Foto’s: Leon Botha

Volgens die Japannese motorvervaardiger Isuzu het hy sedert sy ontstaan in 1916 rondom 25 miljoen enjins gebou – dit kom neer op ’n verstommende 650 plus per dag – elke dag die afgelope 103 jaar.

Twee van hierdie enjins doen vandag diens in die D-Max-dubbelkajuit-4x4: die 2,5 l en die 3 l. Die 2,5 l- enjin lewer 15% minder wringkrag as sy grootboet (320 Nm teenoor 380 Nm) en die 2,5 l kan ’n gewig van net 2 t sleep teenoor die groter enjin se 2,9 t.

Die sleephaak is ook net op die ouboet standaard én dan kry jy op die 3 l-modelle die bykomende gemoedsrus van sleepwaswaaibeheer. Een laaste verskil is dat die 2,5 l-model net met ’n handratkas te kry is.

Nóg syfers

Ons toetsvoertuig is die D-Max-reeks se vlagskipmodel, maar die voertuig waarmee Weg Ry & Sleep ry, het heelwat ekstras omdat dit ’n langtermyntoetsvoertuig is. Isuzu het hom vir ons toegerus met die volgende: ’n ARB-bosbreker, T-Max 12 500-wenas, IPF Sport XS-kolligte, Desert Armour-onderstelbeskerming, Old Man Emo-vering, ’n snorkel, Desert Armour-glystawe en ’n Front Runner-dakrak met ’n T-Max- 48”-hoogligdomkrag.

Op die laaibak is ’n RSI-kappie met ’n RSI Smartrack-stelsel, sandplanke, LED-dakliggies, ’n Front Runner-laaistelsel, ARB-kompressor, Desert Products-dubbelbatterystelsel, ’n Engel-ys-vrieskas op ’n Desert Armour-glyraam, ’n piekniektafel, brandblusser, diefwering en ’n kombuis met eetgerei én die gasstoof. Agterlangs is ’n Desert Armour-staalbuffer en onder ’n 60 l-brandstoftenk wat die standaard-80 l-tenk aanvul (en ons reikafstand amper verdubbel). Wat bande betref, trap die D-Max nou vas met General Grabber AT 255/60 R18’s.

Al hierdie ekstra toerusting voeg ’n goeie 650 kg by die tarragewig van 2 100 kg. Omdat die brutovoertuigmassa (BVM) ’n ton swaarder is as die tarragewig, kan ’n mens noodwendig 650 kg minder in die bakkie laai. Jy kyk dus na ’n vrag van 450 kg, wat die passasiers insluit. Dit beteken jy kan niks ekstra laai as jou gesin van vyf eers hulle sit gekry het nie. Dit raak ook jou sleepding, want die neusgewig van die koppelstuk beteken óók ekstra gewig.

Die gewigte raak die brutokombinasiemassa (BKM, 6 000 kg) tot ’n mindere mate. Isuzu laat ’n sleepvrag van tot 2,9 t toe, maar in Suid-Afrika mag ’n mens nie die standaardtarragewig met die BVM van die wa oorskry nie. Die wa se BVM mag dus nie hoër as 2 100 kg wees nie.

Haak van staal

’n Stewiger sleepstang as die een wat deel is van die Desert Armour-buffer kry ’n mens nie sommer nie. Die bolgedeelte (met sy nek) is verwyderbaar en pas in ’n vierkantige buis.

’n Dwars pen hou die nek in plek en werk maklik – jy het geen gereedskap nodig om dit uit te kry nie. Die trukamera se lens sit net links van die laairuimklap se handvatsel. Dis dus nie in die middel nie en loer skuins af na die bol toe.

Die beeld van die lens word soos gebruiklik op die navigasieskerm vertoon, en hierop is die bol sowat ’n vingerbreedte regs van die middel van die skerm. Dit pla darem nie te veel nie – en oor die ekstragroot skerm (19,5 cm breed) kan ’n mens nie kla nie.

