Foto’s Leon Botha

Die Chinese vervaardiger GWM het sy weeldereeks in Suid-Afrika bekend gestel. En inderdaad is die Haval-reeks luuks; die afwerking en gehalte vergelyk goed met dié van die Europese handelsname.

Dis egter die prys en alles wat jy daarvoor kry wat die Haval van die Duitse menere onderskei. Kyk maar net na die Haval H6 C se luukse binneruim. Jy sal verskoon word as jy dink jy gaan meer as ’n halfmiljoen rand vir dié ryding moet hoes, maar verder van die kol af kan jy skaars wees.

Die duurste van die ses modelle wat plaaslik beskikbaar is, kos minder as R400 000, en die verskil tussen hom en die goedkoopste een in die reeks is skaars R60 000.

Die H6 C is in drie variante beskikbaar: die City, Premium en Luxury. Laasgenoemde is waaraan ons vandeesmaand ’n wa haak. Dié model het alles wat oop- en toemaak, en met sy 2 l- turboaangejaagde petrolenjin en bultende 310 Nm-spiere wys hy behoorlik sy staal voor die woonwa.

Sommer eersteklas, man

Die H6 C-reeks het deur die bank sleutellose toegang, en net te oordeel na die afstandbeheer is GWM met dié reeks baie gesteld op gehalte.

Dis dalk gering, maar die afstandbeheer is stewig en swaar, en wanneer jy die res van die kar deurkyk, is dit duidelik geen kort- of goedkoop paaie is gevolg nie.

Dit sluit in die panoramiese sondak, wat byna die hele dak beslaan. Daar is selfs ’n gaasgedeelte onder die sondak wat met die druk van ’n knoppie wegskuif as jy nie omgee vir die sonstrale direk op jou kop nie.

Waar jy in die basiese model die ligte se skynhoogte self moet stel, stel die Luxury se ligte outomaties volgens hoe ver die stert sak as jy laai en gewig op die haak sit.

Selfs luukshede soos parkeersensors, ’n trukamera en elektriese toevousyspieëls is standaard – op al die modelle.

As jy oopsluit met die afstandbeheer, skyn ’n rooi lig onder die syspieëls grond toe sodat ’n mens “Haval” langs die kar kan lees.

’n Aardigheid is die afdraandebeheerknoppie. ’n Mens verwag dit eerder in ’n 4x4, want in dié nutsvoertuig is dit onwaarskynlik dat iemand in die kruipmodus só stadig teen ’n bult wil afry.

’n Kameralens onder die linkerspieël is iets wat ’n mens nie op elke kar sien nie – selfs in luukse motors. Maar in die H6 is daar ’n knoppie regs op die stuurwiel wat SVC gemerk is en wat jy druk sodat dié kamera se beeld op die truskerm wys.

Só kan jy byvoorbeeld die randsteen dophou terwyl jy parallel parkeer. Dié kamera werk slegs as die Haval stadiger as 15 km/h beweeg.

Die trukamera wys uiteraard ook die beeld na agter wanneer ’n mens terugstoot, en dan word die radio se klank terselfdertyd uitgedoof. Ongelukkig raas die trusensors dadelik as jy met ’n woonwa terugstoot. Daar is darem ’n stilmaakknoppie langs die rathefboom waarmee jy die alarm kan stil kry.

Die rekenaarskerm het ’n verstelling waar jy kan kies of ’n wa gehaak is of nie. Selfs al kies jy die ja-opsie, raas die trusensors steeds. Volgens die slimkoppe by GWM het dié verstelling ’n uitwerking op die sensitiwiteit van die parkeerafstandbeheer. 

Pieter sê

Woonwasleep is Pieter Crous se tweede natuur. Dís wat hy dink...

Ek hou van hoe die Haval lyk, al is dit nog ’n taamlik onbekende kar op ons paaie. Die afwerking binne kan jy met enige van die Duitse motorvervaardigers vergelyk, net soos die elektriese handrem en die baie plek vir die mense op die agtersitplek.

Die meerderheid Chineesvervaardigde voertuie se binneruim gee ’n mens ’n plastiekgevoel, maar dis beslis nie die geval met die Haval nie.

Hy is lekker stewig binne, ’n mens hoor geen vibrasies nie en die ratspane is ’n gawe bederf. Hulle werk selfs in die gewone outomatiese modus waar jy self ’n laer of hoër rat kan kies. Teen 100 km/h draai die enjin teen 2 000 r.p.m. en jy voel nie die woonwa nie.

Die radio se stelknop tussen die voorsitplekke is soortgelyk aan dié van Mercedes-Benz, maar waar Merc s’n al die funksies van die radio beheer, stel hierdie een net die volume.

