Anton se pad met ryhuisombouings loop soos ’n goue draad deur sy lewe. Met sy eerste salaris as onderwyser betaal hy op 23-jarige ouderdom die deposito op ’n 1969 Volkswagen Kombi. Die leerlinge het sy Kombi die Ambulans gedoop omdat hy rooi en wit geverf was. Sommer vroeg al word ’n bed ingebou... en die ryhuissaadjie is geplant. Dit was tyd vir ’n volgende Kombi.

Dié slag is dit ’n paneelwa wat Anton óók in ’n ryhuis omskep. Hy gebruik ’n modulêre konsep sodat die kassies maklik kan in en uit.

Daarna stel Mitsubishi ’n ryhuis bekend en Anton oorreed sy broer, Theo, om saam met hom een aan te skaf. Hulle sien ’n sakegeleentheid en besit later vyf voertuie wat hulle aan toeriste verhuur. Maar dinge loop nie heeltemal so vlot nie en hulle verkoop al die ryhuise behalwe een elk vir hulleself.

Hierdie ryhuis is betroubaar, maar lomp en stadig – en ’n pyn om in die wind te ry, sê Anton. Sy grootste achilleshiel is dat hy nie viertrek het nie. Jy is dus beperk met die soort bestemmings wat jy wil besoek.

Dit was weer sulke tyd. Anton vertel...

Ek sien ’n Iveco-4x4-paneelwa op die internet en die prys is reg. Dis nogal ’n kortasmodel en hy’t ’n Toyota Land Cruiser-onderstel met Nissan Patrol-ewenaars. Die oordraratkas is Amerikaans, die NP205-kas. Dit gee jou ’n keuse om die voorste en agterste ewenaars afsonderlik óf saam in 4x4 te haak. Daar is egter twee probleme: Die voertuig is in Pretoria, en, sou ek uitvind, as jy vinniger as 40 km/h met hom ry, ruk die stuurwiel uit jou hande.

Nietemin besluit ek om die Iveco te koop, betaal ’n deposito en vlieg solank terug huis toe. Die probleem is natuurlik hoe om die Iveco tot in die Kaap te kry, want ry gaan nie werk nie. Ek is gelukkig, want Carel van Niekerk van Piket-ingenieurswerke hoor van my dilemma en sê hy het plek op ’n vragmotor van hom wat op pad terug is uit die noorde.

BASTA MET DIE LELIKE EENDJIE. ’n Mens kan beswaarlik die gedaanteverwisseling glo: In die plek van die ou Iveco-paneelwa staan hier nou ’n swierige ryhuis. Natuurlik gebeur dit nie vanself nie; na dese gee Anton ’n nuwe betekenis aan die woord uithouvermoë.

Nou is ek behoorlik bankrot en kan vir eers nie nog geld op die Iveco uitgee nie. Dit gee my darem tyd om op die internet ’n oplossing te probeer kry vir die stuurprobleem. Ek kry nie die antwoord wat ek soek nie en nader vir Mic van Zyl van Ironman en Johann Viljoen (of sommer Johann Tyres, soos almal hom ken) van 1st Alignment Centre om raad. Ek het selfs ’n kenner van renmotoronderstelle genader, en besluit ek weet nou genoeg om al die raad bymekaar te gooi.

In die geheel moet ek die voorste deel van die onderstel verander. Nie net die stuurmeganisme se boks moet skuif nie, maar ook al die stuurarms en hulle swaaipunte. Verder moet 10 mm-staalplate aan die leerraamonderstel vasgesweis word en die voorste ewenaar moet skuif. Die stuur se nukke kom tot ’n einde; nou vir die binnekant.

NÁ SES MAANDE se boer op YouTube om raad te soek is ek gereed. Maar ek het ’n paar beginsels waarby ek moet hou.

TIMMERTYD. Die kombuisteëls kom vas met silikoon; die aanvanklike kaste word eers uit plankies en karton gebou..

Eerstens, die gewig: Dit moet so laag as moontlik gehou word. Al die swaar goed in die Iveco moet ook so laag as moontlik gemonteer word. Byvoorbeeld: Pleks daarvan om swaar staalkoeëllaer-laaimegansimes te gebruik, gebruik eerder Teflon-materiaal. Dis lig en ongelooflik sterk. Die binne-afwerking van die ryhuis moet van aluminium en veselglas wees.

Tweedens moet die ruimte op die beste manier benut word. Hoe meer nut iets het, hoe beter. Sorg volgende vir ordentlike insolering teen koue en hitte – dit beteken ook minder geraas in die ryhuis. En ’n gerieflike bed is ’n moet – én een vir elk van my tweelingdogters, Anicia en Rencia. Hulle is al uit die skool, maar soms kamp hulle saam.

Die uitleg moet van so ’n aard wees dat alles maklik bereikbaar is, maar ook waar dit hoort – byvoorbeeld kombuisgoed bymekaar en slaapkamergoed waar jy slaap. Ek wil nie sukkel met alles wat in trommels weggepak is nie. Niks mag rondrol nie, en ek soek ook nie ’n getjierietjierie nie. Hiervoor sou ek omtrent die hele binnekant met rubber uitvoer vóór enige van die binnegoed vasgesit is.

