1. A-pilaar

Dit is die voorste dakpilare, en die oorspronklike rol daarvan was om die voorruit vas te hou. Deesdae is die A-pilaar aansienlik dikker en sterker om jou en jou voorste passasier te beskerm indien jou trokkie teen ’n duin sou afrol en op sy dak beland.

2. B-pilaar

Dié pilaar is die middelste een en word dikwels óf swart geverf óf agter glas versteek, want ontwerpers voel dit versteur die vloei van hulle ontwerp. Ingenieurs hou egter van die B-pilaar, want dit hou die bakwerk stewig en is ’n gawe plek om die voorste veiligheidsgordels vas te bout.

3. C-pilaar

Dit is die agterste pilaar, die een wat gewoonlik die agterdeur van die agterruit skei. Ontwerpers gee baie aandag aan hierdie element omdat dit ’n belangrike deel van ’n voertuig se karakter is. Die Toyota FJ Cruiser se C-pilaar is moontlik die vetste een in menseheugenis en ’n belangrike kenmerk van dié ryding.

4. D-pilaar

Gewone motors en bakkies het nie ’n vierde pilaar nie – dié kry jy eintlik net op stasiewaens en sportnutsvoertuie. Net soos die B-pilaar is die meeste ontwerpers nie gaande oor dié een nie, al is dit noodsaaklik.

5. Voeglyn (joint line)

As gevolg van die kurwes kan ’n buffer en modderskerm nie uit een metaalplaat geslaan word nie. Waar die dele aan mekaar gelas word, word ’n voeglyn soms gesweis, gevul en toegeverf. Deesdae se buffers word egter van plastiek gemaak en kan dus nie aan die metaalbakwerk vasgesweis word nie.

6. Wielboog (wheel arch)

’n Wielboog is gewoonlik halfmaanvormig, maar soms – soos met die FJ Cruiser – meer hoekig. Die buiterand word soms met ’n modderskermskut afgerond wat die bakwerk beskerm.

7. Modderskermskut (fender of arch trim)

Soos jy kan aflei uit die naam, beskerm dié paneel jou motor se bakwerk teen modderspatsels, klippe en ander brokstukke. ’n Jeep Wrangler is een van die min moderne voertuie met tradisionele breë modderskerms eerder as die meer beskeie modderskermskutte.

8. Flousplaat (cheater panel)

Hierdie driehoekige paneel het twee funksies: Dis ’n gunstige plek om die syspieël te plaas, en die voorste syruite kan hier stomp eindig sodat dit nie té veel plek binne die deur opneem wanneer dit laat sak word nie.

9. Gordellyn (belt line)

Dit is die lyn direk onder die syruite. Dit strek dikwels van die enjinkap af tot by die remligte en dien as die fondament van die motorontwerp. Dit is een van die eerste lyne wat ontwerpers trek wanneer hulle pen op papier sit.

10. Karakterlyn (character line)

’n Karakterlyn is ’n vloeiende, sagte kurwe in die metaalwerk. Daar is soms meer as een karakterlyn, soos met die Renault Kadjar, terwyl dit met hoekige motors soos die Mercedes-Benz G-klas heeltemal ontbreek.

11. Ribbel (swage line)

Anders as ’n karakterlyn is ’n ribbel ’n harder knak, verhewe deel of naat wat in die lengte oor die bakwerk strek. Dit is meer as blote versiering; dit maak deure en panele sterker sodat hulle nie induik as jy teen jou voertuig leun of ’n deur hard toeklap nie. Veral BMW se ontwerpers is versot op die ribbel.

Sy naam moet eintlik vingerversapper wees, want dít is waar klein handjies vasgeknyp word.

12. Kantelstrook (cant rail)

Dit is die metaal bo die ruite waar die dak begin. Soms word die naat tussen die pilare en die dak toegesweis om die kantelstrook te versag, maar soms – soos met die nuwe Land Rover Discovery en Range Rover Velar – word dit beklemtoon. In sekere ouer sportnutsvoertuie – en die nuwe Suzuki Jimny – is daar ’n geut op die kantelstrook wat reën weglei en ’n harde rand bied waaraan jy ’n dakrak kan vasklamp.

13 Heup (haunch)

’n Voertuig se heup sit nes ’n dier s’n op sy agterlyf. Dit is die effense uitbouing bo die agterwiel. Renault hou daarvan om wulpse heupe op hulle sportnutsvoertuie te sit, terwyl Toyota se Land Cruiser 76, nes Tobie Cronje, boggerôl heupe het.

14. Kwartpaneel (quarter panel)

Hierdie paneel verrig dieselfde doel in moderne rygoed as die agterste modderskerm van ouds. Jy sal die brandstofprop hier aantref asook die C- en D-pilaar.

