foto’s Kyle Kock

Citroën het einde verlede jaar sy terugkoms na Suid-Afrika aangekondig deur sy beste voetjie voor te sit en slegs sy gewildste drie modelle uit die sogenaamde B-segment – een luikrug en twee sportnutsbukse – bekend te stel.

Die luuksste van die drie, die C5 Aircross, is gegrond op die Peugeot 5008 en op hom berus al Citroën se ambisies om ’n suksesvolle terugkeer tot Suid-Afrika se groeiende sportnutsmark te maak. Soos die naam aandui, is dié ryding ’n verwerking van die C5-sedanmotor, ’n voertuig met ’n ooraanbod van katoeters wat laas met ander luukse voertuie meegeding het, maar met beperkte sukses. Omdat sedanverkope daal en sportnutsverkope groei, glo ons die C5 Aircross het ’n beter kans op sukses.

Aweregse voorkoms

Die C5 Aircross volhard met die ovaalvorm voorkoms wat ons ’n paar jaar gelede vir die eerste keer op die Citroën C4 Cactus gesien het. As jy hom van die kant af bekyk, sal jy opmerk dat Citroën nie duidelik onderskeid maak tussen enjinruim, passasiersruim en bagasieruim nie.

Hy’s dalk nie so rond en eenvormig as die C3 Picasso-bussie van die vorige dekade nie, maar die C5 Aircross slaag daarin om sy neus deel te maak van die algehele ontwerp sonder om soos ’n pap bol wol op vier breinaalde te lyk.

Ander radikale ontwerpelemente sluit in die gesplete hoofligte aan weerskante van die dubbele sierrooster.

Die boonste helfte hiervan bevat LED-dagryligte wat afgerond word deur chroomstrokies wat in die middel van die sierrooster bymekaarkom om die maatskappy se dubbele chevron-kenteken te vorm. Die nagligte met ’n hoë en lae verstelling lê in die onderste deel van die sierrooster.

Op die vlagskipmodel, die Shine, word die laer onderste hoeke van die voorbuffer versier deur geronde reghoeke en vals luggate wat afgerond word deur kontrasterende kleure – in dié geval helderrooi (of is dit skeloranje?) teenoor die bakwerk se donkergrys. Hierdie treffende elemente kan ook gesien word aan die kant onder die voorste deur, en die kleur word herhaal op die dakrelings.

Die motief word agterlangs herhaal in vier ovaalvormige LED-remligte binne ’n groter geronde reghoek aan weerskante van die agterklap. Die sjarmante voorkoms word afgerond met afgeplatte uitlaatpype met ’n silwer afwerking.

Onder die enjinkap

Nes feitlik al die ander motorvervaardigers het Citroën ook besluit om die koers van klein- eerder as grootkapasiteitenjins in te slaan, maar binne perke. Die maatskappy gebruik ’n 1,6 l-viersilinderturbopetrolenjin wat ’n skaflike 121 kW en 240 Nm opwek – dié syfers plaas die C5 Aircross reg in die middel van sy mededingers. Sy maksimumkraglewering is beter as sommige van hulle, maar die wringkrag laer.

En terwyl sommige van sy tydgenote ’n byderwetse dubbelkoppelaarratkas kry, het die C5 Aircross ’n gewone 6 spoed- outomatiese ratkas wat slegs die voorwiele aandryf. Die kombinasie werk naatloos saam en die blikbrein verskaf net die regte hoeveelheid brandstof en suurstof aan die enjin as jy versnel.

Jy kan beheer oor die outomatiese ratkas neem deur ’n M-knoppie op die rathefboom te druk en die ratwisselspane agter die stuurwiel te gebruik.

Hoe ry hy?

Die versnelling voel oorwegend sterk, veral as jy haastig is en heeltyd voet in die hoek ry, maar ongeduldige bestuurders word gestraf by die vulstasie. Ons kon nie Citroën se verbruiksyfer ewenaar nie, en teen die tyd dat ons die C5 Aircross moes teruggee (die dag vóór die aanvang van die nasionale inperking) kon ons slegs sowat 9 l/100 km haal vergeleke met die amptelike syfer van 7,9 l/100 km. As jy die blikbrein toelaat om self die ratte te kies, sal jy ’n effense verlaging in die brandstofverbruik sien.

Citroëns was nog altyd bekend vir hulle gemaklike rit, en die C5 Aircross is geen uitsondering nie

Ondanks ’n effense trae wisseling wanneer jy aan ’n ratspaan trek, voel die ratkas wel seepglad en akkuraat. Citroëns was nog altyd bekend vir hulle gemaklike rit, en die C5 Aircross is geen uitsondering nie.