Hy kry ’n toilet en stort vir die kere wanneer ons diep in die bosse kamp, en laastens – net ingeval – moet die Iveco in ’n skeepshouer pas.

Die houtmuurpanele word met ’n aluminiummateriaal vervang; die kartonkombuiskaste pas solank alles mooi netjies in; die veselglaskombuiskaste is met ’n plastieklaag oorgetrek met ’n houtmotief daarop – die geiser sit hier mooi weggesteek en die mikrogolfoond langs dit; diesirkelsaag werk oortyd.
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

DIE EERSTE STAP is om ’n TIG-sweismasjien aan te skaf sodat ek aluminium kan sweis. Weer is YouTube my leermeester. Toevallig wil die eienaar van my plaaslike kuierplek op dieselfde tyd ontslae raak van sy veselglaskroegtoonbanke en ek sien ’n meubelgeleentheid vir my nuwe ryhuis.

Ek ry alles aan en pak die agterplaas toe onder die toonbanke. Wat gereedskap betref, het ek die hele projek met net basiese gereedskap aangepak: ’n sirkelsaag, boor, figuursaag en hoekslyper.

Ek prakseer sommer my eie banksaag deur die sirkelsaag onderstebo in ’n houtkissie te monteer.

Die hele bouproses is in my motoroprit gedoen want die Iveco pas nie in die motorhuis nie.

Dis tyd om weg te spring met die isolering. Die belangrikste is om die regte materiaal op te spoor, maar ek kry iets wat sal werk – dit kom in 10 m-rolle en is soortgelyk aan die isoleermateriaal wat ’n mens rondom lugreëlingpype sien. Dis veerlig, hou die Iveco koel en dis net so doeltreffend vir klankisolering. Ek gebruik uiteindelik drie van dié rolle vir die ses lae isolering en kry dit reg om die geraasvlak teen 100 km/h van 76 dB tot 64 dB te verminder. Hierdie materiaal kom oral; selfs die ys- en vrieskas kry elkeen ’n laag.

Die binnemure en vensters is volgende aan die beurt. Ek besluit op glas, want dis bekostigbaar en krap nie so maklik soos Perspex-vensters nie. Ek laat maak dit spesiaal sodat dit heeltemal uit die pad kan sak. Aan die kant is ’n kleiner venstertjie waardeur my kamera se groot lens pas.

Ek lig die vloer met ’n duim omdat daardie ruimte nie net goed is vir isolasie nie, maar ook plek vorm vir die bedrading – mooi buite sig. Ek gebruik van dieselfde plastiekpyp wat ’n mens in jou huis se bedrading kry om die drade te beskerm, en merk duidelik waarheen wat loop sodat ek maklik ’n moontlike fout kan herstel.

SWAAR DRA AL AAN DIE BOKANT. Die dakrak pas bo die kajuit en was ook eers van karton voordat Anton die finale een gebou het. Die rak self bestaan net uit aluminium en veselglas.

Ek spring aanvanklik weg met hout vir die kaste, maar besluit vinnig dit werk nie. Ek pluk dit uit en vervang dit met veselglas. Ek gebruik ’n spesiale aluminiumproduk vir die mure en panele. Dis ’n plastieklaag tussen twee aluminiumlae. Hierdie materiaal is ook in verskillende kleure beskikbaar. (Dit is ’n goeie plan om die kaste eers van boks en plankies te bou.

Ek het eers só gaan kamp om te kyk of alles pas en werk soos dit moet, en moes sowaar ’n ding of wat verander.) Al lyk dit of die kaste ’n houtafwerking het, is dit die veselglastoonbanke wat met ’n plastieklaag met ’n houtmotief oorgetrek is.

Die LED-strookligte loop al op die rand van die vloer en dak. Moenie dit soos ek direk teenaan die aluminium vassit nie. Met ’n reis na Namibië het al die klinknaels in die aluminium die ligte deurgeskaaf en hulle wou nie meer werk soos hulle moet nie. Plak eers ’n rubberlagie.

By die skuifdeur kom twee sitplekke langs mekaar. Ek maak hulle aanvanklik te hoog, maar die tweeling kla hulle voete raak nie gemaklik die grond nie.

DIE EERSTE TWEE items wat ’n mens by die kampplek uithaal, is die kamptafel en -stoele, en daarom het ek bo die bestuurder en sy passasier ’n rak spesiaal vir die stoele ingerig. Die bêreplek vir albei my kamptafels asook ’n kleiner een kom by die passasiersdeur. Die induksieplaat kry sy eie kas by die stert met sy eie deurtjie.

Vir die sonpanele, omsetters en ander kragtoerusting moes ek weer raad vra. Jos Hartog van HBC Systems het mooi vir my verduidelik wat om te doen. Die twee 105 Ah-diepsiklusbatterye staan nou onder die voorsitplekke – ek moes in elk geval die basisse aanpas – en is gekoppel aan 300 W se sonpanele op die dak.

