Sowat ’n dekade gelede, toe die eerste X6 by die Noord-Amerikaanse internasionale motorskou in Detroit onthul is, was die reaksie positief. Almal was verbaas om te sien die produksiemodel is feitlik identies aan die konsepontwerp.

Die X-reeks met sy onewe syferagtervoegsels het nog altyd voldoen aan die standaarde van die betrokke marksegment.

Die X5, byvoorbeeld, was nog altyd ’n sportnutsvoertuig en die X3 ’n kompakte sportnuts. Maar die definisies word vervaag deur die X6, X4 en nou ook die X2. Dis haas onmoontlik om vir iemand te verduidelik waar die X2 inpas, veral as ’n mens in ag neem hy sit styf teenaan die X1, maar is myle weg van ’n X3.

BMW speel ’n ingewikkelde dog interessante speletjie – een wat beklemtoon word deur die reklameveldtog #TotallyUngovernable.

Buitelangs

Dit ding wat die X2 van ander rygoed in ’n parkeerterrein onderskei, is sy voorkoms.

Ons het die afgelope jaar na heelwat sportnutse gekyk, en wat voorkoms betref, het ons baie lof vir die X2. Die glasdop is smal – die gevolg van ’n hoër heuplyn en al vier wiele wat op die verste hoeke geplaas is. Dié uitleg sorg vir ’n uitstekende vertrek- en naderhoek.

Die wielboë is lekker groot en word gevul deur 19”-bande. ’n Ekstra bonus is die BMW-kenteken op die C-pilaar – die eerste model sedert die ikoniese 3.0 CSL-renmotorweergawe in 1973 wat hiermee spog.

Aanvanklik is daar slegs twee modelle: Die sDrive20i-petrol- en xDrive20d-dieselmodel.

Later vanjaar sal daar ook ’n kleiner sDrive18-intreevlakmodel beskikbaar wees. Jy kan ook kies tussen twee afwerkingsvlakke: Die M-Sport-pakket het amper ’n renmotor-voorkoms, terwyl die M-Sport X kontrasterende grys panele het om hom effens meer avontuurlustig te laat lyk. 

ONGEWOON,

Binnelangs

Omdat dit ’n kompakte ryding is vir die soort mens wat nie noodwendig ’n behoefte het om die stad te verlaat nie, is daar allerlei katoeters om jou te bederf en struwelings soos spitsverkeer draagliker te maak. As jy vergeet het om jou nuwe slimfoon deur die nag te laai, kan jy hom doodeenvoudig in die middelste paneelkissie druk waar hy koordloos sal laai.

Jou X2 kan deel word van die res van jou lewe as jy die BMW Connected Drive-app op jou foon laai (iStore en Google Play). Dié app laat jou iPhone of Android-foon toe om met jou X2 te kommunikeer en sal jou herinner waar jy geparkeer het, minder besige roetes voorstel, jou kalender nagaan vir afsprake, en selfs die deure oop- en toesluit.

Só ry hy

Met BMW se reputasie om voertuie te bou wat pret is om te bestuur sal ons nie verbaas wees as daar mense is wat kla omdat die X2 nie ’n V6-enjin en brullende uitlaatpype het nie. Maar ons was dolgelukkig met die toetsmodel wat ons onder hande gehad het.

Dié viersilinder-turbodiesel is ook die vlagskipmodel. Jy gaan nie veel meer vra as wat hierdie model standaard bied nie. Die werkverrigting is meer as genoeg vir ’n voertuig van hierdie aard en die agtspoed- outomatiese ratkas is heel behendig as jy hom los om sy eie kop te volg.

As jy egter die beheer wil oorneem van die ratwisseling, kan jy altyd oorskakel na die sportmodus en die ratwisselspane agter die stuurwiel tokkel.

Ná ’n geesdriftige rit oor die Helshoogtepas buite Stellenbosch, gevolg deur die Franschhoekpas, Sir Lowryspas, Chapmanspiek en Ou Kaapseweg, het die dieselmodel met 50 ppm-diesel in die tenk ’n gemiddelde brandstofverbruik van 6,4 l/100 km oor ’n afstand van ongeveer 200 km gelewer.

SPESIFIKASIES

Model X2 xDrive20d

Prys R722 600

Enjin 1 995 cc-turbopetrol, viersilinder

Krag 140 kW @ 4 000 r.p.m.

Wringkrag 400 Nm @ 1 750 r.p.m.

Ratkas 8 spoed-outomaties

Brandstofverbruik 5 l/100 km CO2-vrystelling 121 g/km

Tenk 51 l

Bagasieruim 470 l

Grondvryhoogte 182 mm

Diensplan 5 jaar/100 000 km