Die neiging in vandag se samelewing is mos om te wil uitstaan. Die uniekheid van die individu moet beklemtoon word. As jy nie skitter nie, gaan jy ongesiens deur die massa verswelg word.

Twak, sê Renault met sy Duster. Nie almal wil duisende rand betaal om met ’n paar van Kanye West se Yeezy Boost 350 V2’s aan hulle voete op Instagram te spog nie. (Toemaar, ek het klaar gaan Google: Dit is tekkies wat dié Amerikaanse hip hop-kunstenaar vir Adidas ontwerp het. En dit kos meer as wat ’n paar tekkies veronderstel is om te kos. – Red.) Daar’s ’n klomp mense wat dolgelukkig is met Grasshoppers en verheug is dat Instagram hulle nooit gaan vind nie.

Sulke mense soek, net soos met hulle skoene, waarde vir geld wanneer hulle ’n motor koop. Hulle soek iets wat ’n bietjie van alles redelik goed kan doen, ’n ryding wat lank gaan hou. Nie te sout nie. Nie te soet nie. Net reg.

Die Renault Duster is die motor wat Goue Lokkies sou kies. Nie te spoggerig nie. Nie te duur nie. Maar nogal net reg vir ons paaie hier in Suid-Afrika. Sedert die Duster in 2013 sy opwagting by ons gemaak het, het 15 000 Suid-Afrikaners met Goue Lokkies saamgestem en ’n Duster gekoop, wat dit een van die gewildste sportnutse in ons land maak. En nou is daar ’n nuwe een, en hy volg getrou die resep van sy voorganger.

Buitelangs

Die nuwe Duster behou sy bonkige voorkoms, om jou daaraan te herinner dat hy ’n sportnutsvoertuig is wat nie skaam is om grondpad te ry nie. Van sy plooie is egter uitgestryk, en dit help om hom moderner te laat lyk.

Hier speel die heeltemal herontwerpte LED-ligte voor en agter ’n groot rol, asook die nuwe 17”-allooiwielvellings wat jy op die duurder modelle kry.

Binnelangs

Dit is hier waar Renault baie aandag gegee het aan dinge soos sitplekke, raakoppervlakke, die vermaakstelsel en uitleg van die instrumentasie. Die sitplekke is beslis gemakliker (ons kan dit met groot selfvertroue verklaar, want in die Weg Ry & Sleep-garage staan twee ou Dusters waarin ons al duisende kilometers afgelê het) met meer ondersteuning vir jou lae rug en sye. Jy kan selfs nou leer as ’n opsie kies (teen ’n raps meer as R10 000).

Die Renault Duster is die motor wat Goue Lokkies sou kies. Nie te spoggerig nie. Nie te duur nie. Maar nogal net reg.

Die raakoppervlakke voel nie meer soos Tupperware as jy daaraan druk nie, en die materiale wat gebruik word, is deurgaans van ’n beter gehalte.

Die Duster was nog altyd ’n ruim motor binnelangs, met goeie kop- en beenruimte voor en agter, en die nuwe een het selfs nóg meer bagasieruimte (478 l, en dis nog voor jy die agtersitplekke platslaan).

Die motor se vermaakstelsel is nou meer sigbaar as voorheen, want dit sit bo die lugreëling se beheerknoppies. Jy kan jou foon maklik met Bluetooth of ’n USB-sok aan die stelsel koppel, en navigasie is standaard op die duurder Dynamique- en Prestige-modelle.

Onder die enjinkap

Die reeks begin met ’n 1,6 l- petrolenjin teen R249 900, en al die ander modelle het Renault se 1,5 l-dieselenjin. Daar is ook ’n 4x4-model wat vandeesmaand bekend gestel word, maar die Prestige, met ’n nuwe outomatiese dubbelkoppelaarratkas, is teen R334 900 die duurste een in die reeks.

Ons het met die bekendstelling op Sabie net die kans gekry om die vlagskipmodel, die 1.5 dCi Prestige 4x2, op grondpad en lang ente teer te ry. Die enjin, wat ook in die 4x4 gaan diens doen, lewer 80 kW en 250 Nm wringkrag.

Verrigting en veral ratwisseling het verbeter, maar dis steeds nie ’n motor vir die versnelbaan nie. Sy brandstofverbruik is egter goed, met Renault wat beweer dis minder as 5 l/100 km.

Hoe ry hy?

Dis waarskynlik hier waar die grootste verbetering lê. Ondanks die feit dat die onderstel dieselfde is as sy voorganger s’n, het Renault se breinbokse ’n bietjie meer tyd daaraan afgestaan om die geraasvlakke binne die motor te demp en die rit gemakliker te maak. Dit is veral opmerklik wanneer jy op die snelweg teen 120 km/h ry en jy jouself nou kan hoor dink.

Die Duster skrik ook nie vir ’n grondpad nie. Hy sit stewig en jou stopsels skud nie los nie.

Slotsom

Dis nie die motor vir jou as jy tans deur ’n middeljarekrisis worstel en die koppe van mooi jong mense wil laat draai nie. As jy te vinnig wil ry, gaan die bak boonop deur die draaie begin wieg. Maar jou naam is mos nie Sebastian Vettel nie. Jy’s hier om jou gesin veilig van die huis na die inkopiesentrum na die skool en die werk en die kerk te karwei, en nié om resies te jaag nie. En dít doen die Duster baie goed teen ’n uitstekende prys.

Spesifikasies

Model 1.5 dCi Prestige 4x2

Enjin 1 461 cc-viersilinder-turbodiesel

Krag 80 kW @ 4 000 r.p.m.

Wringkrag 250 Nm @ 1 750 r.p.m.

Ratkas 6 spoed-outomaties

Topspoed 169 km/h

Brandstofverbruik 4,8 l/100 km

Tenk 50 l

Grondvryhoogte 279 mm

Waarborg 5 jaar/150 000 km

Diensplan 3 jaar/45 000 km

Pryse Duster 1.6 Expression 4x2 R249 900; Duster 1.5 dCi Dynamique 4x2 R282 900; Duster 1.5 dCi Dynamique 4x2 (outo) R316 900; Duster 1.5 dCi Prestige 4x2 (outo) R334 900