Die Honda Jazz is een van die duurder klein luikrugmotors wat plaaslik verkoop word en dit is ’n sinvolle ryding om die kinders by die skool te gaan haal en oor die naweek inkopies te doen.

Jy koop egter nié ’n Jazz om die boendoes in te vaar nie… tensy jou naam Jefferson Palma van Kalifornië in Amerika is. Jeff het sy 2015-model Jazz (wat in ander dele van die wêreld as ’n Fit bekend staan) aan die einde van 2017 tweedehands gekoop. Hy wou die karretjie ’n bietjie warmer maak en het klein kosmetiese veranderinge aangebring om die Jazz meer vaartbelyn te laat lyk. Hy was egter in ’n klein ongeluk betrokke en moes ’n paar panele vervang.

Daarna het hy namarkse produkte aangebring om die kar se bande met hulle allooivellings knus in die wielboë te laat pas, en kort voor lank ’n fiets en dakrak laat aanbring én besluit dit sal ’n goeie idee wees om die vering te lig.

Hy het ook ’n stel veelterreinbande laat aanbring, en vir die oomblik was Jeff geholpe vir sy kamp- en bergfietsuitstappies. Maar die veldrygogga het gebyt, en kort voor lank het hy sy eie onderdele en toevoegings begin vervaardig om die Jazz op te dollie. Hy het ook onderdele van ander vervaardigers gebruik wat op die Honda pas, soos die snorkel wat hy van ’n Toyota Tacoma gekry het. Hoe rowwer die terrein geword het, hoe beter het sy bande geraak.

Jeff se Jazz
Jeff se Jazz
Jeff se Jazz
Jeff se Jazz

Hy spog nou met 31”-modderbande. Interessant genoeg is Jeff se Jazz, soos enige model in die reeks, net ’n voorwielaangedrewe voertuig, maar dit lyk of hy nie sukkel in sand, modder óf sneeu nie. Dit is danksy die kar se lae massa en die groot voetspoor van die bande.

Hy is nog nie klaar met sy modifikasies nie: Jeff het onlangs die dakrak vir ’n ander soort verruil én hy het sy eie glyplanke gemaak vir wanneer die rotse te groot raak.

Die 1,5 l-VTEC-enjin sorg gewoonlik vir billike brandstofverbruik, maar nie in Jeff se geval nie. As gevolg van al die modifikasies kry hy maar tussen 10-15 l/100 km, afhangend van bestuurstoestande.

Jeff se Jazz
Jeff se Jazz
Jeff se Jazz

Jeff het tot dusver die paaie van Amerika platgery en het tot so ver as Kanada en Mexiko gereis met sy Jazz. En daar is klaarblyklik geen keer aan hom nie, want sy mikpunt nou is om ’n miljoen myl – ’n volle 1,6 miljoen kilometer – af te lê met die kar.

Jeff deel al sy wedervaringe op sy YouTube-kanaal, Whatz Production.

Het jy iewers in jou omswerwinge ’n seldsame sleepsel of ryding gesien?
Vertel ons daarvan en stuur vir ons ’n foto na  rysleep@weg.co.za.