Wanneer jy dus die D-Max in trurat sit, kan jy sien wat agter die bakkie gebeur. (Terloops, die toetsvoertuig het nie trusensors nie, wat beteken daar’s geen alarm as die rekenaar dink jy gaan teen iets terugstoot nie.) Die indekslyne op die skerm is staties, maar om te haak kan jy die “Hitch Guide” op die skerm aanskakel deur daaraan te raak. ’n Stippellyn verskyn dan wat tussen die indekslyne loop en wat jy as ’n korrel gebruik. Hierdie stippellyn is ook staties en verander nie van hoek as jy die stuur draai nie.

Die D-Max se hoofligte het nie outomatiese hoogteverstelling nie, maar jy kan die skynhoogte met ’n knoppie regs van jou knie stel. Afhangend van hoeveel gewig ’n mens agterop laai – ook die neusgewig van die woonwa – kan jy buiten die standaardposisie nog drie verstellings kies. Op 4 m voor die bakkie sak die ligstraal met tot 14 cm as jy die laagste verstelling gebruik.

Koebaai, swaai

Sandplanke

Die D-Max se swaaibeheer word outomaties geaktiveer wanneer jy die bakkie aanskakel en werk wanneer jy vinniger as 50 km/h sleep, maar dié funksie word gedeaktiveer wanneer jy die elektroniese stabiliseerbeheer (ESC) afskakel.

In wese voorkom dit nie woonwaswaai nie, maar help dinge in beheer hou sodra die wa agter die bakkie begin dans. Wanneer die D-Max agterkom daar’s swaai, sal die enjin krag verminder en ook outomaties rem om die aksie teë te werk (die ESC-knoppie sal flikker). Intussen moet jy geleidelik jou voet van die pedaal af lig en reguit vorentoe bestuur.

Moenie self aan die remme raak nie en moet ook nie die stuur draai nie. Onthou, die swaaibeheer word outomaties gedeaktiveer wanneer jy die oordraratkas na laestrek oorskakel. 

Pieter sê

Pieter
Pieter Crous sleep al donkiejareendís wathy vandie D-Maxdink..

Vir die D-Max se topmodel is die paneel van dié bakkie taamlik eenvoudig. Daar’s wel lekker pakplek: jy het ’n dubbele paneelkissie én nog pakplek agter die GPS se skerm.

’n Mens sit gerieflik hoog en jy kan ordentlik rondom jou sien. Soms pla die middelpilaar van ’n bakkie hier langs ’n mens se regterskouer wat jou blindekol vergroot, maar nie in die D-Max nie.

Sy krag beïndruk my nie. Dis ’n 3 l-enjin en ’n mens verwag rondom 450 Nm, maar die enjin voel effens pap. Dis waar dat die bakkie heelwat swaarder is oor al die ekstra toebehore – en die woonwa is óók aan die swaar kant, maar die direkte krag bly te min. As jy byvoorbeeld teen 100 km/h op ’n gelyk pad die versneller wegtrap, is daar geen reaksie van die enjin se kant af nie.

As ’n mens van stilstaan af wegvlieg, jaag die toere op tot net duskant 4 000 r.p.m. (waar die meter in rooi gemerk is) voor die ratkas oorskakel, maar die D-Max is steeds nie ’n renperd nie.

Die ratkas self voel na ouer tegnologie, maar die oorskakeling is vinnig genoeg en jy weet amper nie daarvan nie. Die enjin is ook raserig, maar wanneer ’n mens nie sleep nie, is hy meer bedees, waarskynlik omdat hy nie so hard hoef te werk nie.

alles in die rondte. Die elektroniese skerm tussen die twee analoë meters is skaars so groot soos ’n gholfbal, maar het al die inligting wat saak maak – van jou ratmodus regdeur tot die brandstofvlak en buitetemperatuur.

Ek hou van die stippellyn wat op die trukameraskerm wys wanneer jy terugstoot. Die stippellyn loop aan die onderkant tot teen die buffer waar dit die bol omkring. Met die stippellyn is dit maklik om te sien in watter lyn jy terugstoot.

As jy stilstaan, draai die stuur besonder moeilik, maar wanneer jy ry, is dit gemaklik. Maar die rit self is besonder gerieflik en dit voel amper of jy in ’n sedanmotor ry.

Wat sê die boekie?

