foto’s Leon Botha

Audi se Q8 is die nuutste toevoeging tot die vervaardiger se sportnutsreeks. Soos te verwagte is dit ’n weelderige nutsvoertuig, maar Audi het die Q8 wel met ’n sleepstang toegerus.

Verder maak Audi die keuse tussen die Q8-modelle ook maklik, want daar is net ’n petrol- en dieselmodel. Albei het hope krag (500 Nm vir die petrol; 600 Nm vir die diesel) en is toegerus met Audi se befaamde quattro-aandrywing. Die petrolmodel se top- spoed is 30 km/h vinniger (250 km/h) as dié van sy dieselbroer en is teen R1 388 000 ook R51 000 goedkoper. Ons klim in dié model en haak ’n Gypsey.

Lyk haastig

Die oorgroot 22”-siervellings hoort omtrent op ’n Italiaanse sportmotor, maar hulle is ewe tuis op die Q8. En hoewel jy nie regtig sulke haastige wiele met woonwasleep vereenselwig nie, kruip daar tog agter die Q8 se buffer ’n elektriese sleepstang weg. Die stang is nie die soort wat ’n mens gereeld sien waar die basis van stang roteer om die bolgedeelte verby die buffer te swaai nie.

Die sleepstang kom van Westfalia en die stangarm sak reguit af tot die bol effens verby die buffer staan en dan uitswaai. Om die stang uit te swaai druk jy die knoppie links agter in die bagasiebak, wat ook met die druk van ’n knoppie oop- en toemaak. Hier is in der waarheid twee knoppies – die een om die stang uit te swaai en die ander om dit weer te laat terugvou. Dit neem 13 sekondes om heeltemal uit te slaan.

Die ligtesok sit links in die skaggedeelte van die stang, en soos wat ’n mens deesdae sien, het die stang ook ’n spesiale passtuk sodat plaaslike woonwaens se ligteprop hierin pas. Die stang kan wel nie wegvou met die passtuk in plek nie. Vir die terugslaan neem dit dieselfde tyd as die uitslaan.

Klim in jou vliegpak

Die kajuit lyk soos dié van ’n private straler. Wanneer jy die deur oopmaak, skyn die vier sirkels van die Audi-embleem onder die deur op die grond, iets wat jou aanvanklik effens onkant betrap.

Voor die rathefboom het die Q8 twee digitale skerms waarvan die gesig omtrent na die middelpunt van die dak wys. Die instrumentepaneel agter die stuur is ook digitaal en hierop kan jy onder meer die navigasiekaart tussen die elektroniese odometers sien (dié skerm is, vreemd genoeg, nié gekantel nie).

Dan het die Q8 ook die sogenaamde Heads-up Display wat die elektroniese spoedlesing teen die windskerm voor jou wys sodat jy deurentyd ’n oog op die snelheid kan hou sonder om af te kyk na die instrumente.

Wanneer jy die Q8 in trurat sit, word die beeld agter die kar op die boonste van die middelste skerms vertoon. Wanneer jy naby die koppelstuk van die woonwa kom, kan jy selfs die Trailer View-knoppie op die skerm kies wat ’n blou driehoek – met die skerp punt op die stang – na agter projekteer.

Die geel lyn hierbinne is die hoek waarteen die stuur gedraai staan, en só kan jy met presies die regte hoek tot teen die koppelstuk terugstoot. Die skerm wys nie net die baan waarheen jy terugstoot nie, maar kan ook die baan voor die kar wys as jy vorentoe trek.

Wat die stelsel nóg meer besonders maak, is dat dit ook die trajek van die agterwiele wys. Dit is ’n gawe kenmerk en van groot hulp. As jy byvoorbeeld terugstoot en die stuur draai, volg jou voorwiele ’n wyer baan as die agterstes. Dit is dan dat jy teen die kraan vasry wat jy nie langs jou gesien het nie. Met hierdie trukamerastelsel kan jy presies sien waar die wiele loop.

Nadat jy die wa gehaak het en weer die voertuig aanskakel, wys die rekenaar die Towing-modus is geaktiveer en van die Side Assist-hulpmiddels – soos baanbeheer en die blindekolsensors – is nie meer beskikbaar nie.

Die navigasiestelsel is op die onderste van die twee skerms en spog met ’n nuwigheid: Die skerm verander in ’n skryfbord sodat jy sommer met jou vinger kan skryf pleks daarvan om jou bestemming in te sleutel. Die rekenaar lees die skrif en gee dan ’n lys van moontlike bestemmings.

Vingers
Skryf met jou vinger

Net nadat jy weggetrek het, trek die gordel oor jou skouer stywer, en dit voel amper asof iemand van agter help. Interessant genoeg deaktiveer die rekenaar nie die enjin se outomatiese afskakelfunksie wanneer jy die woonwa haak nie. (Sommige vervaardigers beveel aan jy skakel dié modus af sodra jy sleep.) Wanneer jy stilhou en afskakel, skuif jou sitplek outomaties agtertoe en die stuurwiel lig ’n ent op sodat jy gemaklik kan uitklim.

