Dis welbekend dat die mark vir sportnutsvoertuie omtrent die enigste een in die motorbedryf is wat groei.

Dit maak sin dat elke motorvervaardiger deesdae so ’n motor in sy vertoonlokaal wil hê. Het jy dit nie, is dit so goed jy probeer ’n broccoli-smoothie smous by Nampo – jou kans om ’n wins te maak is nul.

Die Franse motorvervaardiger Peugeot en die Italiaanse Alfa Romeo is self keelvol vir broccoli-smoothies, vandaar die 3008 en Stelvio. Albei motors is sportnutsvoertuie, maar die Franse het die konsep op een manier vertolk, en die Italianers op ’n ander manier.

Franse gekunstelheid

Die Peugeot 3008 het verlede jaar omtrent elke Europese motortoekenning gekry wat moontlik uitgedeel kan word, insluitend die grote, die Europese Motor van die Jaar. Dit was die eerste keer dat dié prys aan ’n sportnutsvoertuig toegeken is. Plaaslik was die 3008 ’n finalis in die kompetisie Motor van die Jaar.

Dis nie moeilik om te sien hoekom veral die Europeërs gaande is oor die kar met die groot silwer leeu op sy rooster nie. Dit is ’n moderne motor, wat voorkoms betref én die tegnologie waarmee hy volgeprop is.

Hy’t baie ruimte binnelangs, sy rit is seepglad en sy suinige 1,6 liter-petrolenjin en 2,0 liter-diesel teug bietjies-bietjies brandstof, soos ’n Kapenaar wat water spaar deur sy tande met een hand in die stort te borsel, terwyl hy sy hare met die ander hand was.

Die vaartbelynde en aggressiewe ontwerp, met sy lang enjinkap en ’n unieke lang glansswart dak, laat die motor vinniger lyk as wat dit werklik is.

Ons het met die 1.6 turbopetrol met ’n sesspoed-outomatiese ratkas gery, en sy verrigting is gewillig eerder as dinamies. Dis ’n Franse gesinsmotor met die fokus op gemak, nie ’n Italiaanse vuurwa nie (meer hieroor later).

Waar die Fransman hom wel deeglik van die ander mededingers onderskei, is in sy kajuit. Peugeot noem dit die i-Cockpit en dit voel ’n bietjie asof jy by ’n ruimteskip inklim.

Die stuurwiel(etjie) is die eerste ding wat jou oog tref. Dis klein, plat bo en onder, en sit laer as waaraan jy gewoond is. Jy kyk oor hom na ’n digitale instrumentepaneel met ’n verskeidenheid vertoonopsies. Jy beheer wat jy wil sien met ’n duimwieletjie op die stuurwiel.

Hier’s ’n tabletgrootte raakskerm in die middel van die paneelbord. Jy kan dit, of die ses knikskakelaars onder die skerm gebruik om dinge soos die radio, navigasie, telefoon en lugverkoeling te beheer.

Peugeot beweer dis ’n “ware” sportnutsvoertuig omdat die 3008 (buiten die intreevlak-Active) ’n gesofistikeerde vastrapbeheerstelsel het waar jy ’n modus vir sand, sneeu, modder of teerpad kan kies. Vat dit met ’n knippie sout. Jy gaan nie van Solitaire af tot in Walvis deur die Namib met jou 3008 kan ry nie, maar hy’t ’n volgrootte noodwiel en jy gaan grondpaaie kan kafdraf.

Die tweede ry sitplekke slaan plat, wat jou bagasieruimte van 591 liter tot 1 670 liter vergroot as jy die bergfiets en die Coleman wil saamkarwei.

Italiaanse bravade

Alfa Romeo het, soos dit sy erfenis betaam, ’n ander rigting ingeslaan met sy heel eerste sportnutsvoertuig. Die Stelvio, genoem na die hoogste bergpas in Italië, lyk nie net vinnig nie; dit ís vinnig. Boonop sukkel die Italianers mos om ’n lelike motor te bou, en die Stelvio is geen uitsondering nie. Dit trek na ’n effe opgepofte Giulia-sedan, en die Giulia is ’n dekselse mooi motor.

Jy betaal natuurlik vir die krag en prag. Die goedkoopste Stelvio kos R810 000 teenoor die goedkoopste 3008 teen R399 900, maar dis soos om ’n prima Sangiovese met ’n gesellige Bordeaux te vergelyk. Hulle speel in verskillende markte.

Die Stelvio is meer ’n groot luukse sportmotor as wat hy ’n sportnutsvoertuig is. Jy sit diep in ’n leersitplek wat jou heupe knus omhels sodat jy nie rondrol as jy deur die draaie swiep nie.

Die uitleg van die kajuit en instrumentasie is meer tradisioneel as futuristies. Langs die ratkierie is ’n draaiknop met die letters “DNA”. Jy kan kies om jou Stelvio in “Dynamic” te looi, in “Natural” tussen Pretoria en Kaapstad te suiker of in “Advanced Efficiency” in druk verkeer werk toe te kruie.

Die 2 liter-viersilinder-turbopetrolenjin is dalk nie die grootste enjin ter wêreld nie, maar hy span saam met die agtspoed- outomatiese ratkas om die Stelvio binne 5,7 sekondes van 0 tot 100 km/h te versnel. Vir so ’n groot motor weeg die Italianer teen 1 660 kg verbasend min.

Die enjinkap, deure, dele van die enjin self en veringstelsel is van aluminium vervaardig om gewig te bespaar, en selfs die dryfas is van ligte koolstofvesel gemaak.

Die Stelvio het ’n permanente viertrekstelsel waar ’n rekenaar bepaal hoeveel wringkrag na die voorste of agterste wiele gestuur moet word.

In normale omstandighede is die motor agterwielaangedrewe, maar tot 50% van die krag kan na die voorste wiele gestuur word indien jy jou lyf ’n bietjie te veel Jody Scheckter hou en jy dreig om die teerpad byster te raak.

Die Stelviopas in Italië is juis ’n teerpad, en die teerpad is hierdie Alfa se natuurlike se kos. Ek weet nie of ek dit oor my hart sou kon kry om met dié mooi motor op grondpaaie rond te foeter nie. Dit was dalk ’n ander storie as hulle hom die Sani genoem het...