Die sitplekke self het ek op die internet opgespoor. Dis van die omswaaisoort wat jy sommer na binne kan draai en dan sit jy in jou sitkamer. Terloops, terwyl ek die sitplekke se basisse aangepas het, het ek hulle ook effens verder van mekaar geskuif sodat my 40 l-vrieskas in die ruimte kan pas. Dit was nogal ’n storie, want die handrem én rathefboom moes skuif. Dit is ook ’n goeie plek vir swaar items soos die batterye, wat so na as moontlik aan die voorwiele moet wees.

Die Australiese Projecta MPPT-reguleerder hou sake hier dop. Met hierdie stelsel is jy wat elektrisiteit betref, heeltemal selfversorgend.

Die wasbak trek onder die boonste blad uit; vir 2 mense slaap jy in die lengte van die Iveco, vir 4 lig die bed tot toonbankhoogte en almal slaap dwars; die bed is ook ’n  bank; die voorsitplekke is omgedraai en jy kan deur die gaas aan die bokant sien.

My warmwaterstelsel is besonders. Die elektriese 10 l-geiser met sy temperatuurreguleerder prop by die omskakelaar in en kan werk terwyl jy ry – as jy by die kampplek opdaag, kan jy dit dan daar inprop. Die water word vinnig warm; ná 15 minute kan jy stort. As jy dan die warmkraan oopmaak, is die water se temperatuur nét reg en jy kan met net 4 l water stort.

Die watertenks is twee deurskynende 25 l-plastiekkanne. Hulle staan by die agterdeur en jy kan maklik sien hoeveel water is oor. Die bottels is boonop só geplaas dat jy hulle maklik langs ’n rivier kan volmaak.

Die vloer by die skuifdeur en voor die tweede ry sitplekke is ook ’n versteekte stortvloer. ’n Stortgordyn hou dinge privaat en jy kan dit van kant tot kant agter die voorsitplekke span om die hele binnekant privaat te maak. Die kassettoilet trek onder die verste sitplek uit.

Die dak moes afkom vir die opwipdak, en ook hier het ek ’n les geleer. Ek besluit die dak moet hidroulies lig, maar iewers maak ek ’n fout en die dak skiet soos ’n vuurpyl af. Nou is dit oor na die konvensionele manier en ek gebruik vier gasstutte. Die dak kan na enige kant toe oopmaak sodat dit die son kan “volg”.

Ek sou nie gaas tussen die dak en romp van die Iveco gebruik nie, want ek is mal oor die oop gevoel. Maar apies by Augrabies en bobbejane by Citrusdal het my anders laat besluit. Nou het ek eenrigting-gaasmateriaal in wat eintlik vir blindings gebruik word. Dus het ek my privaatheid én ’n vars luggie wat deur die binneruim kan trek.

Die Iveco het twee 75 l-dieseltenks wat van albei kante af volgemaak kan word. Ek het nog nie die moed gehad om albei gelyktydig vol te maak nie, want ek sidder om te dink hoeveel dit gaan kos. ’n Mens wil ook nie onnodige gewig saamry nie – behalwe nou as jy bekommerd is oor die reikafstand.

WANNEER ’N MENS so ’n projek aanpak, is daar noodsaaklike dienste wat jy gaan nodig kry. Omtrent al my metaalbuigwerk is by Unmet in Beaconvale gedoen – ek het kartonuitknipsels as voorbeelde saamgeneem.

’n Stoffeerder is nodig vir die sitplekke, want dit moet tog nie lyk of jou sitplekke met kussingslope oorgetrek is nie. Rowan Arendse van RA-stoffeerders verdien ’n medalje vir sy geduld.

Dankie aan die goeie diens van Barkocel (invoerders van U-pol) vir die Raptor-laag wat hulle voorsien het – sonder Theo Mullins se tegniese leiding sou ek verlore wees. (Raptor is ’n nuwe manier om jou voertuig te spuitverf – anders as gewone spuitverf, wat makliker krap, is die Raptor-beskermlaag krapvry én dis roeswerend.)

Gideon Chinyama by Super Auto Paints het gehelp om die Iveco se verf te meng. ’n Mens is nie eintlik veronderstel om die Raptor-verf met metaalkleurverf te meng nie, want dan sukkel jy jou dood om die kleur 100% reg te kry. Spaar jouself ’n klomp moeite en kies eerder ’n doodgewone kleur.

NA DESE is ek tevrede met die uitleg en die Iveco gedra hom goed. Renda hoef nie meer die voertuig aan die brand te stoot soos wat nodig was met die Ambulans op ons wittebrood nie.

Onthou, so ’n projek kom wel teen ’n prys. Renda was amper twee jaar manloos, ek moes al die ure ná werk insit... en kanselleer sommer nou al al jou naweke. Gaan ook kyk na my YouTube-video (soek “overlandervanman”) waar ek die bouproses in sy geheel vasgelê het.

Kamptyd.
WEN
Anton wen ‘na Camp Cover Bundu-sak ter warde van R400. Dié veeldoelige sak is só ontwerp dat jy hom as ’n noodhulptas óf smuktas kan gebruik. Gaan kyk na Camp Cover se beskermende oortreksels op die webwerf campcover.co.za.