Op al vier skokbrekers gebruik hy wat die maatskappy “progressiewe hidrouliese kussings” noem om die rit te versag, selfs op ’n stamperige pad. Die dik 235/55R18-bande dra natuurlik ook daartoe by dat jou rugwerwels nie afslyt nie.

Die vering is nie uitsluitlik vir grondpad ontwerp nie en presteer selfs beter op teerpad waar dit enige ongelykhede mooi uitstryk. Die sagte vering veroorsaak ongelukkig ook dat die bakwerk wieg as jy deur haarnaalddraaie ry of hard rem. Dié papperige hantering word vererger deur ’n veerligte stuuraksie en ’n stuurwiel wat jy met jou pinkie kan draai. As jy egter bedeesd ry, sal die C5 Aircross jou en jou gesin in gemak koester.

GROOT EN OOP EN STIL. Die binneruim van die C5 Aircross voel heerlik ruim danksy die panoramiese sondak. Die oor­wegend swart afwerking word mooi opgekikker deur metaal- én heelwat grys elemente. Die instrumentepaneel is digitaal en die motor moet aangeskakel word vóór jy enigets kan sien. Mooi futuristies.

Innoverende binneruim

Binnelangs voel die C5 Aircross groter as baie van sy mededingers danksy ’n panoramiese gesplete sondak. Die voorste deel kan opwip en oopgly, en as die son jou bles se gal werk, kan jy hom heeltemal toemaak met ’n sonskerm (wat deur ’n knoppie beheer word).

Hier’s ’n mengsel van harde panele en oppervlakke wat sag onder jou vingerpunte voel, maar die gehalte van die afwering is lofwaardig. Die metaal en blinkswart elemente kontrasteer mooi met verskeie skakerings van grys. Die sitplekke bestaan uit twee skakerings van grys en hulle is gemaklik met puik ondersteuning.

Dit gaan egter nie alles oor kleurskakerings nie. Jy sal oplet dat daar betreklik min knoppies binnelangs is. Dit is omdat dat die lugreëling, klankstelsel en ritrekenaar op die 8”-raakskerm in die middelkonsole beheer word. Dit is slegs die volumeknop, voor- en agterruitontwasemer, lugtoevoer, ruite en deurslotte wat fisieke knoppies het.

Sodra jy agter die stuurwiel inskuif, sal jy opmerk dat daar geen toereteller of soortgelyke instrumente is nie. Dit is omdat jy eers die aansitterknop moet druk om die digitale lesers aan te skakel. Die digitale uitleg is verstelbaar sodat jy byvoorbeeld slegs die spoedleser en brandstofvlak kan sien, of elke ganse lesing sodat jy ’n ogie oor alles kan hou.

Daar is ’n ruim bêreplek tussen die voorste insittendes met ’n liggie sodat niemand hoef rond te soek na beursies en selfone nie, plus ’n koordlose laaier voor die rathefboom wat breed genoeg is vir ’n kleinerige tabletrekenaar.

Die agterbank kan vorentoe en agtertoe skuif en die rugleuning is verstelbaar sodat Ouboet, die paalspringatleet, sal inpas, en die bagasieruim het pakplek vir die hele gesin se tasse en sakke.

Slotsom

Net soos die meeste modelle in die handelsmerk se geskiedenis is die C5 Aircross ook ’n voertuig wat verdeeldheid saai. Te oordeel na die afwesigheid van kyke wat ons gekry het, is die C5 Aircross minder omstrede as Citroëns uit vroeëre dae, en die modelle wat in Suid-Afrika verkoop word, is stemmiger sodat hy nie voornemende kopers sal afskrik nie.

Ons dink nie Citroën verwag werklik om verstommende getalle voertuie te verkoop só kort na sy terugkoms na Suid-Afrika nie, maar hy bied voornemende kopers ’n stewige aanbod met luukse affêrings wat aanklank behoort te vind by diegene van ons wat nie deel van die kleurlose norm wil wees nie.

SPESIFIKASIES

Enjin: 1 598 cc-viersilinderturbopetrol

Krag: 121 kW @ 6 000 r.p.m.

Wringkrag: 240 Nm @ 1 400 r.p.m.

Ratkas: 6 spoed-outomaties

Topsnelheid: 180 km/h

Versnelling: (0-100 km/h) 10,5 s

Brandstofverbruik: 7,9 l/100 km

Tenk: 53 l

Bagasieruim: 520 l

Bande: 235/55R18

Grondvryhoogte: 230 mm

Veiligheidsgradering: * * * * (EuroNCAP, 2019)

Diensplan: 5 jaar/100 000 km

Waarborg: 5 jaar/100 000 km

Prys: R514 900

Mededingers
Mededingers

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook