Dié Kaapse vervaardiger noem sy waens die Armadillo, en die eerste model is tipies ’n gesinswa net reg vir die Afrikabos. Fanie Botha, en sy seun Riaan staan aan die roer van sake en het nou ’n eenvoudiger wa gebou wat nommerpas is vir paartjies.

Sedert die ontstaan van padwoonwaens het boswaentjies die plaaslike mark stelselmatig oorgeneem, gevolg deur ’n goeie verskeidenheid boswoonwaens. Dié waens kos ’n klomp geld, iets wat daartoe gelei het dat ’n mens deesdae al hoe meer kleiner boswoonwaens sien – wat ook natuurlik die duik in jou sak ligter maak.

Eko Veld Gear se 25ste boswoonwa pas net mooi hier in – Fanie-hulle noem hom die Armadillo Shack. Die romp is soortgelyk aan dié van die oorspronklike Armadillo, en dit sluit die aluminiumraamwerk en afwerking in.

Juis om kamp vir ouer mense makliker te maak het die Shack nie ’n bed wat oor die A-raam uitslaan nie, maar die hele agterkant in die wa is een groot slaapplek. Buiten dat dit ’n mens moeite spaar met die bed se oopslanery, kan jy nou jou bed opmaak nog voor jy by die huis wegtrek, en sommer dadelik in die kooi spring nadat jy die aand by die kampplek opgedaag het. As die weer jou binne hou, slaan dié bed ook op tot ’n tafel met bankies.

Die deur sit links voor, en die kombuis bly in die linkerpaneel. Die yskas staan nou links van die deur in die wa – hier is genoeg plek vir een van tot 90 l. Die yskas is gemonteer.

Die opwipdak lig net bo die inklimgedeelte waar dit met skarniere aan die romp agter vas is.

Die eerste Armadillo’s het ’n buitestort wat agter op die regterhoek uitslaan, maar dié skuif nou na die agterkant toe .

Buiten die nuwe Shack het Fanie-hulle ook ’n tweede weergawe van die oorspronklike Armadillo gebou. Die Armadillo Plus is 28 cm langer, en danksy die agterdeur wat nou kant toe skuif, is daar meer ruimte in die wa. Die plek rondom die tafel met die bankies is ruimer en die hangkas groter. Fanie-hulle het wel nie aan die wenresep van die uitslaanbed getorring nie. Wanneer hy toegeslaan staan, hou dit die opwipdak toe en keer dat dit oopslaan terwyl jy sleep.

Syfers

Nie een van die twee se gewig is al presies vasgestel nie. Die Armadillo Plus se geskatte tarragewig 1 100 kg, terwyl die BVM 1 800 kg is; 4,86 (l) x 1,8 x 2,06 m (h). Die Armadillo Shack se tarragewig nog nie beskikbaar nie, maar die BVM en mates is dieselfde as die Plus s’n.

Prys

Armadillo Plus R256 500; Armadillo Shack R221 500.

Kontak

021 981 5999 of 082 898 4339; ekoveldgear.co.za