Cyril Klopper vind uit of die Mitsubishi Pajero Sport by die Toyota Fortuner en Ford Everest kan kers vashou.

Die stigter van Mitsubishi, Yataro Iwasaki, was ’n regte samoerai. Hy het nou wel nie met ’n swaard op die heup gepronk nie, maar hy hét sy land teen wil en dank die moderne era ingesleep. In ’n tyd toe die Japannese in isolasie gelewe en ongewillig die eerste stappe na industrialisasie geneem het, het Yataro metaalrompskepe aangekoop en ’n skeepsvaartmaatskappy op die been gebring. Sy nageslag het die maatskappy verder uitgebrei tot een van die grootstes ter wêreld.

Hoewel Mitsubishi Heavy Industries nie meer aan die Iwasaki-familie behoort nie, bly dit ’n formidabele maatskappy waarvan Mitsubishi-motors ’n betreklike klein deeltjie uitmaak. Hulle produkte is effens eiesoortig, maar gewoonlik ook van uitstaande gehalte. Kan ’n mens dieselfde oor die nuwe Pajero Sport sê?

Op die oog af

Van voor af lyk die Pajero Sport darem baie na ’n Toyota Fortuner. Daar’s dieselfde vertikale chroomstroke, eenderse hoofligte en ’n ewe skuins voorruit. Maar as jy hom van agter af bekyk, lyk dit soos geen ander ryding wat jy al ooit gesien het nie. Die naaste vergelyking is ’n onderstebo 2007 Volvo XC90. Daardie remligte is eienaardig verby en gaan beslis verdeeldheid saai. Die agterste buffer is ook nie juis vleiend nie.

Van die kant af is dit duidelik dat die Pajero Sport meer kurwes het as enige van sy mededingers, veral vergeleke met die Ford Everest en die Chevrolet Trailblazer (rus in vrede, ons hoop hy kry ’n tweede kans as ’n Isuzu MU-X).

Smaak verskil, maar ons dink die Pajero Sport is mooi – ondanks daai agterligte.

AGTERBAKS. Dis ’n wintie ryding, maar die remligte is effens vreemd. Gelukkig maak die netjiese binneruim op vir enige tekortkominge. Die dae van kortkieries is getel, want deesdae het alle veldryers ’n 4WD- en ritmodusknop. Die agterste sitplekke is gemaklik mits jy ’n kleuter is. Dis veral nuttig as jy skoolkinders na ’n sportdag moet vervoer.

Binnelangs

Die instrumentepaneel lyk heelwat anders as dié van sy mededingers. Terwyl die Ford Everest amperse Amerikaanse stilering gebruik en die Toyota Fortuner ’n mengsel van Japannese en Europese sensitiwiteit, is die Pajero Sport onbeskaamd Japannees: hoeke en skerp lyne. Nuwe toerusting sluit in ’n elektroniese handrem, 4WD-draaiknop en ritmodusknoppie. Ons hou veral van die ratwisselpedale agter die stuurwiel.

Soos gewoonlik is die derde ry sitplekke slegs vir kinders bedoel, maar ons waardeer dit dat die middelste ry sitplekke uit die pad kan wip sodat hulle darem maklik kan inklim sonder om bo-oor die middelste rugleunings hoef te klouter.

Onder die enjinkap

Die nuwe Pajero Sport is beskikbaar in twee- en vierwielaandrywing, maar daar is slegs een enjin: ’n 2,4 l-DOHC- interverkoelde turbo- diesel met elektroniesbeheerde veelpuntbrandstofinspuiting (MIVEC). Hierdie enjin is sterker as die 2,5 l wat hy vervang (hy is selfs sterker as die 3.2 DID), maar lewer steeds nie merkwaardige werkverrigting nie – die 133 kW teen 3 500 r.p.m. is voldoende eerder as indrukwekkend – maar die wringkragsyfer van 430 Nm teen 2 500 r.p.m. is lofwaardig wanneer jy teen ’n steil opdraande moet versnel.

Die instrumentepaneel lyk heelwat anders as dié van sy mededingers.

Mitsubishi is met reg trots op sy agtspoed- outomatiese ratkas met sogenaamde “intelligente” wisselbeheer. Hy lewer uitstekende werk om die regte rat te kies – enige rat. Soms is ’n doodgewone outomatiese ratkas wat aan die regte enjin vasgebout is, beter as byderwetse palwisselratkaste.

So ry hy

Die nuwe Pajero Sport gee ’n sagte rit met min padgeraas op ’n snelweg. Dis beslis beter as dié van die uittredende model, maar die vering is steeds nie heeltemal na wens nie. Dwarswinde veroorsaak matige bakrol, en as jy vinnig om ’n skerp draai ry, voel jy duidelik hoe die voertuig oorleun. Dit was ’n merkbare probleem met die vorige Pajero Sport, en al is dit beter, kon Mitsubishi steeds nie daarin slaag om dit hok te slaan nie.

Die vering-enjin-ratkas-kombinasie lewer aanvaarbare resultate op ’n snelweg, maar dis op ’n grondpad waar die Pajero Sport koning kraai. Vergeet van die remligte en effense bakwieg, en klink eerder ’n glasie op ’n vervaardiger wat veldry ernstig opneem.

Die 2,4 l-enjin se kraglewering is seepglad eerder as brutaal en die uitstekende vering lag sinkplaatpaaie en slaggate af. Wanneer dit by tegniese terrein kom, ken die Pajero Sport waarskynlik geen gelyke nie. Ons het hom teen die Matroosberg, die Wes-Kaap se hoogste berg, uitgery en dit was kinderspeletjies. Trouens, ons het ’n 4x4-leek gevra om agter die stuur in te skuif, en hoewel dit sy eerste besoek aan Matroosberg was, kon hy die roete doodluiters baasraak.

PRYSE

2.4 D4 MIVEC 2WD (outo R569 995

2.4 D4 MIVEC 4x4 (outo) R599 995

In ’n neutedop

Yataro Iwasaki, die samoerai in ’n kantoorpak, sou trots gewees het op die nuwe Pajero Sport. Hy’s bekwaam, modern en eiesoortig. Goed, vir dorpsake verkies ons ’n Ford Everest en Toyota Fortuner, maar as ons vakansieplanne ’n besoek aan Vanzylspas of die pad na die Hel insluit, gaan ons beslis eerder na die Pajero Sport se sleutels gryp.

SPESIFIKASIES

Model getoets 2.4 D4 MIVEC 4x4 (outomaties)

Enjin 2 400 cc, viersilinder- turbodiesel

Krag 133 kW @ 3 500 r.p.m.

Wringkrag 430 Nm @ 2 500 r.p.m.

Tenk 68 l

Sleepgewig 1 800 kg

Laairuimte 813 l

Waarborg 3 jaar/100 000 km

Diensplan 5 jaar/90 000 km

Diensperiodes 10 000 km