Foto's: Helenus Kruger

Summit se waens is nie ’n onbekendegesig in Suid-Afrikaanse kampplekke nie. Dié reeks word tien jaar al gebou deur Frantel Distribution, ’n vervaardiger wat gereeld met iets nuuts en onkonvensioneels vorendag kom.

Kyk byvoorbeeld na die Andes-boswa wat in 2013 sy verskyning gemaak het: Metsy lae profiel en die tent wat op ’n laer vlak op die bakwerk lê, het dié wa hom van die mededingers onderskei. Hy was ook ’n bietjie langer en swaarder as ander, maar het heelwat meer pakplek gehad. Jy kan maar sê dit was ’n boswa wat gereeld in die gimnasium geoefen het.

Nou het die Andes sy kinderskoene ontgroei en heelwat meer lyf – en sommer ook ’n hele klompie spiere – bygekry. Die gene is nog onmiskenbaar, maar die ontwerp splinternuut.

Die Andes lyk nou meer na ’n kruising tussen ’n boswa en ’n boswoonwa. Met sy spitsdakontwerp, afwerking in weermag groen en die naam van die wa in helderoranje en rooi, tref hy onmiddellik die oog. En natuurlik laat die spitsdak jou aan ’n bergspits dink.

Franscois Mulock Houwer, een van die direkteure van Frantel wat die Andes vervaardig, sê die nuwe Andes se ontwerp maak dinge heelwat makliker as jy net iewers wil oornag, want die tent maak maklik en vinnig oop. Maar danksy die groot kombuis, baie pakplek en ruim slaapdeel is die wa ook gerieflik genoeg vir ’n lang vakansie op een plek.

Met ’n onderstel van 4 mm- vlekvryestaal (3CR12) en ’n raam- en bakwerk van aluminium kan jy ook die die teerpad met gemoedsrus agterlaat.

Op in ’n japtrap

Die Andes se tent slaan vinnig en maklik op. Sodra die afswaaihoekstutte stewig staan, swaai jy die raam waaraan die noodwiel vas is na regs. Voor jy die deksel (ook die tent se dak) oplig, moet jy eers die volstruisseiltjie uit sy sak haal, anders gaan jy hom nie bykom as die dak eers gelig is nie.

Maak nou die knippe bo die jerrykanne los en lig die dak. Jy hoef nie ’n spiertier te wees om die deksel tot bo te kry nie; jy lig dit net effens op en die gasstutte neem oor. Daar is ’n strop in die middel van die wa se agterkant waarmee jy die deksel aftrek om dit toe te maak. Jy span die volstruisseiltjie deur dit bo-oor die neuskas te swaai en aan die hakie op die voorste regterhoek van die wa vas te maak. Drie paaltjies hou dit bo.

Op sy breedste is die afdak 1,9 m breed. Wanneer jy langer as ’n aand oorstaan, kan jy die aantrekkamer (1,5 x 1,6 m) opslaan wat met klitsrits aan die Andes se tent vassit.

’n PVC-grondseil rits aan die onderkant vas om ’n geseëlde vloer te vorm. Die tent het aan al drie sykante openinge met muskietnet en flappe wat heeltemal kan ooprits en oprol; dus kan jy kies aan watter kant jou deur moet wees. 

Binnelangs

Die vloer van die wa is 70 cm bo die grond, en voor jy kan inklim, moet jy eers die verstelbare konsertinatrappie aan die agterbuffer haak. Binne het jy ’n smal stukkie vloer van 32 cm om op te trap voor jy op die bed klim, wat 60 cm bo die vloer is. Die koningingrootte matras lê die res van die wa vol.

Al is dié vloerspasie baie klein, is dit gemakliker om hier te staan en aantrek as om op jou rug op die bed te lê en worstel met jou klere. Met die dak wat 1,9 m hoog is, is die tent baie ruim binne. ’n LED-strookliggie sit reg bo jou kop soos jy inklim en twee klein nagliggies net bokant die vloer maak lig waar jy trap.

