Foto's Leon Botha

Die Mitsubishi Pajero het ’n reputasie opgebou vir sy vernuftige 4x4-vermoë, en die nuwe Pajero Sport stel geensins teleur nie. Al druk dié sportnuts die weegbrug se naald ’n raps verby die 2 t-merk, buig hy met 430 Nm tussen die voorwiele allermins die knie voor ’n wa.

Die eerste Sport-variant het ’n dekade terug op die toneel verskyn, en sedertdien het ’n halfmiljoen van hulle reg oor die wêreld baas gekry.

Die jongste geslag is beskikbaar in twee modelle. Hulle laat ’n mens dink aan identiese tweelingbroers waarvan die een beter op die atletiekbaan vaar, terwyl die ander een beter is met velditems.

Die twee is in der waarheid presies dieselfde met ’n keuse tussen tweewielaandgedrewe of 4x4. Jy hoes R30 000 meer vir die 4x4 en sy brutovoertuigmassa (BVM) is ook 110 kg hoër.

Die ligte en swaar kant

As ’n mens kyk na die tarragewig van die Pajero Sport, het Mitsubishi die sleepvragperk met sowat 200 kg afgebring. Albei modelle mag ’n vrag van tot 1 800 kg sleep, waar die toetsvoertuig, ’n 4x4-model, se tarragewig 2 035 kg is.

Dit beteken egter nié die wa se BVM moet minder as 1 800 kg wees nie. Die wa op die pad moet net nie 1 800 kg oorskry nie, terwyl die wa se BVM dan ook nie swaarder as die Pajero se tarragewig van 2 035 kg moet wees nie.

As die amptenaar by die weegbrug wil hare kloof, kan hy jou opdraande gee as jy die Pajero tot sy maksimum-BVM van 2 710 kg laai en die wa 1 725 kg oorskry. Want as jy die BVM van die BKM (4 435 kg) aftrek, gee dit jou 1 725 kg.

Meneer, die haak

Die Pajero Sport se sleepstang is só fris gebou, dit lyk amper of dit op ’n stootskraper hoort. Die grootste deel van die stang steek langs die bakwerk uit.

Haak vir ’n vale. Die haak is een van die stewigste stange wat jy op die mark sal sien, en omdat hy boonop ’n ingeboude sakplaat met 3 stelle gate het, is daar niks om oor te kla nie.

Die haak word deur Bosal gemaak en is vir ’n sleepvrag van 3 t gesertifiseer, met ’n neusgewig van 140 kg. Dit is goed stewig en het boonop ’n ingeboude sakplaat – ’n mens sien selde drie stelle gate bo mekaar.

In die onderste stel gate is die bokant van die bol 50 cm bo die pad en in die boonste gate 57 cm. Boonop staan die bol se middelpunt 17 cm weg van die bakwerk af.

Dit beteken jy gaan nie sommer jou nuwe kar krap as jy per ongeluk verby die koppelstuk terugstoot nie.

Die haak vergemaklik sake verder: die ligteprop het ’n ring LED-ligte onder aan die kant wat op die haakgedeelte én op die pad direk onder dit skyn. Dit help baie wanneer jy in die donker wil haak.

Sodra jy die kar met die afstandbeheer oop- of toesluit, skyn die lig tot dit ná ’n minuut weer vanself afskakel.

Effens anders

Die Pajero Sport kom omtrent met alles wat oop- en toemaak, ook met spesifieke geriewe wat op woonwaslepers gemik is.

Die outomatiesverstelbare hoofligte is ’n voorbeeld en standaard in albei modelle. Wanneer ’n mens wegtrek, sluit al die deure, en al hou jy stil, bly hulle net so toegesluit, maar sodra jy die Pajero in Park sit, sluit al die deure onmiddellik oop.

Die handrem werk elektries soos jy die knoppie daarvoor trek en druk vir die gryp en los. Die handrem is in die middelkonsole tussen die voorsitplekke, net soos by ’n klompie ander vervaardigers.

in die kajuit. Die trukameraskerm sit soos verwag bo in die middelkonsole, en ’n mens sien mooi wat agter die Pajero gebeur. Die elektriese handremknoppie sit ook in die middel tussen die sitplekke, en die hand­rem gryp en los net wanneer jy die knoppie gebruik.

