Dit is nog vroegmôre in die Richtersveld toe ek die Cruiser links swaai in die Abiquarivier se loop af om tussen die ongelooflikste mooi klipformasies te ry wat bo die rivierloop uitgekerf staan.

Die afgelope week het die reën geval in dié barre aarde, en plek-plek staan nog ’n poel water nadat die rivier afgekom het. Ek weet maar te goed ek moet versigtig wees, want as jy híér vasval, is dit g’n grap nie. Hier is niemand wat kan help nie en teen einde Oktober raak dit goed warm in dié geweste.

Omdat die rivier afgekom het, het die ou sandspoorpad verspoel en ek moet my eie koers vind. Gelukkig ken ek die wêreld goed en ek weet darem min of meer waar om uit te swaai en wanneer ek langs die rivierloop kan hou.

Voor my draai die rivierloop na links, en ook hier is water. Ek kyk vinnig links en regs, maar besef gou ek kan nie hier draai nie. Vorentoe is die enigste antwoord. Die situasie is niks nuuts vir my nie. Ek weet al jy roer net die Cruiser so effens en hou dan jou momentum tot jy anderkant uit is.

Maar dié slag werk dit nie. Die sagte en modderige sand kry die Cruiser beet en dis amper asof hy tot op sy onderstel ingesuig word. Ek gee versigtig vet, maar ek sit pens en pootjies vas, met al vier wiele wat in die rondte tol.

Ek is darem nie alleen in die Cruiser nie. Volker is een van my Duitse klante en hy is op sy tweede ekspedisie saam my hier deur die Richtersveld.

Ek en Volker het laasjaar hier gery toe hy met sy ouskoolse Pentax K1000-kamera skyfies kom neem het. Selfs vir iemand met my lekekennis was dit duidelik die Duitser het ’n goeie oog vir ’n foto. Met sy laaste besoek het hy nie minder nie as 38 rolletjies film gekiek, maar daar het glo iets skeef geloop met die ontwikkeling. Daarom is hy weer hier langs my. ’n Mens het nie regtig ’n rede nodig om terug te keer Richtersveld toe nie, maar syne het vir my heel geldig geklink.

Maar hier sit ek en Volker nou, tot op ons onderstel in die moeilikheid. Ek kan egter nie vir dié betalende klant wys presies hóé diep in die verknorsing ons is nie.

“What now?” vra Volker toe ek uitklim.

“No problem,” antwoord ek doodkalm. “We make a plan.”

Die Cruiser sit vas in ’n pappery van sand en modder en ek sak tot by my knieë weg. Moeilikheid. Ek beur vorentoe tot ek uiteindelik op droë grond is, stap ’n draai en probeer die gemors uit ’n ander hoek bekyk. Dalk lyk dit van daar af beter. Maar ek weet wat op my wag...

Ek het nie ’n wenas nie, maar wel ’n lang statiese strop en my hoogligdomkrag. Hiermee behoort ek die Cruiser te kan uitkatrol. Ons behoort oukei te wees.

Ek rol die strop uit – een punt met ’n boogskakel aan ’n boogstrop wat weer aan twee punte aan die onderstel vas is met nóg boogskakels. Ek maak ook ’n veiligheidstrop van ’n ander punt op die onderstel aan die boogskakel aan die statiese strop vas.

Gelukkig is daar ’n yslike stuk rots agter die voertuig waaraan ek die ander punt van die strop kan anker. Ek span ’n breë strop om die rots en ek is heel in my noppies met alles wat so mooi pas. Die hoogligdomkrag behoort nie te sukkel om die spulletjie uit te katrol nie.

Die Cruiser sit vas in ’n pappery van sand en modder en ek sak tot by my knieë weg. Moeilikheid.

Dit vat my egter ’n hele tydjie om alles gereed te kry, en intussen staan Volker aandagtig en kyk hoe ek alles aanmekaarsit. Ek begin katrol en werk die hefboom heen en weer, heen en weer. Die strop trek styf en word net langer en langer. Ek werk die hele lengte van die 1,2 m domkrag deur, maar dit help niks nie. Al wat gebeur het, is dat die strop nou langer is.

Nou ja, so vang slim sy baas. Vir dié truuk het ek eintlik ’n kabel nodig en nié ’n strop nie.

Dis tyd om ’n ander plan te maak. Ek besluit ek gaan probeer om die Cruiser se wiele met die hoogligdomkrag op te lig en dan klippe onder te pak. Gelukkig het ek ’n lekker groot basisplaat wat ek as stewige voetstuk vir die domkrag kan gebruik.

Die plan werk verbasend goed op die modderige grond. Die domkrag sak nie weg nie en lig jou wrintiewaar die wiele hoog genoeg. Ek toets die plan eers net op die agterwiele en maak hulle mooi op platterige klippe staan. Ek klim in, sit die Cruiser in trurat en violà! Vir Volker het dit dalk gelyk of die Cruiser net ’n simpel sprongetjie teruggee in die gemors in, maar vir my is die kar nou sowat 20 cm nader aan droë grond as wat hy ’n oomblik gelede was.

Ek takel nou al vier wiele een vir een. Volker besef dit sal vinniger gaan as hy hand bysit en dra ewe entoesiasties klippe aan. Lig op en pak klippe, lig op en pak... en dan ’n klein sprongetjie nader aan die verlossing.

Nadat ons die proses ’n goeie agt keer herhaal het, byt die Cruiser se bande skielik en hou aan ry uit die gemors uit.

Ons is vry!

Ek stel voor ons draai eerder nou om en ry met die lang pad verder. Volker hou egter vol ons druk deur. Heel duidelik het die avontuurgogga hom gebyt. Ons druk deur, en ’n entjie verder is ons deur die sogenaamde Kliphek waar ons ons lyn oor die groot klippe versigtig moet kies. Hier is ook dele wat amper moerasagtig is, maar met Volker op die punt van sy sitplek is ons sonder voorval deur.

Ek het baie sleg gevoel oor die hele storie. Dit was veral vir my ’n verleentheid dat my klant so hard moes werk om te help. By my was daar geen twyfel dat ek nie weer vir Volker sou sien nie.

Maar ek was verkeerd.

Volker was elke jaar terug, op soek na nog. Die volgende jaar het hy met ’n digitale kamera gekom en moes kwansuis al sy foto’s wéér neem. Die jaar daarna het hy glo tóé eers die kamera behoorlik onder die knie gehad, en die daaropvolgende jaar het hy weer ’n nuwe en beter kamera aangeskaf.

Uiteindelik het hy vyf keer saam met my deur die Richtersveld getoer, en elke keer het hy sy terugkeer op die een of ander manier geregverdig.

Ek het later gehoor hy gaan elke jaar Kgalagadi toe waar hy in ’n huurmotor op daardie berugte sinkplaatpaaie ry. Daarna vaar hy die Richtersveld vir ’n week saam met my binne, en dan gaan bring hy ook ’n week in die Sederberg deur.

Ons Richtersveld-toere was altyd in uiterste weersomstandighede waar die kwik in die omgewing van 50 ºC gedraai het. Maar hy het dit getrotseer sonder klagtes, en saans sou ons vir mekaar sê dat ons nie kan gaan lê voor die kwik onder 33 ºC is nie.

Die Richtersveld het ’n spesiale bekoring wat jou jaar ná jaar teruglok. Net soos met dié Duitser die geval was.

Dankie vir die lekker tye, Volker Jodeleit.

Jy moet ’n slag weer foto’s kom neem.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook