Jurie se vroegste kampherinneringe was van sy pa, Johan, wat op ’n Vrydagmiddag by die huis kom van die werk af.

Die twee van hulle sou ’n tweemantent, twee slaapsakke, twee sakkies hout, vleis en ’n liter Coke in die duinebesie laai en in die pad val. Wanneer hulle by die see aankom, sou hulle kilometers langs die strand ry op soek na ’n plek om kamp op te slaan. Daar sou hulle hengel en kamp sonder enige mense naby hulle. Die eenvoud van daardie kampnagte sal hom altyd bybly, vertel Jurie.

Die probleem

Ek is ’n buitelewe-entoesias en ek geniet aktiwiteite soos kunsvlieghengel, om in die natuur te hardloop, driekamp en branderry. Die afgelope klompie jare het ek op verskeie maniere probeer kamp, maar die probleem was altyd dat dit op een of ander manier by my buitelewe-aktiwiteite ingemeng het.

’n Tent was baie jare my enigste opsie, maar dit vat so lank om die tent en die res van die kamp op te slaan dat ek nie genoeg tyd kry om die buitelewe te geniet nie. Nóg ’n faktor was hoe ongemaklik ek slaap, veral as ek baie moeg is. En dan was daar die kere wanneer ek in die reën of sterk wind gekamp het en meer as een keer op my kar se agtersitplek moes gaan skuiling soek.

BEPLANNING IS ALS. Toe Jurie besluit om self sy teardrop-waentjie te bou, het hy besef hy gaan alles haarfyn moet beplan. Hy het die waentjie in die fynste detail op sy rekenaar ontwerp – eers tweedimensioneel en toe in ’n driedimensionele program. Daarna het hy eers met die bouproses begin. Hy het nie oor een ding geraai nie.

’n Klompie jare gelede koop ek toe vir my ’n klein 1974-model Gypsey 1 in die hoop dat dit die einde van my probleme sou beteken. Dit het in ’n mate beter gegaan, maar was ook nie sonder uitdagings nie. Dit was steeds ’n kopseer om alleen kamp op te slaan, en ’n ander groot probleem met ’n woonwa is die hulp wat jy nodig het om hom rond te skuif.

Voeg daarby die swak brandstofverbruik en ’n ewige gesukkel om ’n kampplek te kry wat aan al my vereistes voldoen, en kort voor lank het ek twee keer per jaar gaan kamp pleks van twee keer per maand.

Die oplossing

Ek het hierdie ongelooflike klein woonwaentjie al hoe meer op sosiale media gesien en besluit om ’n bietjie navorsing te doen. Dit is ’n teardrop camper en is die moderne weergawe van ’n klassieke selfbouwoonwa uit die jare dertig en veertig. Ek het gesien die teardrop kry veral groot aftrek in Amerika – en begin besef dit mag dalk net die waentjie wees vir my.

Daar was egter nóg ’n probleem: Die wa waarvan ek hou, word nie in Suid-Afrika verkoop nie. As ek een wou hê, sou ek hom self moes bou. Ek het besluit: ’Hoekom nie?’ Ek het ’n sterk agtergrond in argitektuur.

Daar was egter nóg ’n probleem: Die wa waarvan ek hou, word nie in Suid-Afrika verkoop nie.

Ek het my studie in 1999 voltooi en staan sedertdien aan die hoof van my eie argitektuurspraktyk. Omdat ek nog nooit vantevore só iets gebou het nie, het ek besluit om dit op dieselfde manier te benader as enige argitekprojek.

Ek sou alles ordentlik navors, presies vasstel watter vaardighede en ambagte betrokke is en die hele projek tot op die letter beplan. Gelukkig vir my lewe ons in ’n era waar jy op webwerwe, soos YouTube, om hulp kan aanklop. Daar is verskeie videogrepe beskikbaar van mense wat self ’n teardrop-waentjie gebou het wat raad uitdeel, en ek het gereeld van hierdie nuttige hulpbron gebruik gemaak.

Die metode wat ek vir die ontwerp van my waentjie gebruik het, staan in die motorbedryf bekend as “van die vel af inwaarts” (oftewel “from the skin in”). Jy begin basies met die vorm van die voertuig en werk van daar af terug na die struktuur toe. My eerste taak was om ’n vorm te kry waarvan ek regtig hou.

Ek het dié vorm in tweedimensionele CAD-rekenaarsagteware geskep. Van hier af het ek dit oorgeplaas na ’n driedimensionele program met die naam Sketchup en toe begin om die struktuur uit te pluis. Dit was vir my belangrik om die hele waentjie eers met die driedimensionele sagteware te “bou” om seker te maak ek weet presies hoe alles inmekaarsteek.

Ek wou nie later enige verrassings hê nie. Ek kan nie genoeg benadruk hoe belangrik dit is nie: As jy ’n projek suksesvol wil voltooi, kan jy nie met die bouslag met die blote oog skat soos jy aangaan nie.

Jy gaan ernstige probleme teëkom – en dit gaan wys op die eindproduk. As jou beplanning gebrekkig is, is mislukking jou voorland. En as jy die koste van die materiaal in ag neem, is mislukking nie regtig ’n opsie nie.

Só bou ek hom

SELFDOENPROJEK. Jurie het besluit om die waentjie net te bou met materiaal wat hy by sy plaaslike ysterwarewinkel kon koop. Die enigste ding waarmee hy gesukkel het was om die laaghout te buig.

Ek moet eerstens sê ek is nie een van daardie ouens wat oor naweke in sy motorhuis allerhande dinge bou nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie: Ek is redelik handig wanneer dit by selfbouprojekte kom, maar die laaste keer wat ek met hout gewerk het, was 23 jaar gelede toe ek in matriek was.