Die een verskil is hoe en wanneer dit vasgryp en los. Gewoonlik los die handrem outomaties wanneer jy die rem trap en dan weer los om te versnel. ’n Mens sien selfs motors waar hierdie rem ook outomaties vastrek wanneer jy stilhou.

Die Pajero s’n werk slegs wanneer jy die knop trek of druk. As dit vasgetrek staan en jy probeer wegtrek, klou hy sonder om te los. Dieselfde vir die stilhou: Jy moet die knop optrek sodat hy kan gryp.

Al het die Pajero ’n trukamera met trusensors, registreer dit nie wanneer jy ’n woonwa se ligteprop by die harnas inprop nie. As jy dus die Pajero in trurat sit, sien hy die wa en maak alarm asof jy daarteen gaan vasstoot.

Dit pla nie, want die knop om die alarm stil te maak sit by jou regterknie. Wat wel pla, is waar die bol van die haak op die skerm wys. Die kamera se lens sit 25 cm links van die middelpunt van die kattebakdeur – en op die skerm is die bol ver regs. Jy is dus effens verward as jy terugstoot en op die skerm kyk om te korrel.

Nietemin kan ’n mens darem sien wat agter die kar aangaan.

Die oorgroot ratspane is ’n ongewone luuksheid. Dit sit aan weerskante van die stuurkolom, in die middel. Hierdie spane is nie beskeie pedale soos dié waaraan ’n mens gewoond is nie, maar breër as jou hand.

Al draai jy taamlik skerp, kan jy steeds maklik raakvat sonder om die stuur te los. Dis nogal aardig dat die Pajero Sport nie ’n sitplekgordelalarm het nie.

ie Pajero kla glad nie as iemand in die kar – jy of enige van jou passasiers – nié vasgegespe is nie. 

Groot ore. Die rat­spane lyk of dit agter die stuur wegkruip, maar sodra jy die stuur­wiel draai, sien jy hoe lywig die spane eintlik is.

Pieter sê

Pieter Crous is al donkiejare ’n sleper. D
is wat hy dink van die nuwe Pajero Sport.

Hierdie sitplekke sit ongelooflik... lekker diep, en die sitgedeelte en rugleuning is ook nie ewe ferm nie. Dis harder onder jou sitvlak, terwyl die leuning soos ’n kussing om jou rug vou. Dit is báie gerieflik – ek wens my sitkamerbank wil so lekker sit.

Vir my is gerieflik sit in ’n sleepvoertuig een van die belangrikste dinge. Dit kan ’n transaksie maak of breek wanneer ek rondkyk om te koop.

Die holtes in die middelkonsole vir jou koeldrankblikkie is vir die groter soort, wat beteken ’n kleiner blikkie (soos Red Bull) gaan rondval.

Die ratkas is allesbehalwe ’n sluimerende stel sperratte, en skakel vinnig oor. Wanneer die Pajero op dreef is teen ’n bestendige sleepspoed, verander hy rat sonder dat jy dit regtig voel.

Die wind druk vandag en ek voel dit, maar dit Pajero sit stewig op die pad. Die enjin beïndruk my nie regtig nie, maar hy het genoeg krag om die wa van 1½ t maklik te sleep.

As jy aan die ratspaan raak, skakel hy dadelik oor – op óf af – en dan wys hy vir jou in die instrumentepaneel in watter rat jy is. As jy die ‘+’-spaan vir 2 s inhou, skakel die ratkas weer oor na die gewone outomatiese modus sonder dat jy aan die rathefboom hoef te raak.

Selfs met die swaar wa op die haak is die voertuig redelik sag geveer. Al ry jy met die een kant se wiele van die teer af, weet jy amper nie daarvan nie só goed sorg die vering vir die ritgerief.

Soos ’n mens dan verwag, stryk hy ’n sinkplaatpad gelyk. Tog voel die vering effens wiegerig, maar nie so erg dat dit pla nie. Vir ’n 4x4 draai hy ongelooflik skerp. (Volgens Mitsubishi is die Pajero Sport se draaisirkel van 11,2 m die beste in sy marksegment. – Red.)

In ’n ‘Sport’-model soos dié sou ek ook luukshede soos blindekolsensors en baanbeheer wou sien. Maar ek moet sê ek is verbaas oor die prys – ek het heelwat duurder verwag. Die Pajero Sport is dus uitstekende waarde vir geld.

