Dit gebeur selde dat ’n romanse wat met die eerste oogopslag vlam vat, van lange duur is. ’n Blywende verhouding is iets wat jy voortdurend moet versorg en julle moet eers deur dik én dun jare voortbeur voordat kalwerliefde tot ’n boesem- vriendskap kan groei.

Dit is ook die geval met die Alfa Romeo Stelvio. Die eerste paar uur agter die stuur van ’n Stelvio is goed en gaaf, maar dis nie juis ’n roerende ervaring nie. Daar is selfs ’n paar frustrasies, soos die nukkerige skakelaars, oorsensitiewe stuuraksie en ingewikkelde ritrekenaar – dit is moeilik om jou vinger te plaas op die presiese probleem.

Maar ná sowat ’n week agter die stuur – en veral as jy oor ’n bergpas of twee is – sal jy elke dag effens langer na die Stelvio staar, en selfs so nou en dan jou hand teer oor die stuurwiel streel en toegeneë glimlag. 

Voorkoms

Die Stelvio is beslis fotogenies. In die spreekwoordelike vlees lyk hy redelik aantreklik, maar dis eers wanneer jy ’n foto van hom neem en vir jou kollegas by die werk wys dat jy weet hy’s mooi, want dán roep almal uit: “Maggies, wat ’n mooi ryding!” Alfa Romeo se mikpunt was om ’n Giulia vir grondpad te bou.

Direk van voor af is daar inderdaad ooreenkomste tussen die Giulia en die Stelvio.

Ná sowat ´n week agter die stuur – en veral as jy oor ’n bergpas of twee is – sal jy elke dag effens langer na die Stelvio staar...

Binnelangs is die trekke selfs sterker. Hy het dieselfde instrumentepaneel en middel- konsole wat ’n skouer op die voorste passasier draai soos dit na die bestuurder toe beur. Daar is nie ’n ooraanbod knoppies wat jou aandag verg nie en die spoedleser en toereteller is versonke met slegs die bestuurder wat dit kan sien.

SWART OP WIT: Hoewel die binneruim in swart getooi is, lyk dit deftig eerder as naargeestig. Die dikkerige 18”-bande lyk glad nie sleg nie en lewer ’n gemaklike rit. Die sleutel is bonkig en swaar, maar hy’s mooi genoeg om wintie op die kroegtoonbank neer te gooi sodat die ander ouens kan sien wat ’n Meneer jy is – goed, moet dit liewers nie doen nie, want sulke gedrag pas nie by ’n Alfa-eienaar nie.

Onderlangs

Die Stelvio deel die Giulia se aluminiumdubbelmikvering voor en -meerskakelvering agter. Die skokbrekers en kronkelvere is egter langer en stywer om die hoër bakwerk te huisves. Daar is sterk gefokus om gewig te sny.

Die dryfas is van koolstofvesel gemaak eerder as metaal; en die enjin én bakwerk is van aluminium. Dit help dat die Stelvio met ’n tarragewig van ’n skamele 1 660 kg kan spog – dit is ’n hele 480 kg ligter as ’n Audi Q3, 355 kg ligter as ’n Mercedes-Benz GLA en 185 kg ligter as ’n Porsche Macan.

Daar is slegs een enjinkeuse: ’n 2 l-viersilinderturbopetrol wat 206 kW en 400 Nm opwek. Dis syfers lyk dalk ietwat beskeie, maar die ligte bakwerk stel die enjin in staat om soos ’n sportmotor te presteer.

Só ry hy

Die stuuraksie is besonder direk. Elke inset op die stuurwiel word dadelik na die voorwiele gestuur.

As jy ’n onrustige bestuurder is, gaan jou Stelvio óók onrustig ry. Die vering is betreklik hard vir ’n sportnutsvoertuig, maar gelukkig is daar genoeg rubber op die 18”-bande om die ergste stamp uit slegte paaie te haal.

Uit die bestuurdersitplek lyk die Stelvio se bakwerk breed en plat. In die smal agterstrate van ’n stad voel dit deurentyd of die Stelvio se sye aan geparkeerde motors se syspieëls gaan skuur.

Die Stelvio is nie ’n puik stadsvoertuig nie; daarvoor moet jy eerder ’n Suzuki Ignis aanskaf. Maar wat van ’n snelweg?

Die Stelvio voel tuis op ’n besige snelweg, mits jy nie aan die sensitiewe stuurwiel woel nie. As jy met die radio peuter of biltongkrummels van jou skoot af vee, gaan die Stelvio links of regs swenk.

Wat dan van grondpad of ’n bospaadjie? Die harde vering en sensitiewe stuurwiel is nie ’n grondpad se maat nie. Dis nie lewensgevaarlik om met ’n Stelvio haastig op ’n plaaspad te ry nie, maar hy voel ’n bietjie los, en as jy hom té hard druk, gaan jy ongetwyfeld in die mielieland beland.

Ons het die Stelvio se viertrekstelsel op ’n bospaadjie in die Hawequaberg in die Boland getoets.

Die steil op- en afdraandes was met spoelklippe besaai wat so groot is soos aartappels. Die Stelvio se allewielaandrywing het nie so lekker gepresteer nie en het letterlik klippe gekou. Die Stelvio is dus – soos verwag – nie ’n wafferse veldryer nie.

Ons het die Stelvio een laaste kans gegun om ons te oortuig. Ons het die Bainskloofpas met hom gaan ry, en dáár het die Italianer ons beslis beïndruk.

Bainskloof bestaan uit ’n 30 km lange voosgetrapte teerpad met dosyne haarnaalddraaie en loodregte kranse. Hier is gereeld ongelukke, en die Witrivier op die vloer van die kloof is besaai met ’n hele paar voertuigwrakke.

Die Stelvio se sportnutsvering kon die stamperige teerpad seepglad stryk, en danksy die sensitiewe stuuraksie kan jy flink deur die haarnaalddraaie swiep. Dít is waar die Stelvio hoort. Jy gaan wil omdraai en die Long Tom- of Outeniquapas weer en weer en wéér wil ry.

Slotsom

Dit neem ’n tydjie om die Stelvio lief te kry, en dan het die verhouding boonop sy frustrasies, maar die goeie tye vergoed beslis vir die slegtes. Goed, hy’s nie so lekker op ’n grondpad nie, maar maggies, hy kóók op ’n bergpas.

SPESIFIKASIES

Enjin 1 995 cc, viersilinder, turbopetrol

Krag 206 kW @ 5 250 r.p.m.

Wringkrag 400 Nm @ 2 250 r.p.m.

Ratkas Agtspoed-outomaties

Brandstofverbruik 10 l/100 km

Bagasieruim 525 l

Maksimumsleepgewig 2 300 kg

Waaddiepte 480 mm

Grondvryhoogte 200 mm

Tarragewig 1 660 kg

Topsnelheid 230 km/h

Versnelling 0-100km/h 5,7 s