Die sitplekgordelliggies by die spieëltjie is gaaf, maar ek dink hulle gaan pla in die aand (en ek sien nie plek waar jy hulle kan afskakel nie). Dis ook vreemd dat ’n kar met al dié luukses nié ’n navigasiestelsel het nie.

Die dubbelkoppelaarratkas is natuurlik wakker en reageer onmiddellik, en die enjin trek lekker. Dít terwyl ’n mens uiters gemaklik sit.

Die meerderheid Chineesvervaardigde voertuie se binneruim gee ’n mens ’n plastiekgevoel, maar dis beslis nie die geval met die Haval nie.

Vir my werk die afdraandebeheer as jy byvoorbeeld baie stadig teen ’n bult wil afry sonder om jou voet op die versneller te sit. Die enjin hardloop nie weg met die sleepkombinasie nie.

Die sierrooster het nóg ’n rooster agter dit wat die verkoeler beskerm ingeval ’n voël in jou pad sou kom.

Wanneer ’n mens die Haval met die afstandbeheer sluit, maak die ruite wat nog oop is, ook outomaties toe – ek hou daarvan.

’n Mens sou verwag om rondom R500 000 vir dié soort luukses te betaal, maar teen R390 000 is dit uitstekende waarde vir geld... dis ’n prys wat nie maklik geklop gaan word nie.

Dit wemel van weeldes

In dié prysklas sien ’n mens weinig voertuie met ’n elektriesverstelbare sitplek vir die bestuurder. Haval neem dit selfs ’n stappie verder: Albei die voorsitplekke kan met die druk van ’n knoppie verstel word.

’n Mens sien ook nie aldag stelknoppies vir die radio tussen die voorsitplekke (agter die rathefboom) nie. Dis gerieflik.

Wanneer jou linkerarm op die kassie tussen die twee sitplekke rus, is jou hand lekker naby vir dié knoppies. Jy kan dus die klank stel sonder om links te kyk of die raakskerm (nóg verder) vol vingermerke te maak.

Die SVC-knoppie regs skakel die kamera onder die linkersyspieëls aan.

Nie net laat weet die Haval jou wanneer dit tyd is om die skoene van die skyfremme op elke wiel te vervang nie; hy hou ook ’n ogie oor al vier die bande. ’n Digitale diagram op die instrumentepaneel wys die druk én temperatuur van elke band – jy kan dus sien as een van die bande dalk te pap is of te warm word.

Die rekenaar maak boonop alarm as die lesings die hoogte inskiet.

Die oggend van ons sleeptoets is die bande- en buitetemperatuur albei 19 ºC, maar ná 2 km op die pad (op pad om die wa te haak), styg die bande se temperatuur reeds met 4 ºC. Ná 146 km (nadat ons die wa op 61 km haak) staan die bande op 49 ºC, ’n volle 14 ºC warmer as die buitetemperatuur van 35 ºC.

Na afloop van die toets was die bande 40% warmer as die buitetemperatuur, terwyl die druk net 10% toegeneem het van 2,12 bar tot 2,35 bar.

Drie sitplekgordelwaarskuwingsliggies vorm deel van die onderkant van die middelspieël. Dis vir die agtersitplekke. Wanneer niemand agter sit nie, skyn al drie die liggies. Sodra iemand op die ooreenstemmende sitplek sy sit kry, skakel dié liggie af. Jy kan dus sonder om om te draai maklik sien wie van die kroos jy moet aansê om vas te maak.

Die stuurwiel kan soos ’n mens verwag op en af stel tot waar dit vir jou gemaklik is, maar dit kan ook nader en verder van jou af stel. Nog ’n regmerk vir die Haval.

Seepgladde ratte

Die ratkas, ’n Getrag-dubbelkoppelaarratkas, skakel seepglad oor. (Getrag is ’n Duitse ratkasvervaardiger met ’n ellelange CV in die ligtevoertuigbedryf wat ratkaste aan handelsname soos Volkswagen, Ferrari en Volvo verskaf.)

Jy kan ook die ratte self verander met die ratspane agter die stuurwiel. Maar selfs dan (in die M-modus) kan jy nie die enjin se toere buitensporig opjaag nie. Dán kies die ratkas self die regte rat om die enjin te beskerm.

As ’n mens oor één ding kan kla, is dit die enjinkap. Dit maak soos ’n konvensionele kap oop wat jy dan op ’n afswaailat laat rus. Maar dié lat word só warm jy kan skaars daaraan vat.