Teen 17,9 l/100 km (5,6 km/l) betaal jy dubbel en dwars vir al die spoed, gerief en krag. Maar in ’n weeldewa soos dié is dit waaroor dit gaan – brandstofverbruik is ’n bysaak. 

Pieter Crous, ons woonwasleepkenner, sê sy sê.
Pieter Crous, ons woonwasleepkenner, sê sy sê.

Die stuurkajuit is seker een van die mooistes wat ek nóg gesien het, maar ongelukkig pla al die vingermerke op die rekenaarskerms my. Dis natuurlik omdat ’n mens alles van die lugreëling tot die radio hierop beheer. Wanneer jy ’n verstelling wil maak, moet jy noodgedwonge ook eers na die skerm kyk om te sien waar jou vinger moet wees.

Sommige motors het ’n stelknop tussen die sitplekke wat jy kan draai om die keuses op die skerm te maak, en dít werk vir my beter. Dis wanneer jy wegtrek dat jy besef krag is ’n groot bate van die Q8. Trouens, die Q8 sleep só gemaklik dis net as jy in die truspieël kyk dat jy onthou jy het ’n woonwa op die haak.

Teen 120 km/h sleep die kar soos ’n droom. Die spoedmeter is lekker akkuraat en wys net 2 km/h vinniger as die GPS 100 km/h wys. Die kar se 80-120 km/h-versnelling met ’n woonwa is indrukwekkend. In die Drive-modus en op ’n gelyk pad draai die enjin teen 1 200 r.p.m. in agste rat en jy ry teen 80 km/h.

As jy die versneller wegtrap, trap jy omtrent ’n storm raak, want dit neem net 7,845 s om tot 120 km/h te versnel. Die ratkas skakel van agste rat direk oor na derde en die toere klim tot teen die rooi. As jy die aandrywing na Sport oorskakel, is dit ’n ander storie.

Op 80 km/h hou die ratkas die toere effens hoër (2 500 r.p.m. en vyfde rat), maar hy versnel ’n sekonde vinniger tot by 120 km/h: 6,63 s. Wanneer jy die ratkas oorskakel sodat jy self met die spane agter die stuur die ratte kies, besef ’n mens die rekenaar vaar nie te sleg in Sport nie; my poging was 6,83 s. (Ek het teen 80 km/h derde rat gekies met die toere op 4 000 r.p.m.)

Die twee modusse reageer ook effens anders wanneer jy die versneller wegtrap. In Drive neem dit so ’n oomblik of twee vóór die sessilinder met mening inklim. In Sport is die Q8 egter net so wakker soos jy en dis asof die uitlaatstelsel so ’n lekker blaf bykry. Die Q8 voel verder besonder breed, en jy sien selfs gemaklik in die truspieëls verby ’n padwoonwa. Die stuurwiel draai baie maklik vir ’n voertuig van dié grootte. Stadig ook met die remme, want as jy trap, dan vát hy.

In karre soos dié waar die boonste deurraam ontbreek, hoor ’n mens gewoonlik meer windgeraas, maar in die Q8 is dit glad nie die geval nie.

Die vering is werklik puik, selfs al sleep jy. Dit voel behoorlik of die Q8 oor die pad sweef, asof die wiele nie eens aan die teer raak nie. Ek hou van die spoedbeheer wat, net soos die flikkerligte, ’n eie armpie het. Dit vorm dus nie deel van die stelknoppies op die stuurwiel nie.

Die breë kop van die rathefboom vat ook lekker vas, en die ruitknoppies is by jou vingerpunte wanneer jou arm op die deurleuning rus. ’n Mens sien ten alle tye in die instrumentepaneel voor jou in watter rat die kar is – iets wat nie alle outomatiese voertuie het nie. Boonop sien jy of die ratkas in Drive (D), Sport (S) of handrat (M) is.

Weg Ry en Sleep sê
As die stabiliteitsbeheer woonwaswaai bespeur teen ’n snelheid vinniger as 65 km/h – en as dié beweging ’n invloed op die kar gaan hê – sal die Q8 outomaties rem.
Sleeptoets
Mededingers
SPESIFIKASIES

Model: 55 TFSI quattro Tiptronic

Enjin: 2 967 cc

Krag: 250 kW

Wringkrag: 500 Nm

Ratkas: 8 spoed-outomaties

Aandrywing: Heeltyds allewiel

Tenk: 85 l

Brandstofverbruik met woonwa: 17,9 l/100 km (5,6 km/l)

Reikafstand met woonwa: 476 km

Tarragewig: 2 090 kg

Gewig tydens toets (neusgewig van wa ingesluit): 2 480 kg

BVM: 2 815 kg

BKM: 6 315 kg

Sleepvermoë: 3 500 kg

Kombinsasiemassa tydens toets: 3 600 kg

Sleepstang se maksimumtrekgewig: D-waarde 16,6 kN (1 693 kg)

Sleepstang se maksimum-vertikale gewig: 140 kg

Is die stang verwyderbaar? Nee

Is daar plek vir ’n sakplaat? Nee

PRYS: (standaard) R1 388 000

PRYS: (soos getoets, wat die stang teen R16 260 insluit) R1 613 227