foto’s Cyril Klopper

Die Franse het nog altyd effens eiesoortige voertuie gebou, met Citroën dikwels voor in die koor. Maar daar was ’n tydperk kort ná die aanbreek van die nuwe millennium toe dié vervaardiger meer konvensioneel geraak het, veral met sy C-reeks. Die C5- sedan (2000-2017) was die toonbeeld van konformisme en die C3-luikrug (2002-2009) het oulik gelyk met sy ronde dakkie, maar andersins was hy maklik om mis te kyk.

Dié vervaardiger se grootste probleem in Suid-Afrika was egter nie sy voorkoms nie, maar eerder sy reputasie, want in dié tyd het mense gesukkel om onderdele in die hande te kry. Dinge het só erg geraak dat Citroën in 2016 landuit is.

Xavier Gobille, die man wat grootliks te danke is vir Renault Suid-Afrika se spreekwoordelike opstanding uit die dood, is nou gevra om ook Citroën in Suid-Afrika vastrapplek te gee.

Dit klink na ’n onbegonne taak, maar die goeie nuus vir Gobille is dat Citroën weer so flambojant is soos in die ou dae – en die C3 Aircross is ’n sprekende voorbeeld daarvan.

VAAL NA OVAAL. Citroën se jongste rygoed is volgens ons opwindender as ’n paar jaar gelede. Die C3 Aircross gebruik ovaal vorms in sy ontwerp en hy’s beslis nie skaam om uitspattig te raak met kleur nie.

Kordaat

Die monde het omtrent oopgehang toe die C-Aircross-konsepvoertuig in Februarie 2017 by die Geneefse motorskou bekend gestel is. Die bakwerk het met vindingryke eienskappe gespog en die binneruim het gepronk met allerlei tegnologieë en affêrinkies waaraan min motorvervaardigers voorheen gedink het.

Die pret is vermoedelik deur boontjietellers bederf. Die eksotiese binneruim van die C3 Aircross-produksievoertuig is gestroop van al sy innoverende eienskappe. Die dop is wel behou, maar die oulikste karaktertrekke is afgeskaal sodat die C3 Aircross nie té flambojant lyk nie.

Die motor het egter steeds ’n treffende voorkoms met skelhelder oranje dakstawe, syspieëltjies en misligversierings. Ook die bakverf (gedoop Soft Sand) is ’n merkwaardige kleur wat ligbruin vertoon in helder sonlig, maar silwer of selfs wit, afhangend van die soort lig wat daarop val.

Die Aircross gaan nie in almal se smaak val nie, dis iets wat Citroën goed begryp, maar daar word gehoop dat hy aanklank sal vind by diegene wat iets anders as die norm soek.

Ondanks sy kordater afmetings is die C3 Aircross ’n raps langer as sy mededingers (buiten die Mazda CX-3, wat 2 cm langer is) en hy’s ook breër én hoër as die Hyundai Venue en Renault Captur.

Hy voel dus verbasend ruim binne – ’n illusie wat baie kompakte sportnutse regkry – en die bagasieruim is inderdaad groter as dié van sy mededingers.

KYK ROND. Die ovaal vorms én helder kleure word binne herhaal. Die armleuning vir die bestuurder is welkom en só ook die groot bagasieruim. Ons enigste klagte is oor hoe agterstevoor om alles werk, maar dit dra by tot die outjie se karakter.

Astrant

Die C3 Aircross word bemark as ’n ware sportnutsvoertuig, ten spyte daarvan dat hy slegs met die voorwiele aangedryf word. Citroën voer ook aan dat die groot bande en goeie grondvryhoogte dit veilig maak om die teerpad te verruil vir plaaspaaie.

Europese modelle het ’n ritmodus-knop op die middelkonsole vir sneeu, sand en rotse – iets wat vreemd is vir ’n tweewielaangedrewe voertuig. Dít is dalk waarom Citroën volhou die C3 Aircross is ’n ware sportnuts. Ons modelle kry egter nie ’n ritmodusknop nie.

Ons het ’n sanderige grondpad getakel en die C3 Aircross het eers goed gepresteer danksy ’n flink vastrapbeheerstelsel en elektroniese stabilisering, maar die vering het later gesukkel met sinkplaatpaaie en ons kon sien hoe die Aircross dwars oor die pad skuif, selfs al mik die stuurwiel reguit vorentoe.