Die sykante van die tent is in twee driehoeke verdeel: onder is die wa se bakwerk wat binne met seil oorgetrek is, en bo dit is die tentseil. Die dak is binne met mat bedek. Die seil van die sykante het twee vensters met muskietnet en afrolflappe aan elke kant.

Aan die koppenent van die bed is twee leesliggies met verstelbare armpies. Die opligvenster (80 x 42 cm) bo jou kop het ingeboude gaas en ’n skerm om die goggas en son uit te hou. Agter, net bo die vloer, is twee uittreklaaie (104 x 46 x 11 cm) en bo dit ’n kassie (140 x 26 x 26 cm) met ’n oopritsseildeur.

Die twee diepsiklusbatterye is in kassies links en regs van die vloer. Bo die linkerkantste een is die kragboks met plek vir ’n twee- en driepuntprop (220 V). Langs die kragboks is die skakelaar waar jy die geiser aan- en afskakel (dié werk met krag en gas). Die sonkragbeheerboks, met ’n voltmeter en twee USB-sokke, is regs bo die battery.

Aan die neus gelei

Die Andes se twee gasbottels word bo-op die neuskas (95 x 72 cm) gemonteer, met riffelplaat bo-op wat die bakwerk beskerm. Die inlaat vir die twee 80 l-watertenks is ook bo-op die neuskas. Links teen die wa se voorkant is die koppelstuk waar jy die gaspyp koppel – wanneer jy oppak, kan jy die pyp losmaak.

Links van die koppelstuk is ’n graaf gemonteer en die byl sit aan die sykant van die neuskas. Aan die voorkant van die neuskas is ’n smal kassie waarin jy ’n rooster en koletange kan bêre. Agter die neuskas, bo-op die kombuis se messegoedkas, is nog pakplek.

Al die panele aan die voorkant van die wa word deur riffelplaat beskerm. Op die A-raam is ook ’n Brad Harrison-prop om die battery in die ry te laai.

Pak en bad

’n Jerrykanhouer, een van twee op die wa, is heel agter teen die sykant gemonteer. Regs van die kan is die kragsok, ’n ronde nagliggie en nog ’n Brad Harrison-prop.

Bo die as is ’n plat kassie met ’n uittreklaai waarop drie plastiekkratte inpas en waar jy potte, panne en gereedskap kan pak. Die opswaaideur van die kassie word in plek gehou deur ’n knip wat in posisie sluit.

Die stortkop en kraan is onder die kassie. Die 19 l-geiser is voor die as, agter ’n vaste paneel. Jy moet die laaie in die wa uithaal om toegang te kry tot die geiser. Heel regs, tussen die geiser en neuskas, is ’n kassie met een rak wat 34 cm diep is. Die waterpomp is in die onderste deel en bo-op die rakkie is nog pakplek. 

Kom kuier in die kombuis!

Die linkerkant van die Andes is waarskynlik enige kampkok se droom: Dit is een groot kombuis met uittrek-kombuiseenhede en -laaie. Hier is nie ’n tekort aan pakplek vir jou kos nie en jy gaan vir weke in die bos kan oorleef as jy die laaie vol pak.

Die kookstasie (118 x 60 cm) is bo die as en het ’n werkoppervlak (66 x 60 cm) aan die linkerkant en ’n tweebrandergasstoof met ’n glasdeksel regs daarvan in die blad gemonteer. Die messegoedlaai trek aan die voorkant, onder die werkoppervlak, uit.

Drie 220 V-kragsokke is regs van die eenheid, en wanneer jy 12 V nodig het, is daar ’n Brad Harrison-sok bo dit. Jy hoef nie in die messegoedlaai rond te krap op soek na die botteloopmaker nie; jy gebruik sommer die een wat skuins bo die stoof vasgesit is.