15. Gleuflyn (shut line)

Sy naam moet eintlik vingerversapper wees, want dít is waar klein handjies vasgeknyp word. Die gleuwe tussen die deure en die bakwerk kan ’n voertuig se voorkoms komplimenteer óf opmors, maar anders as met die meeste ander elemente in motorontwerp, is ’n gleuflyn onvermydelik. Volkswagen is bekend vir sy loodregte gleuflyne.

16. Drumpel (sill)

Wat is ’n deur sonder ’n drumpel? In ’n veldryvoertuig wat rotse uitklouter, is die drumpel dikwels vol duike – daarom is rotsglystawe om dit te beskerm onontbeerlik.

17. Oorhang (overhang)

Dit is die afstand tussen ’n wiel en die verste punt van ’n buffer. ’n Oorhang lyk lekker op ’n Ferrari, maar dit befomfaai jou veldryer se nader- en vertrekhoek. Die enigste voordeel van ’n lang oorhang op ’n sportnutsvoertuig is dat dit ’n groter frommelsone (crumple zone) bied.

18. Asafstand (wheel base)

’n Lang, slap kar soos die Range Rover Velar met sy asse wat ver uitmekaar geplaas is, lyk ongetwyfeld luuks, maar dit verlaag die oorbrughoek (breakover angle) van jou veldryer, en dié is net so belangrik as die nader- en vertrekhoek.

19. Skipkurwe (tumblehome)

’n Skipkurwe is die deel waar die bakwerk inwaarts na die middel van die voertuig ’n kurwe vorm (van voor af gesien). Dit is dikwels bo die ribbel en altyd onder die kantelstrook. Sportmotors soos die Lamborghini Aventador het ’n oordrewe skipkurwe terwyl ’n ou Land Rover Defender amper glad nie een het nie. Met voertuie wat lang dae in die son deurbring, soek jy ’n smal skipkurwe wat min sonlig binnelaat sodat jou trokkie koeler bly.

20. Kroon (crown)

Daai lyne – of nate – op die enjinkap word ’n kroon genoem. Die doel daarvan word al hoe belangriker omdat ’n enjinkap deesdae maklik moet kan induik wanneer jy ’n voetganger raakry (sodat hulle nie te ernstig beseer word nie). Die kroon hou ’n dunnerige enjinkap stewig.

21. Klipskerm (Stone tray)

Motors het jare gelede ’n metaalpaneel onder die voorbuffer gehad – onthou jy die VW Golf 1 en Mazda 323? Deesdae is

daai paneel óf nie daar nie óf dit word deur die buffer bedek. Sportnutsvoertuie behou dit egter, selfs al word dit dikwels van plastiek gemaak wat silwer geverf word.

Lere en skulpe

Die ruggraat van enige voertuig is sy onderstel. Daar is verskeie soorte onderstelle, maar die algemeenste is die leerraamonderstel (ladder frame chassis) en ’n skulpraam (unibody).

Eersgenoemde is nie genoem na die dieremateriaal waarvan jou vellies gemaak is nie, maar eerder die ding waarmee jy op jou huis se dak klim. Twee lang parallelle balke word deur dwarssparre aan mekaar verbind – hoe meer sparre, hoe stewiger die leerraam. Hierdie soort onderstel is veral geskik vir voertuie wat ’n swaar vrag dra of sleep, maar is ook gewild in veldryvoertuie omdat dit matige wringing toelaat.

’n Ander voordeel van ’n leerraamonderstel is dat jy betreklik maklik die vering, asse en selfs die bakwerk van ’n leerraamonderstel kan verwyder en aanpas. Dink aan die geraamte van ’n walvis: die hele dier hang as ’t ware aan daai ruggraat.

As ’n leerraamonderstel met ’n walvis se skelet vergelyk kan word, is ’n skulpraam meer soos ’n skilpad se dop. By ’n skulpraam is die leerraamruggraat afwesig en die vloerpan en romp vorm saam ’n strukturele eenheid.

’n Voertuig met ’n skulpraam weeg minder, is goedkoper om te vervaardig en is veiliger in ’n botsing omdat die hele bakwerk die skok help absorbeer. ’n Skulpraam kan nie soveel vrag as ’n leerraam dra nie, maar sy grootste nadeel is dat jy hom nie veel kan aanpas nie.

Die bakwerk van ’n sportnutsvoertuig met ’n skulpraam kan nie noemenswaardig gelig word nie en dis ’n reuseprojek om die vering en asse van só ’n voertuig met taaier onderdele te vervang. Voorbeelde van moderne rygoed met ’n leerraam is die nuwe Suzuki Jimny en die Jeep Wrangler, terwyl die nuwe Kia Sportage en Range Rover voorheen ’n leerraam gehad het, maar nou deur ’n skulpraam ondersteun word.