Die boekie waarsku ’n mens voorts om die watertemperatuurmeter dop te hou wanneer jy teen ’n steil helling sleep – dit is om te keer dat die enjin oorverhit. Indien dit wel gebeur, moet jy dadelik aftrek en die enjin laat luier tot dit afkoel, volgens die handleiding.

Gansnek en sakplaat

Jy kan tussen ’n stang met ’n gansnekbolgedeelte kies (blou in die diagram onder), of die soort waarop ’n sakplaat pas (pienk).

Die toetsvoertuig het ’n gansnekstang waarvan die bolgedeelte met twee 12 x 70 mm- boute aan die groter stangarm vasgebout word. Die bol staan altesame 48 cm bo die pad, maar die stang is só ontwerp dat jy nie die bolhoogte kan verstel nie. As jy ’n sakplaat wil gebruik om by die regte hoogte vir jou woonwa te kom, kan jy ’n stang met ’n flensplaatgedeelte kies.

Vinnige feite

Die sleephaak Bosal bou die haak, wat nie standaard is nie. Dit kos rondom R6 500 (gemonteer) en is vir ’n sleepvrag van 2 000 kg en ’n neusgewig van 100 kg gesertifiseer. Dit neem 90 minute om die stang aan te sit.

Vering Onafhanklike MacPherson-vering voor en onafhanklike dubbelmikvere agter. Onder die Sprite se neusgewig het die stert net 25 mm gesak.

Wat sê die skaal? 1 980 kg met ’n vol tenk brandstof, die bestuurder in die Haval en die Sprite se neusgewig op die haak. Die kombinasiemassa was 2 840 kg, wat ’n goeie 1 390 kg ruimte laat vir die passasiers en bagasie (in die bagasiebak en woonwa).

Binneruimte Vir ’n sesvoetmens is daar een dwarshand bo die kop. Op die agtersitplek is dit drie vingers bo jou kop en en vier voor die knieë.

Spoed Wanneer die odometer 100 km/h wys, is die GPS-spoed 95 km/h.

Brandstofverbruik Al is die voertuig goeie waarde vir geld, laat die brandstofverbruik ’n mens effens steier. Teen 6,7 l/100 km (6 km/l) kan jy net 366 km sleep met ’n vol tenk brandstof – dis maar halfpad tussen Gauteng en Durban. Die Haval se rekenaar verskil nie veel met ons somme nie en gee die verbruik aan as 18,8 l/100 km (5,3 km/l).

Afwerking Stewig, stylvol en oorwegend swart – wat blink en dowwe panele insluit.

Ekstras en opsies

  • Jy kan kies tussen vyf kleure: swart, bruin, silwer, rooi en wit.
  • Sitplekverhitters kos R3 000.

Ander modelle?

City (handrat) R329 900

Premium (handrat) R339 900

Luxury (handrat) R359 900

City (outomaties) R359 900

Premium (outomaties) R369 900

(Almal het ’n 2 l-enjin en 4x2-aandrywing.)

Die sleepding

Fabrikaat Sprite Model Sprint

Jaarmodel 2014

BVM 1 110 kg

Gelaaide gewig op die as tydens toets 860 kg geweeg gehaak aan die Haval.

Neusgewig 120 kg (standaard, voor ’n mens die wa laai)

Weg Ry en Sleep het die Sprint by Tygerberg Caravans geleen.

Bel Wesley Dempster by  021 982 4670 as jy hom wil bekyk. tygerbergcaravans.co.za


Wat sê die boekie?

Brandstof Petrol

Enjin 1,967 l

Silinders 4

Krag 145 kW @ 5 200 r.p.m.

Wringkrag 310 Nm @ 2 000-3 600 r.p.m.

Ratkas Sesspoed-outomaties (dubbelkoppelaar).

Aandrywing Voorwiele.

Tarra 1 769 kg

BVM 2 235 kg

BKM 4 230 kg

Waaddiepte Nie beskikbaar.

Sleepvermoë vir geremde sleepding Tot 2 000 kg

Afmetings 4 549 mm (l); 1 835 mm (b); 1 700 mm (h)

Wielbasis 2 720 mm Spoorwydte 1 565 mm (voor en agter).

Grondvryhoogte 145 mm

Brandstoftenk 61 l (dit sluit die reserwebrandstof in).

Prys (nuut) R389 900

Prys (tweedehandsOns het op autotrader.co.za ’n 2018-model met 7 980 km op die klok gesien vir R379 900.

Weg Ry & Sleep sê Die inlooptyd vir die enjin is 5 000 km. Vermy skielike stilhou vir die eerste 300 km en woonwasleep vir die eerste 800 km.