Op teerpad is die rit besonder gemaklik – byna té gemaklik, want die stuuraksie voel nie so skerp as wat ons verwag van ’n kompakte luikrug nie. Dis nie dat die stuuraksie dood voel nie, maar eerder asof die Aircross sy eie idee het oor hoe flink hy moet reageer.

Dit klink dalk soos fel kritiek, maar daar’s niks mee fout om ’n gemaklike rit bó ratse hantering te kies nie. Die 1,2 l-turbopetrolenjin trek lekker sterk as jy alleen ry, maar sodra die C3 Aircross vol mense is én hulle bagasie is gelaai, kan jy voel hoe die enjintjie sukkel om oor die weg te kom.

Die outomatiese ratkas wissel glad teen hoër snelhede, maar as jy in die lae ratte versnel, is daar merkbare poses tussen oorskakelings – dis nie frustrerend nie en voel amper soos wanneer jy ’n koppelaar trap en ’n onsigbare passasier verwissel namens jou van rat.

Stryerig

Tipies aan Franse motors werk dinge effens anders as in Duitse of Japannese motors. Om ’n hoër rat te kies in die Sport-modus moet jy die rathefoom afwaarts tik, en andersom, en om die volgende radiokanaal te luister moet jy die wieletjie op die stuurwiel terugrol eerder as vorentoe.

Die C-pilaar se venstertjie (gemaak van plastiek en nié glas nie) is toegeplak met oranje strepe sodat die bestuurder amper glad nie daardeur kan sien nie, en die agterste passasier moet deur die skrefies loer, maar wie gee om, want dis uniek... Die handrathefboom is ’n karbonkel wat aansienlik meer plek in die middelkonsole opneem as die dunnerige outmatiese rathefboom, en om die enjinkap oop te maak moet jy ’n knip aan die passasierskant trek eerder as aan die bestuurderskant.

Hier is geen fisieke knoppies vir die lugreëling nie en jy móét dit op die raakskerm verstel, iets wat relatief lank neem terwyl jou volle aandag nie op die pad gefokus is nie.

Die stuurwiel is ietwat eiervormig eerder as rond, want hy’s afgeplat aan die onderkant. Dit pla nie, maar dis vreemd. Die kruisspoedbeheer se steeltjie is weggesteek agter die stuurwiel se linkerspeek en jy kan nie die funksies daarop sien nie, tensy jy uitklim en dit van nader bekyk. Jy gaan dus die knoppies se plasing in jou geheue moet inprent as jy dit in die ry wil gebruik.

Slotsom

Wat betroubaarheid en naverkoopdiens betref, is Gobille baie duidelik daaroor dat Citroën ’n nuwe blaadjie omgeslaan het. Hy het die onderdelenetwerk hervorm en alle werkswinkels móét voortaan aan sy streng standaarde voldoen.

Volgens Gobille word handelaars ook beboet as hulle nie herstelwerk binne twee dae kan afhandel nie, én hulle moet dan vir jou ’n vervangingsvoertuig gee terwyl jy wag om jou Citroën terug te kry.

Wat die C3 Aircross betref, kan ons dit soos volg opsom: Gemaklike rit en ’n interessante voorkoms, maar daar is voertuie soos die Hyundai Venue, Renault Captur en Mazda CX-3 wat minder kos terwyl hulle ’n soortgelyke spesifikasielys bied.

SPESIFIKASIES

Model getoets: Feel 1.2 PureTech Spicy Orange

Enjin: 1 199 cc, driesilinder-turbopetrol

Krag: 81 kW @ 5 500 r.p.m.

Wringkrag: 205 Nm @ 1 500 r.p.m.

Ratkas: 6 spoed-outomaties

Topspoed: 184 km/h

Versnelling: 0-100 km/h 11,8 s

Brandstofverbruik: 6,7 l/100 km

Tenk: 45 l

Bagasieruim: 410 l

Wielgrootte: 205/50/R16

Grondvryhoogte: 178 mm

Veiligheidsgradering: * * * * * (NCAP, 2017)

Diensplan: 5 jaar/100 000 km

Waarborg: 5 jaar/100 000 km

Prys: R345 900

Ry-indruk
Ry-indruk