Ek het drie jaar met ’n 2013 Mazda BT-50 3.2 4x4 gery voor ek hom met 105 000 km op die klok ingeruil het.

As my geldsake dit toelaat, verkies ek dit om met iets te ry wat nog onder waarborg is met ’n diensplan. Ek het geweet ek sou weer vir my ’n dubbelkajuitbakkie aanskaf, want hulle sleep so lekker en het baie plek vir al ons kampgoed. En dan praat ek nie eens van die kragtige enjin om al daardie bykomende gewig saam te sleep nie.

Ek het eers ’n bietjie rondgekyk en in ’n stadium ’n nuwe Nissan Navara 2.3 oorweeg omdat hulle blykbaar nie gewild is onder motordiewe nie. Ek het egter uiteindelik besluit op ’n tweedehandse 2015 Ford Ranger 3.2 TDCI 4x4 (dubbelkajuit) vir R385 000. Dit was drie jaar gelede en ek is steeds baie tevrede.

Maar as ek kon, sou ek graag nou agter die stuur van ’n BMW X5 xDrive 40d wou inskuif.

Ek het nie klagtes oor my Ranger nie. Hy het hope wringkrag (470 Nm) en ek is gaande oor sy sesspoed-handratkas. Die bakkie is stewig op die pad, met of sonder my wa op die haak. Hy raak ook nie uitasem as hy volgelaai is of wanneer ek sleep nie. As ek ’n ekstra klompie randjies gehad het, sou ek vir my ’n laaistelsel laat aanbring.

Die enigste ding wat my effens irriteer, is dat sy standaardwaarborg te kort is. Daardie vier jaar is nie voldoende vir iemand soos ek nie. Ek het maar 73 000 km gery in die drie jaar en die bakkie is nou eers vyf jaar oud.

My wiele
My wiele
My wiele
My wiele

As gevolg van sy grootte is dit ook ’n moeilike storie om elke dag met ’n dubbelkajuitbakkie te ry – ’n mens moet versigtig wees wanneer jy in smal parkeerplekke moet stilhou. Sy groot bande en swaardiensvering veroorsaak ook ’n stamperige rit, maar ’n mens is dit ten minste te wagte van ’n bakkie.

Die Ranger se brandstofverbruik hang af van die snelheid waarteen ek ry. Sonder ’n wa en teen 100 km/h het hy my al 8,5 l/ 100 km gegee, maar teen die nasionale spoedperk kyk ek na 10-11 l/100 km. As ek sleep, ry ek nie vinniger as 100 km/h nie, tensy ek iemand wil verbysteek. By die vulstasie kyk ek dan na 13,5-15 l/100 km.

Ons het voorheen ’n 1984 Jurgens Avion gesleep, maar het hom in Februarie vanjaar – kort vóór die nasionale inperking – met ’n 2015 Jurgens Penta vervang. Ons gunstelingbestemmings is die Bosfontein-woonwapark buite Bela-Bela en Klein-Paradys in die Brits-omgewing. Die eienaars van albei oorde hou hulle vinger op die pols en sien goed na hulle geriewe om.

Dit is altyd skoon.

Hoe lyk jóú wiele?
Stuur ’n e-pos na rysleep@weg.co.za en vertel ons van jou ry- en sleepding.
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook