foto’s Leon Botha

Daar is ’n handjie vol tydlose uitvindsels wat vandag nog lyk en werk soos toe hulle die eerste keer die lig gesien het. Goed soos doringdraad (wat die Amerikaner Joseph F. Glidden in 1874 gepatenteer het), die skuifspeld (wat in 1849 deur Walter Hunt van New York uitgevind is) en die vlieëplak, wat in 1905 noodgedwonge ontwerp is toe die Amerikaanse staat Kansas onder ’n ongekende vlieëplaag deurgeloop het.

As dit by boswoonwaens kom, kan jy dieselfde sê van die Commander wat vandag, 15 jaar ná die die eerste model, steeds geskoei is op die oorspronklike bloudruk. En dít beteken net een ding: dis ’n weldeurdagte woonwa wat ordentlik ontwerp is vir kampeerders wat ’n wa met hulle veldryer wil sleep tot waar dié nie meer kan nie.

Ons het die Commander gehaak en by die onderpunt van die Krugerwildtuin ingery. Ons het deur die wildtuin getoer en is heel bo by die hekke van Pafuri uit.

In Shingwedzi het die moeder van alle donderstorms ons getref, en terwyl die storm heelwat van die mopaniebome se takke rondom ons afgebreek het, het die Commander onverstoord bly staan...gereed vir ’n hele paar kampseisoene wat voorlê.

/

Alkant eenders

Die Commander se twee deure sit regoor mekaar in die sypanele, voor die wiele. Die “hoofdeur” is links aan die buitekombuiskant waar die ander een in die storttent oopmaak.

Conqueror gebruik etlike jare al unieke hoekstutte wat verskil van die domkragsoort wat ’n mens by die meeste ander vervaardigers sien. Hierdie is ’n hoekstut in die ware sin van die woord, want hy stut die wa op die agterste hoeke.

Weggebêre vou dit op teen die agterpaneel van die wa. Vir die uitslaanslag vou ’n arm oop net soos ’n mens jou opgetrekte arm reguit maak. Aan die onderpunt is ’n voet wat dan teen die grond vastrap.

Van die voet af vou ’n volgende arm terug boontoe wat die helfte van die lengte van die groter arm is. Hierdie arm staan dus op in die rigting van die bakwerk, en ’n laaste arm vou dan uit dié een uit tot teen die bakwerk. Hierdie arm se punt pas teen die romp in verskillende gaatjies afhangend van hoe ver die voet af grond toe geswaai het.

Die laaste arm sluit net soos jou elmboog wanneer jy dit in die middel druk en dan die wa stut. Hoe vinnig jy sonder enige gereedskap die stut platslaan, is deel van die wonder, en dieselfde geld vir die terugslaan.

As dit by boswoonwaens kom, kan jy dieselfde sê van die Commander wat vandag, 15 jaar ná die die eerste model, steeds geskoei is op die oorspronklike bloudruk.

Die wa het twee beddens waarvan die een regs van die deur die romp vol strek en die ander oor die neuskas oopslaan. Om die een oor die neuskas oop te slaan moet jy eers die boseil se sak wat by die dak sit, ooprits, anders gaan jy nie ná die tyd kan bykom nie. Hiervoor moet jy op die neuskas klim.

Die hele voorste gedeelte van die romp slaan plat oor die A-raam van waar U-rame opslaan om die seil oor die bed te span. Die boseil span op sy beurt met vier veerbelaaide latte oor die bedtent. 

’n Trap vir elke wa

Vanweë die aard van ’n boswoonwa staan die romp hoog bo die grond. Dit beteken dus ’n ongemaklike hoogte om met een tree in die wa te klim.

’n Gemonteerde trappie vou uit die wa, wat die inklimslag vergemaklik. Teenoor die aanvanklike drumpelhoogte (545 mm) hoef jy nou jou voet net halfpad (285 mm) te lig vir die eerste trap.