Die aluminiumtafel skuif in ’n raamwerk bo die kassie in. In die uittreklaai (97 x 20 cm) langs die werkoppervlak kan jy die kosmaakgoed pak wat jy gereeld gebruik. Die laai is in twee verdeel – die voorste deel sal goed werk vir speserye en jou koffie- en teehouers. Die agterste kassie het tien seilsakkies waarin jou wyn- en sousbottels regop kan staan sodat dit nie in die ry rondval nie. Dié laai is, soos al die ander pakplek in die wa, met mat uitgevoer.

Links van die laai is nog ’n uittrekeenheid vir eetgerei en opwasgoed. Die wa is toegerus vir ses mense. Die glaselaai trek aan die koppenent van die eenheid uit en daar is wyn-, whisky- en waterglase wat in uitgesnyde spons pas. Die borde, papbakkies en bekers staan ewe stewig in uitgesnyde spons in ’n laai aan die sykant van die boks.

Regs van dié laai is ’n reghoekige kassie wat diep genoeg is vir ’n braaitang en jaffelpan, en regs daarvan ’n kassie waar die skottelgoedwasbak, droograk en skoonmaakmiddels inpas. Die skottelgoedwasbak en droograk pas in ’n raamwerk wat bo die glaselaai uittrek. Stoot eers die glaselaai terug voor jy begin skottelgoed was, anders gaan jy water op die glase drup.

Die koppelpunt vir die wasbak se waterpyp is teen die modderskerm, links onder die werkoppervlak.

Bo die eenheid is ’n uittreklaai (118 x 44 x 19 cm) wat in drie verdeel is en groot en diep genoeg is vir potte, panne en kos. Stewige skuifknippe hou alle eenhede en laaie in plek wanneer hulle oop is. Die yskas se bêreplek is op ’n uittreklaai in die neuskas.

Bo die kombuis, aan die hoogste punt van die wa, is ’n groot LED-buitelig wat kan ronddraai om op verskillende plekke te skyn. Die lig gooi ’n helder straal, en hoewel hy die kombuis goed verlig, kan die straal dalk vir party mense té helder wees. Die lig se skakelaar sit binne die tent aan die linkerkant, net bo die kragboks.

Die agterhoede

Die palekas is onder die wa, met die opening in die middel van die agterste buffer, agter ’n afswaaideurtjie waarop die nommerplaat gemonteer is. Wees versigtig, want jy kan maklik dink die afswaaideurtjie is die trappie om in die wa in te klim, maar dit gaan beslis nie enige gewig kan dra nie. Die noodwiel is op ’n swaaiarm wat jy moet wegdruk om toegang tot die tent te kry en die sonpaneel is bo-op die dak gemonteer.

Woonwatoets
Woonwatoets
Die tegniese goed

Lengte 4,75 m

Breedte 1,95 m

Hoogte 2,3 m

Tarragewig 1 100 kg

Dravermoë 700 kg

BVM 1 800 kg

Prys (soos getoets) R270 000

PLUS

  • Die wa voel stewig en die afwerking is topklas.  
  • Die tent slaan in ’n japtrap op en af.  
  • Die kombuis is prakties uitgelê en hier is meer as genoeg pakplek.  
  • Die tent met sy hoë dak is ruim binne.  
  • Die uittreklaaie is stewig en trek en stoot maklik uit en in.

MINUS

  • Jy moet buite die tent staan om in die klerelaaie te werk as jy nie die aantrekkamer opgeslaan het nie.  
  • Dit is moeilik om die pakplek bo die kombuiseenheid te bereik – jy moet oor die neuskas rek om by te kom.  
  • Dit is moeilik om die kombuistafel se knippie los te maak.  
  • Die bordelaai kan nie uitgetrek word as die koslaai langs die kookstasie uit is nie.

Weg Ry & Sleep het die Summit Andes by die vervaardiger geleen.

Weg Ry & Sleep sê Die Andes slaan vinnig op vir kort oorstane én hy is gerieflik genoeg vir ’n week of twee se staan op een plek.

Handelaarsnetwerk

Frantel Distributors en Summit se fabriek is in Pretoria.

Kontak: 012 803 6535 of 082 484 9848

summit trailers.co.za

info@frantelholdings.com