Cruiser J100 en die derde Suzuki Jimny.

1999

Jeep stel sy tweede Grand Cherokee bekend, skaars 6 jaar ná sy eerste, en Mitsubishi bring sy derde Pajero, die V60, uit.

Die 21ste eeu

Die sepie 7de Laan maak sy buiging op SABC2, Hansie Cronje word ontmasker as ’n krieketknoeier en die Krugerwildtuin en Suid-Mosambiek oorstroom.

Die goeie nuus is dat die 4x4-mark in die laaste kwart van die jare negentig só gegroei het dat Drive Out, ’n voorganger van Ry & Sleep, in die jaar 2000 gestig word om in 4x4-entoesiaste se behoeftes te voorsien.

Drive Out skep die moeilikheidsgradering (van 1 tot 5) vir 4x4-hindernisse wat vandag nog deur ons – en die eienaars van alle Suid-Afrikaanse hindernisroetes – gebruik word.

2000

Mitsubishi skop die millennium af met sy derde Pajero.

2002

’n Derde Range Rover maak sy verskyning, nou onder die BMW-vaandel, en Jeep stel sy kleiner Cherokee bekend. Porsche betree die mark met sy Cayenne en kort voor lank het elke vervaardiger ’n sportnuts.

2003

’n Tweedegeslag-Prado verskyn uit Toyota se stal.

2004

Land Rover stel ’n derde Discovery bekend, die Disco 3.

2005

Jeep stel sy derde Grand Cherokee bekend en Land Rover kry sy Range Rover Sport – ’n gunsteling onder sokkerspelers. 2006 Jeep stel sy eerste Compass bekend terwyl Land Rover ’n verbeterde Freelander 2 uitbring.

2007

Mitsubishi vernuwe sy Pajero met die V80, die vierde geslag.

2008

Dis ’n bedrywige jaar met ’n tweede Jeep Cherokee, die Toyota Land Cruiser 200 en ’n tweede Mitsubishi Pajero Sport.

2009

Die Toyota Land Cruiser Prado is nou in sy derde geslag en die Land Rover Disco 4, ’n gunsteling onder tandartse, is uit. 

Ná die eeuwisseling

Suid-Afrika is gasheer vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi, en die sepie Egoli: Plek van Goud, loop ten einde. Almal praat oor klimaatsverandering, die sakeman en TV-persoonlikheid Donald Trump word die president van Amerika, en Brittanje kondig aan hy gaan padgee uit die Europese Unie. Viertrekvoertuie – veral sportnutse – was nog nooit so gewild as nou nie.

2010

Nissan se jongste Patrol, die Y62, word bekend gestel, maar Suid Afrika sal hom eers ’n paar jaar later kry.

2011

Die Jaguar-Land Rover-groep, nou onder die beheer van Tata, stel die Range Rover Evoque bekend, en dis die vierde Grand Cherokee vir Jeep.

2012

Die vierde Range Rover, die L405, ry uit die Solihull-aanleg in Brittanje.

2013

Die tweedegeslag-Range Rover Sport maak sy verskyning.

2014

Jeep se jongste produk heet die Jeep Renegade en Land Rover herdoop sy Freelander tot die Discovery Sport.

2016

Vanjaar kry Jeep sy derde Cherokee en sy tweede Compass – en dis Mitsubishi se derde Pajero Sport.

2017

Land Rover gee ’n blinknuwe voorkoms aan sy Discovery (ons mag hom nie die Disco 5 noem nie) en stel die Range Rover Velar bekend.

2018

Land Rover se tweede Evoque word bekend gestel, maar hy lyk basies dieselfde as die eerste een. En – hiert, waar kom jy vandaan! – Mercedes-Benz verras ons met ’n nuwe G-klas, wat ook maar net dieselfde lyk as die G-wagen van 40 jaar gelede. Suzuki stel sy vierde Jimny bekend en Lamborghini verras ons wéér nes met die LM002 in 1986: dié slag met sy grondpadvaardige Urus.

2019

Land Rover stel sy nuwe Defender bekend, maar nou het hy onafhanklike vering en ’n skulpraam eerder as vaste asse en ’n leerraamonderstel – tot die groot ontsteltenis van Landie-puriste.

Jeep kry ’n hofbevel teen Mahindra om die verkoop van sy Mahindra Roxor te staak. Dié lyk glo te veel soos die Jeep CJ, ’n voertuig wat in 1985 laas deur Jeep gebou is.

2020... en verder

Die geskil of klimaatsverandering ’n feit is aldan nie, kom tot ’n einde. Elektriese voertuie blyk een van die maniere te wees hoe ons die aarde kan red, en verskeie regerings beraam planne om binnebrandenjins te verbied. Voertuigmaatskappye soos Volkswagen en Volvo kondig aan dat hulle die vervaardiging van alle binnebrandenjins gaan staak.

Die elektrifisering van 4x4-voertuie begin met maatskappye soos Tesla, Rivian en Bollinger wat die voortou neem. Selfs Ford skrik wakker en bou die Mustang Mach-E, ’n hibriede sportnuts waarvoor niemand gevra het nie.

Gaan die ou 4x4-garde die paradigmaskuif oorleef? Kort vóór Kersfees 2019, toe hierdie artikel geskryf is, was daar nog geen teken van ’n elektriese Land Cruiser, Patrol óf Defender nie. Hulle sal moet gou spring as hulle nie ’n voetnota in die geskiedenisboeke wil word nie.


Nóg ’n bietjie geskiedenis

Die héél eerste veldryvoertuig was nie die Jeep nie – dié eer kom die eerste halfkruipervoertuig toe. Die Fransman Adolphe Kégresse het die halfkruiper vroeg in die twintigste eeu vir Tsaar Nikolaas die Tweede van Rusland gebou.

Dit was uiteraard nie ’n massaproduksievoertuig nie en ook nie Jan Alleman beskore nie. Veldryvoertuie is in hierdie tyd gesien as ’n oplossing vir ’n onsmaaklike aktiwiteit soos om van jou kasteel af deur diep sneeu tot by ’n treinstasie te ry. Dit was eers met die koms van die Jeep in die vroeë jare veertig dat mense begin dink het dis pret om te sukkel.

Terloops; pretdraf het eers in die jare sestig gewild geraak. Veldry is dus veel ouer as jogging!