Ek verkies om my vrye tyd in die natuur deur te bring. Om dié rede besit ek ook nie baie gereedskap nie. Al wat ek het, is ’n draaisaag (wat ek in ’n tafelsaag omskep het deur die skakelaar met ’n kabelstrop vas te trek), ’n figuursaag wat ek 10 jaar terug by Checkers gekoop het, ’n boormasjien en ’n verdiepskaaf wat my pa al sedert my skooljare besit. Dit was dit. En as ek nou terugkyk, is dit al wat ek nodig gehad het.

Die bou van die wa het sonder veel drama verloop, iets wat ek aan goeie beplanning toeskryf. Ek was in staat om die teardrop op my eie te bou en die enigste ding waarmee ek retig gesukkel het, was om die onderste dele van die laaghout te buig.

Dit was van die begin af my idee om net materiaal te gebruik wat ek by ons plaaslike ysterwarewinkel kon koop. Jy het egter buigsame laaghout vir dié projek nodig en volgende keer sal ek dit beslis bestel.

Die bou van die wa het sonder veel drama verloop, iets wat ek aan goeie beplanning toeskryf.

Die onderstel wat ek ontwerp het, het ek by ’n geregistreerde beroepswabouer laat maak en die deure is deur ’n spesialis gebou – ek het gevoel dis iets waarmee ’n mens nie kanse waag nie.

Die ventilasieopening in die dak is een wat in ryhuise gebruik word en ek het hom sommer van die rak af gekoop. Ek het die waentjie aan die buitekant met ’n laag aluminium afgerond wat ek met ’n sterk epoksigom geplak en toe self gesny het.

Die binnemure en vloer is ook van laaghout wat ek met vernis behandel het.

Ek het ’n dubbelbedsponsmatras gekoop, maar omdat die wa net-net kleiner as dié grootte is, moes ek 100 mm in die lengte van die matras afsny. Aan die bokant van die waentjie het ek twee kaste gebou. Die een het ek in ons kombuis omskep en die ander een is pakplek vir ons klere.

Die kort en die lank

BLINKWAENTJIE. Jurie het die wa aan die buitekant met aluminium afgewerk wat hy met epoksigom aan die bakwerk geplak het. Die binnekantste afwerking is van laaghout wat hy met vernis behandel het. Die waentjie was uiteindelik klaar en het ’n naam nodig gehad. Jurie het op Scotti B besluit - ’n woordspeling op ’n biscotti.

My teardrop weeg 440 kg – die onderstel 140 kg en die bakwerk 300 kg. Hy het ’n neusgewig van 66 kg, maar met die volgende een gaan ek mik om dit nader aan 40 kg te kry. Ek het ’n bietjie ruimte om die as vorentoe te skuif, maar ek gaan ook mooi moet kyk na die posisionering van die wiele en deure.

Maar dié waentjie sleep soos ’n droom. Ek het in die omgewing van R45 000 vir die materiaal betaal en wat grootte betref, het ek doelbewus by die afmetings van die standaardgrootte vir laaghout (2 400 x 1 200 mm) gehou.

Die bakwerk is dus 2 400 mm lank, 1 200 mm hoog en in die binneruim is hy 1 200 mm breed – omtrent so groot soos ’n dubbelbed. Ek het ook vir hom 14”-bande opgesit vir wanneer ek die teerpad vir grondpad wil verruil.

Ek het eendag in ’n koffiewinkel gesit en besef daardie biscotti wat jy saam met jou cappuccino kry, het dieselfde vorm as my teardrop. En net daar besluit ek om die naam om te swaai en ek doop my waentjie Scotti B.

Kom ons kamp!

Ek is bly om te sê my teardrop het aan elke denkbare verwagting voldoen en is alles wat ek in my ‘haak aan en ry’-waentjie wil hê. Sy grondvryhoogte en 14”-bande stel my in staat om te ry waar konvensionele woonwaens dit nie kan waag nie.

Ek haak hom maklik aan en af en stoot hom eiehandig waar ek hom wil hê – en ek mors geen tyd met kamp opslaan wanneer ek my bestemming bereik nie.

Die binneruim is meer as gemaklik en die harde dak wat my teen die elemente beskerm wanneer ek slaap, is onbeskryflik. Ek is baie in my noppies.

KANT EN KLAAR. ’n Mens kan amper nie glo iemand met net vier stukke elektriese gereedskap kon ’n wa van begin tot einde bou nie. Die geheim, sê Jurie, lê alles in die haarfynbeplanning waarmee hy dié projek aangedurf het.

Nagedagte

’n Vriend het my gevra wat die een ding is wat ek besef het terwyl ek die wa bou. Ek moes nogal lank daaroor dink, maar ek besef nou wat dit is. Ons kyk gereeld na die prys van woonwaens en dink dis verregaande.

Ek self het na die pryse van teardrops in Amerika gekyk en gedink ek kan dit vir ’n fraksie van die prys doen. En ja, ek kon. En miskien kan jy ook. Maar dan moet jy dit vir jouself bou en nie verwag om vir jou ure se arbeid vergoed te word nie.

Die oomblik wat jy vir iemand anders een bou, gaan jy ’n waarde aan jou tyd moet begin koppel. En dís wanneer dit duur raak. Ek moet my vrou, Colette, ook bedank vir haar geduld met ’n man wat besluit het om ’n teardrop in ons motorhuis te bou. Ons moes ons sente behoorlik omdraai, maar sy het my deurgaans ondersteun. Ek kon dit nie sonder haar doen nie.