Kom ons kry eers die deel oor die enjin agter die rug: Die Amarok se V6-enjin is dieselfde een wat jy in ’n Touareg, Audi Q7 en Porsche Cayenne vind, en hy’s gekoppel aan VW se uitstekende 8 spoed- outo-matiese ratkas. In Augustus 2017 het ons ’n boswa aan die V6 Amarok gehaak, en hy het ons beïndruk, maar vandeesmaand toets ons die meneer se veldryvermoë.

Veldrypuriste verkies ’n kortkierie langs die rathefboom, en sommige bittereinders hou selfs daarvan om uit te klim en wielnaafslotte met die hand te sluit – g’n elektroniese katoeters vir hulle nie, dankie. Die Amarok V6 4Motion wat ons onlangs getoets het, behoort hierdie puriste die josie in te maak, want hy het ’n knoppie wat al die bestuurder se veldrybesluite oorneem. ’n Knoppie waarop bloot staan: “Off Road.”

Ons het daai knoppie gedruk en in die berge rondom Thabazimbi gaan ry. Agterna het ons uitgevis hoe die 4Motion-viertrekstelsel werk.

En wat doen daai knoppie?

Volkswagen se 4Motion-stelsel is beskikbaar in ’n voltydse én deeltydse weergawe. In die deeltydse 4Motion-stelsel (beskikbaar in die 2.0 l-weergawes) word die enjin se krag deur ’n oordraratkas na die voor- en/of agteras gestuur op die bestuurder se aanvraag. Maar hier fokus ons op die V6 met sy voltydse 4Motion en daai enkele Off Road-knoppie.

In die voltydse 4Motion-stelsel, soos die een wat ons getoets het, word die enjin se krag na albei asse gestuur deur middel van ’n oordraratkas wat permanent gesluit is, en ’n tussenas-Torsen-ewenaar met beperkte gly. Die Torsen-ewenaar (torque-sensing differential) werk soortgelyk aan ’n gewone ewenaar, maar sluit outomaties wanneer daar ’n wanbalans in wringkrag is tussen die voor- en agteras. Die Torsen-ewenaar laat toe dat tussen 20% en 60% van die wringkrag na die vooras gestuur word en tussen 40% en 80% na die agteras. Geen dryfas kan 100% van die wringkrag ontvang nie.

Deur die knoppie te druk skakel jy hulpmiddels, soos die veldry-sluitweerremfunksie, veldrystabiliteitsbeheer en afdraandespoedbeheer (hill-descent control), aan. Die blikbrein besluit dan self watter funksie wanneer gebruik moet word. In die veldrysluitweerremmodus word die remdrukfases verleng en die remdruk vinniger verlaag. Wanneer ’n wiel gly, word ’n wig sand of gruis doelbewus deur die sluitweerremstelsel voor die wiel opgehoop wat help om die Amarok tot stilstand te bring.

Dis net die ding vir mense wat min gepla is oor goeie 4x4- praktyke. Al wat vir hulle saak maak, is dat hulle Amarok ’n hindernis sal baasraak.

Die veldrystabiliteitsbeheer skop stadiger in teen snelhede laer as 50 km/h wanneer die Amarok stuurtraagheid ervaar, en ook teen snelhede laer as 70 km/h as oorstuur plaasvind. Die afdraandespoedbeheer werk deur die remme outomaties te beheer en dit voel amper soos laestrek, hoewel die oordraratkas geen laestrekratte het nie. ’n Onsigbare warboel van slim elektroniese besluite word dus elke keer ontketen wanneer jy daai knoppie druk. Dis net die ding vir mense wat min gepla is oor goeie 4x4-praktyke. Al wat vir hulle saak maak, is dat hulle Amarok ’n hindernis sal baasraak – hoe die Amarok dit regkry, is die blikbrein se saak.

Maar werk dit?

Die Off Road-knoppie werk gaaf, maar hy speel beslis nie in dieselfde liga as ’n geharde veldryer, soos ’n Toyota Land Cruiser of die Nissan Patrol, nie. Selfs ’n Mitsubishi Triton met sy Super Select II- stelsel sal ’n Amarok ore aansit. Wat wel in die Amarok se guns tel, is dat jy nooit jou kop hoef te breek of jy tweede rat en hoëstrek of derde rat in laestrek moet gebruik om die sandduin voor jou te tem nie – jy plaas bloot jou vertroue in Volkswagen se ingenieurs en programmeerders wat jare se veldrykennis gerekenariseer het.

’n Ander indrukwekkende eienskap is die Amarok se gemaklike rit. Ons het oor klippe so groot soos kokosneute gery – en dit kon net sowel gholfballe gewees het, want die kajuit het weinig geskud. Die Amarok het ’n skaflike grond- vryhoogte van 239 mm en ’n waaddiepte van 500 mm.

Die V6-turbodiesel is effens oorbodig vir normale veldrytoestande waar jy eerder versigtig as haastig moet wees, maar as ons die V6 in Namibië se Skedelkusroete getoets het, sou ons die ekstra krag gewaardeer het. En as jy steeds sukkel, is daar ’n ewenaarslot op die agteras wat teen enige spoed aangeskakel kan word.

In ’n neutedop

Die V6 maak sin as ’n sleepvoertuig of haastige bakkie vir die langpad, maar ons is nie oortuig die voltydse 4Motion-stelsel vaar beter as sy mededingers in veldrytoestande nie. Die sessilinderenjin is ’n bielie en die vering is uiters gemaklik, maar die Mercedes-Benz X-klas-V6, wat ons onlangs in Suid-Amerika ervaar het, gaan die V6 Amarok dalk opdreun wanneer hy later in 2018 in Suid-Afrika bekend gestel word.

SPESIFIKASIES

Model getoets 3.0 TDI V6 4MOTION

Enjin 2 970 cc, sessilinder, turbodiesel

Krag 165 kW @ 3 000 r.p.m.

Wringkrag 550 Nm @ 1 400 r.p.m. Tenk 80 l

Sleepgewig 3 200 kg

Laaigewig 1 010 kg Waarborg 3 jaar/100 000 km

Diensplan 5 jaar/90 000 km

Diensperiodes 15 000 km

VINGER OP DIE KNOPPIE. Die Amarok se binneruim is moontlik die deftigste onder ál Suid-Afrika se bakkies. Die Off Road-knoppie maak dit amper té maklik om die teerpad te verlaat en matige hindernisse aan te pak.
PRYSE

3.0 TDI V6 165 kW 4MOTION Outo Highline R665 700

3.0 TDI V6 165 kW 4MOTION Outo Highline Plus R716 600

3.0 TDI V6 165 kW 4MOTION Outo Extreme R748 600