Dan soek jy iets soos Volkswagen se kragtigste dubbelkajuit nóg, die nuwe 190 kW-Amarok, wat Pierre Steyn onlangs in Oman gery het.

Onthou jy nog hoe laaities op laerskool “Barney! Barney!” gedreunsing het as twee swaargewigte mekaar gedurende pouse wou opdons omdat die een vir die ander se meisie ’n roos vir Valentynsdag gegee het? Plaaslik hou ons van “Bakkie-Barneys”. Dis gewoonlik ’n karategeveg tussen die Japannese waar die Toyota Hilux die Nissan Navara aanvat, of dis Pearl Harbour met die Hilux wat teen die Amerikaanse Ford Ranger vuisslaan.

Maar nou broei daar ’n nuwe soort Barney aan die bokant van die prysspektrum.

Dink aan twee Duitse adellikes wat mekaar in ’n tweegeveg met die swaard uitdaag. Dis Stuttgart teen Wolfsburg: Mercedes-Benz se splinternuwe X-klas teen die effe meer gevestigde Volkswagen Amarok.

Die duurste X-klas, die X250d 4x4 Power met ’n outomatiese ratkas, kos reeds ’n allemintige R819 000. ’n Nog kragtiger (en nog duurder) X350d met ’n V6 wat 190 kW uitskop en wringkrag van 550 Nm het, word later vanjaar hier bekend gestel. Dit sal dan die duurste en kragtigste bakkie in Suid-Afrika wees.

Volkswagen, wat hard moes werk om mense te oortuig dat ’n luukse bakkie ook ’n werkesel kan wees in die geharde Suid-Afrikaanse landskap, gaan nie sommer toelaat dat sy landgenoot hom met die lem looi nie.

In 2019 gaan Volkswagen dus sy eie 190 kW-V6-Amarok hier verkoop. En dié een se wringkrag gaan 30 Nm meer wees as die Merc s’n. Is dit ’n mittelfinger wat Wolfsburg daar by die Amarok se venster rondwaai soos hy Stuttgart op die autobahn verbysteek?

Dit lyk nogal so, veral nadat ons drie dae in die Amarok deur een van die oudste en ongenaakbaarste landskappe op aarde gereis het. Oman is ’n ylbevolkte land wat grens aan Saudi-Arabië en Jemen in die weste terwyl sy ooskus die ingang na die Persiese Golf bewaak.

Muskat, die hoofstad waar ons reis begin, is terselfdertyd antiek en modern, maar jy verlaat vinnig die beskawing as jy van die hoofpaaie afdraai en die steil bergpaadjies begin klim op pad na die woestyn.

Die opeenvolgende bergreekse laat my nogal aan die Richtersveld dink, en op die eerste dag klim ons meer as 2 000 m van die kus af tot bo-op die Salma-plato waar ons die aand in die Hajjar-gebergte kamp. Oral om ons is keëlvormige klipstrukture, die bekende Kibaykib-torings wat na raming meer as 3 000 jaar gelede gebou maar eers 20 jaar gelede opgeteken is. Daar is nou nog nie sekerheid of dit graftombes is en of dit met antieke sterrekunde verband hou nie. Hoe ook al, dit skep ’n dramatiese agtergrond vir die donderstorm wat later die aand oor ons tente losbars.

“Dis mos hoekom ’n mens ’n 4x4 koop. Sodat jy sulke plekke kan besoek en onvergeetlike dinge kan beleef,” dink ek toe die weerlig in die verte ’n kliprant tref en dit sekondes lank in die donker oranje gloei.

Die volgende dag reis ons suidwaarts, en net anderkant die dorpie Bidiyah ry ons die woestyn binne. Dit voel vir my ek is in die Namib, maar hier is dit kamele pleks van gemsbokke wat jou uit die duine beloer. Maar wag... Wraggies, dis ’n Arabiese gemsbok, net kleiner as ons s’n en spierwit.

Op ons laaste dag, ná twee dae en 800 km se bergpaaie en duine, vat ons weer die hoofpad terug Muskat toe. Ek gaan nooit weer kla oor ons verkeerskameras nie, want dit smaak my hier is elke 500 m van die 400 km ’n lens wat vir jou loer.

"Maar wanneer die pad rof raak of hy moet ’n vrag dra, skud hy sy snyerspak af en trek hy ’n 'overall' aan om die werk gedoen te kry..."

En die Amarok? Dis ’n indrukwekkende masjien wat ’n balans skep tussen luuksheid, gemak, funksionaliteit en gehardheid. Die Volkswagen ry soos ’n gesinsmotor en hy’t elke tegnologiese katoeter wat jy in ’n moderne motor verlang. Maar wanneer die pad rof raak of hy moet ’n vrag dra, skud hy sy snyerspak af en trek hy ’n overall aan om die werk gedoen te kry danksy daai 3,0 liter-V6 gekoppel aan ’n agtspoed- outomatiese ratkas.

Die bakkie ry maklik, en met die 190 kW-weergawe wat hierheen op pad is, gaan Volkswagen dit so moeilik as moontlik vir Mercedes maak om markaandeel te steel.