Die trap het ook ’n strop aan die kant wat jy trek as jy binne staan om dit op te slaan, sodat jy die deur kan toemaak voor jy inkruip. Dié soort trap hoort op elke wa omdat dit so prakties is.

Terloops, ’n gaasdeur met sy eie ritssluiter pas in die deuropening as jy dalk met ’n oop deur wil slaap sonder dat goggas jou wegdra.

Die dak lig aan die deur se kant met ’n skarnier aan die agterkant en het ’n vloer-tot-nokhoogte van 2,23 m op sy hoogste punt. Die bokant van die oopslaanbed se matras is 80 cm bo die vloer en ’n mens moet deur ’n opening van 61 cm klim om jou lê op die bed te kry.

Die nok van die tent bo die bed is wel hoog genoeg sodat jy regop op die matras kan sit. Dié deurklimmery klink dalk ongemaklik, maar as jy jou sit op die matras se kantgedeelte kry en terugleun, kan jy jou sonder sukkel gemaklik maak op die bed. Ouer en groter mense gaan dalk nie so baie daarvan hou nie, maar vir die kroos is dit heerlik.

Diékantse bed het wel nie ’n gemonteerde lig nie (die naaste een sit bo die deur), en omdat dit ’n uitslaanbed is, is hier ook nie klererakke nie. Die kant van die oopslaanbed, waar ’n mens jou sit kry voor jy terugleun om in te kruip, is die stoorplek vir die los opslaantafel (62 x 185 cm). Hy staan op sy kant en ’n mens swaai ’n knip digby die deur weg om die tafel by die deur uit te gly.

Die gedeelte na agter in die wa is een groot gesinsbed en tot drie mense kan lag-lag hier inpas. Dit strek van kant tot kant. Die middelste gedeelte kan opslaan om ’n 50 cm breë gangetjie van voor tot agter tussen die twee kante te maak. Dit gee twee enkelbeddens met ’n skuifvenster langs die linkerkantse bed.

’n Smal tafel (103 x 53 cm) slaan op in die gangetjie as jy in die wa wil aansit vir ete. Die tafelblad is groot genoeg vir tot vier mense, maar beter vir twee.

Al die kaste rondom die agterste bed is een groot bederf. Hier is nie minder nie as 15 van hulle in verskeie groottes, en buiten vir die een of twee oop rakke het die res ’n seildeurtjie voor wat kan toerits.

By die agterste kas (by die koppenent) is ’n lig, en die twee seildeure van die regterkantse kaste vorm die agterkant van die buitenste kruidenierswarerak. Dis dus net die plek in die wa waar jy gisteraand se oorskietworsies as laataandpeuselhappie kan bêre.

Gee my krag

Die kragpaneel sit regs bo die deur. Hier kan ’n mens selfs die temperatuur lees, maar, belangriker, die skakelaars vir onder meer die yskas, Hella-proppe en waterpomp sit ook hier.

Die stroombrekers is bo die skakelaars en hou ’n ogie oor die stroomgebruik – van die buitenste multiprop tot die batterylaaier. Op die skermpie regs kan ’n mens sien hoeveel die battery laai en waar die Voltlesing staan (én die persentasievlak van hoeveel die battery gelaai is). Die twee USB-sokke is heel regs op die paneel. 

Tuis in die kombuis

Die buitekombuis beslaan die hele linkerkant van die wa. ’n Glyraam met die ys-vrieskas en tweeplaatgasstoof trek by die neus uit die romp. Op die punt van die raam slaan nog ’n raamwerk uit waarin twee plastiekskottels langs mekaar pas.

Die gemonteerde swaaikraan langs die stoof sorg vir die koue en warm water in die skottels. Twee afsonderlike laaie trek onder die stoof uit met al die eetgerei regdeur tot borde en koppies. Die kruidenierswarekas met sy drie rakke is aan die teenoorgestelde kant van die deur, en is nie soos wat ’n mens gereeld sien, ’n deur wat na jou toe platslaan om ’n werkblad te vorm nie.

