Die X5 was BMW se toetrede tot die luukse sportnutsmark, maar dit was die X3 wat die grootste aftrek gekry het by gewone mense wat nie bloot in ’n inkopiesentrum se parkeerterrein wou spog nie.

Niemand gaan aanvoer dat die X3 ’n veldryer van formaat is nie, maar BMW hou vol die X3 is ’n nuttige avontuurvoertuig vir diegene wat nou en dan van die teerpad af wil wegbreek.

Buitelangs

Die nuwe X3 het mooi grootgeword – letterlik.

Hy is breër, hoër en langer as sy twee voorgangers. Die skerper hoeke van die vorige modelle is verruil vir ’n sagter en ronder vooraansig. Veral die kenmerkende sierrooster is opvallend – dit lyk amper soos gapende, blasende neusgate.

Die ronde misligte van die uittredende modelle maak plek vir nouer seskantige ligte, terwyl die LED-stroke rondom die hoofligte ook nie meer rond is nie – selfs die parkeerligte is nou seskantig.

Die twee karakterlyne wat van die voorste buffer af deur die boonste en onderste helfte van die deure strek, beklemtoon die lang enjinkap – iets wat so eiesoortig aan die handelsmerk is – en skep ’n dinamiese gevoel in die X3.

Soos voorheen is die middelste pilaar swart geverf om ’n swewende dak te skep, en agterlangs het L-vormige agterligte ’n beklemtoonde 3D-effek, veral saans wanneer hulle aangeskakel is.

Hoe ry hy?

Aangesien die 2.0-diesel die gewildste verkoper onder die uitgaande modelle was, het dit sin gemaak dat ons op die nuwer weergawe met dieselfde enjin fokus. Die volumeverkoper pronk met 140 kW kraglewering en 400 Nm wringkrag tussen 1 750 r.p.m. en 2 500 r.p.m.

Die xDrive20d het ’n 8 spoed- outomatiese ratkas wat standaard is regdeur die X3-reeks.

Die 20d se kraglewering is oorgenoeg vir die meeste bestuurstoestande en die ratkas skakel seepglad oor. Die X3 presteer uitstekend op die goeie teerpaaie van die Tuinroete, en sy allewielaandrywing is selfs aangepas om sterker op die agteras te fokus.

Veral die kenmerkende sierrooster is opvallend – dit lyk amper soos gapende, blasende neusgate.

Die nuweling draai ook flinker danksy die laer massa, 50:50-gewigsverspreiding en verbeterde kragstuur. BMW beweer die X3 se sleursyfer van 0.29 is die beste in sy voertuigkategorie. Die kajuit is beslis stiller, selfs wanneer die wind waai.

Die digitale instrumente dui aan dat die dieselenjin teen ’n rapsie onder 2 000 r.p.m. draai teen 120 km/h, maar jy hoor dit skaars bo die sagte suising van die wiele op die pad. Teen 80 km/h is hy nóg stiller, en teen 1 500 r.p.m. in die hoogste rat gaan hy boonop brandstof bespaar.

’n Kwarttenk gaan jou 200 km ver bring, selfs al sit jy nou en dan voet in die hoek. In totaal behoort ’n vol brandstoftenk jou 800 km van die een vulstasie tot by die volgende te neem.

SKOONGESKEER. Die kajuit word oorheers deur ’n groot raakskerm. Die hoofligte en kolligte is heeltemal herontwerp.

Grondpad

Ongeag watter model jy kies en watter opsionele ekstras jy bestel, is die X3 toegerus met bande wat sonder druk gery kan word.

Deesdae kan jy taamlik ver ry met die moderne sogenoemde run-flat-bande, maar die nadeel is dat die wande só dik is dat hulle nie veel skok absorbeer nie.

Die model wat ons bestuur het, is toegerus met ’n paar opsies én hy het 20”-bande gehad, wat beslis nie geskik is vir grondpaaie nie.

Dit lyk dalk spoggerig, maar genade, op ’n slegte grondpad is die rit stamperig verby. Slotsom Die X3 se natuurlike habitat is beslis die ruim ooptes van ’n snelweg. Dis nie omdat die kar raserig is nie. Inteendeel, dis doodstil binnelangs sonder kraak- of tikgeluide.

As jy in een belang stel moet jy liefs seker maak die paaie in jou geweste is in ’n goeie toestand, want die X3 is nie gaande oor slaggate nie. Dalk moet jy standaardbande bo die 20”-bielies oorweeg. Ons vermoed ook die X3 kan ’n gawe sleepvoertuig wees.

SPESIFIKASIES

Model: xDrive20d

Enjin: 1 995 cc-viersilinder-turbodiesel

Krag: 140 kW @ 4 000 rpm

Wringkrag: 400 Nm @ 1 750 r.p.m.

Ratkas: 8-spoed (outomaties)

Brandstofverbruik: 5,4 l/100 km Tenk 60 l

Bagasieruim: 550 l

Sleepgewig: 2 400 kg

Grondvryhoogte: 204 mm

Waaddiepte: 500 mm

Diensplan: 5 jaar/100 000 km

Pryse (sonder CO2-belasting)

xDrive20d: R684 200

xDrive30i: R739 800

xDrive30d: R868 300

M40i: R991 100