As ek in hierdie segment moet kies, staan die Pajero Sport heel voor.

Die sleepding

Fabrikaat Jurgens Safari Model Xplorer

Jaarmodel 2012

BVM 1 650 kg

Woonwagewig op die skaal 1 480 kg

Neusgewig 140 kg

Weg Ry & Sleep het die Jurgens Xplorer by Tygerberg Caravans geleen. Bel vir Wesley Dempster 021 982 4670 as jy die Xplorer van nader wil bekyk. tygerbergcaravans.co.za

Die toets

Afstand 133,6 km

Topspoed 117 km/h (GPS)

Gemiddelde spoed 56,4 km/h (snelweë, agterpaaie, beboude gebiede en ’n stuk grondpad).

Rytyd 2 uur en 24 minute.

Weer 18 ºC, meestal bewolk met reën hier en daar, en ’n stewige noordewind van 31 km/h.

Wat sê die boekie?

Brandstof Diesel

Enjin 2,442 l

Silinders 4

Krag 133 kW @ 3 500 r.p.m.

Wringkrag 430 Nm @ 2 500 r.p.m.

Ratkas 8 spoed-outomaties (met tikfunksie plus lae- en hoëstrek).

Aandrywing Agterwiel of vierwiel met hoë- en laestrek en agterste ewenaarslot.

Tarra 2 035 kg

BVM 2 710 kg

BKM 4 435 kg

Waaddiepte 700 mm

Sleepvermoë vir geremde sleepding Tot 1 800 kg

Afmetings 4 785 mm (l); 1 815 mm (b); 1 805 mm (h)

Wielbasis 2 800 mm

Spoorwydte 1 520 mm (voor); 1 515 mm (agter)

Grondvryhoogte 215 mm

Brandstoftenk 68 l

Prys (nuut) Vanaf R599 995 Prys (tweedehands)

Ons het ’n 4x2-model (2017) met 22 500 km gesien vir R489 900 op autotrader.co.za

VINNIGE FEITE

Die sleephaak Die haak is nie standaard nie. Die toetsvoertuig s’n kom van Bosal en is gesertifiseer vir ’n sleepvrag van 3 t en ’n neusgewig van 140 kg. Die haak kos R4 241 ekstra en die installasie neem ongeveer 2 uur.

Vering Dubbelmikkronkelvere met rolstaaf voor en veelskakel met rolstaaf agter. Die stert het ’n goeie 44 mm gesak onder die neusgewig van die Xplorer.

Wat sê die skaal? 2 360 kg met die bestuurder in die Pajero en ’n vol tenk brandstof. Die brutokombinasiemassa van 3 680 kg op die skaal is ongeveer 700 kg kort van die toegelate BKM. Dit laat genoeg plek vir ’n hele klompie passasiers in die kar asook 100-200 kg vrag in die wa.

Binneruimte ’n Dwars-hand oop bo die kop asook voor die knieë op die agtersitplek, en twee vingers oop bo jou kroontjie – ook op die agtersitplek.

Spoed Die odometer is 5 km/h uit – jou GPS-spoed is 95 km/h wanneer die odometer wys jy ry 100 km/h.

Brandstofverbruik Volgens die rekenaar en ons eie sommetjies ’n heel skaflike 13,8 l/100 km (7,2 km/l). Vir dié grootte kar verwag ’n mens tog ’n effens groter brandstoftenk, veral as jy dink aan 4x4-ry op afgeleë plekke of ver ente sleep. Met ’n vol tenk gaan jy ongeveer 490 km kan ry.

Binneafwerking Donker, solied en stylvol. Hier en daar dowwegrys panele, onder meer langs die middelkonsole en die deurhandvatsel. Rondom die radio is daar blinkswart plastiek.

Ekstras Onder meer ’n dakrak R9 565, glystawe R8 972, pensplaat R3 585, bufferstaaf R5 130 en navigasiestelsel R14 535.

Ander modelle ’n 4x2-model R569 995

Weg Ry en Sleep sê Deel van die stangwaarborgvoorwaardes is uiteraard dat jy hom nie oorlaai nie. Dit geld ook as jy ’n fietsrak op die stang monteer. Dan mag jy nie meer as twee fietse vervoer met ’n hangfietsrak nie (vir ’n staanfietsrak is die perk drie).