Brandstof: Diesel

Enjin: 2,999 l

Silinders: 4 inlyn

Krag: 130 kW @ 3 600 r.p.m.

Wringkrag: 380 Nm @ 1 800-2 800 r.p.m.

Ratkas: 6 spoed-outomaties

Aandrywing: Agter- of vierwiel met hoë- en laestrek plus ’n ewenaarslot op die agteras.

Tarragewig: 2 100 kg

BVM: 3 100 kg

BKM: 6 000 kg

Dravermoë: 1 000 kg

Standaard-waaddiepte: 600 mm

Sleepvermoë vir geremde sleepding: Isuzu laat tot 2,9 t toe, maar op ons paaie is die perk 2,1 t.

Standaard-afmetings: 5 294 mm (l); 1 860 mm (b); 1 790 mm (h)

Asafstand: 3 095 mm

Spoorwydte: 1 570 mm (voor en agter)

Standaard-grondvryhoogte: 220 mm

Brandstoftenk: 80 l + 60 l

Prys: (nuut) R615 500

Prys: (tweedehands) Ons het op  autotrader.co.za ’n 2018-model met 4 000 km op die klok gesien vir R529 900.

VINNIGE FEITE

Die sleephaak: Die haak is standaard en, soos op die toetsvoertuig, deel van die Desert Armour-staalbuffer. Dis van die verwyderbare soort en jy kan dit met die hand afhaal.

Vering: Kronkelvere met skokbrekers in die middel voor, en bladvere agter. Met die ekstraswaardiensvere het die stert net 25 mm gesak onder die neusgewig van die Bush Lapa-boswa.

Wat sê die skaal? 2 840 kg met ’n bykans vol tenk brandstof en die bestuurder in die kar. Dit is 740 kg swaarder as die tarragewig (2 100 kg). As jy 100 kg bytel vir die wa se neusgewig op die stang, kan jy nog net 260 kg laai. Dit gee jou min of meer plek vir nog drie mense in die kar. Die kombinasiemassa was 4 240 kg.

Binneruim: Op die agtersitplek het ’n volwassene twee vingers voor die knieë en twee vingers bo die kop.

Spoed: Die spoedmeter wys 5 km/h vinniger as die GPS se 95 km/h.

Brandstofverbruik: Volgens die rekenaar 15,6 l/100 km (6,4 km/l) en ons sommetjies stem bykans ooreen: 15,3 l/100 km (6,5 km/l). Die rekenaar weet wel nie van die ekstra brandstoftenk nie, en doen sy berekeninge met die oorblywende brandstof asof die bakkie net die standaardtenk het. Wanneer jy albei tenks volmaak, bereken die rekenaar op ’n kol daar is geen brandstof in die tenk oor nie (al wys die brandstofnaald die tenk is vol). Maar soos jy verder ry en die vlak in die gewone tenk daal, herstel die lesing. Met albei tenks kan ’n mens net meer as 900 km ver sleep.

Binne-afwerking: Oorwegend swart (wat die leerbekleedsel insluit) met dowwe silwer stroke hier en daar.

Ekstras: Die sleepvoertuig is tot die tande toe toegerus.

Ander: D-Max-dubbelkajuit- 4x4-modelle 250 Hi-Rider R442 100 250 X-Rider R479 600 300 LX R600 700 (Al drie modelle is handrat.)

Weg Ry & Sleep Pomp die bande tot die maksimumdruk wanneer jy sleep.

Die sleepding

Fabrikaat Bush Lapa Model Baobab

Jaarmodel 2017

Tarragewig 1 090 kg

Gelaaide gewig op die as tydens toets 1 400 kg

BVM 1 800 kg

Weg Ry & Sleep het die Bush Lapa Baobab by Bush Lapa Rentals in die Paarl geleen. Kontak Adél Brink by  adel@bushlapa.com as jy die Baobab van nader wil bekyk.  bushlapa.com

Die toets

Afstand 141 km

Topspoed 112 km/h (GPS)

Gemiddelde spoed 54,6 km/h (snelweë, agterpaaie en beboude gebiede)

Rytyd 2 uur en 34 minute.

Weer 21 ºC, deels bewolk en ’n noordwestewind van 12 km/h.

Mededingers
Mededingers