Dié deur swaai oop na regs en het ook ’n hele paar seilsakkies in die binnekant wat selfs groot genoeg is vir ontbytgraankosse in die oorspronklike bokse. In die kas staan ’n opgevoude blad wat met ’n rek in plek gehou word. Dit slaan plat as werkplek met die drie rakke dan agter dit. Die lig sit bo in die kas en skyn helder genoeg dat jy ook saans kan regkom.

’n Weggesteekte kas is in die romp onder die blad ingebou. Dis net reg vir ’n hele paar houers boksmelk of drie tot vier 5 l-waterbottels.

Die “drankkabinet” is aan die binnekant van die inklimdeur ingebou. Die deur het ook seilsakkies aan die binnekant en hier is plek vir vyf wynbottels wat regop kan staan. Voor die bottels slaan ’n blad as opskinkplek plat.

/

Pak en pak en pak...

Die neuskas het aan albei kante ’n deur. Die twee gasbottels staan in die linkerkant met ’n bêreplek vir ’n handbyl op die buitekant van dié deur. ’n Graaf is dwars teen die kas vasgesit en die inlyn-gasgeiser sit by die regterkantse deur.

Die geiser trek op ’n glyraam uit die kas sodat daar genoeg ventilasie rondom is wanneer jy die warm water gebruik. Die enkelwasbak trek aan die teenoorgestelde kant as die ys-vrieskas uit die romp. Dis langs die regterdeur met ’n identiese uitslaantrappie as by die ander deur.

Die stortkop met sy verlengpyp is in ’n klein kassie bo in die romp van waar dit uitvou. Hier is ook ’n weggesteekte kas agter by die hoek in die romp, soortgelyk aan die een aan die teenoorgestelde kant. ’n Rak wat oor die hele breedte van die Commander strek, is agter – bo, langs die dakskarniere – vasgesit.

Dis net die plek vir ’n hele paar sakkies braaihout of jou ekstra opvoukampstoele vir die seevakansie.

Wat kom saam... en wat nie?

Die standaardwa sluit byvoorbeeld twee 150 l-watertenks met ’n drukpomp in, asook die dubbelbed-opsie met ’n uitvoutafel, die los aluminiumkamptafel, die kragstelsel met ’n verlengkoord, én twee 102 A/h-diepsiklusbatterye en ’n tweeplaatgasstoof.

As opsionele ekstras kos die voltent R14 088, storttent R10 260, breekwarestel R1 380, ys-vrieskas R12 358-R15 081 (afhangend watter maak en grootte – jy kan kies tussen ’n 72-90 l-National Luna en 82,5 l-Snowmaster), Mojave 240-sonpaneelstelsel R13 104 en batterylaaistelsel vir die sleepvoertuig R2 008.

Die tegniese goed
  • Lengte 4,855 m
  • Breedte 2,045 m
  • Hoogte 2,25 m
  • Nokhoogte binne-in 2,23 m
  • Nettogewig 1 380 kg
  • Dravermoë 420 kg
  • BVM 1 800 kg
  • Prys Vanaf R306 092

PLUS 

Die hoekstutte werk sonder ’n slinger.  

Hy het ’n praktiese uitslaantrappie wat op alle waens hoort, en dieselfde geld vir die ritsgaasdeure.  

Jy kan nie vir méér kaste in die wa vra nie.  

Die kombuisuitleg is ruim met ’n slim bêreplek vir die opslaantafel.

MINUS

Voor jy die uitslaanbed oopmaak, moet jy eers die boseilsak ooprits, anders kom jy nie by nie.  

Die uitslaanbed het nie ’n lig of klererakke nie.

Weg Ry & Sleep Al is die Commander se brutovoertuigmassa aan die hoër kant (1 800 kg) kan jy dit met die meeste dubbelkajuitbakkies en groter nutsvoertuie sleep. 

Weg Ry & Sleep het die Conqueror Commander by die vervaardiger geleen.