Foto’s Leon Botha

As ’n mens kyk hoe die nuwe Land Rover Discovery vir slepers toegerus is, wil jy amper sê hy ken sy gelyke in dié marksegment nie.

Kyk maar na al die nuwighede: Die agtervering se hoogte kan onder meer hoër of laer stel, wat beteken die bolhoogte sak of lig saam met die vering. Dit maak dit maklik om waens van verskillende hoogtes sonder ’n sakplaat te haak.

Die stang het ook ’n ingeboude elektroniese skaal sodat jy weet wat die koppelstuk van die wa op die bol weeg. Verder gaan die Discovery self die ligte van die woonwa na om te sien of al die gloeilampies werk soos dit moet.

En asof dít nie genoeg is nie, help die Discovery jou ook om met die wa om ’n draai terug te stoot... sonder dat jy aan die stuurwiel raak. Dit is gewoon merkwaardig.

En dan is daar die Discovery se waaddiepte van 90 cm, een van die bestes op die mark. Wanneer jy dít by ’n waterkruising nodig kry, gaan jy eerder jou wa moet afhaak, anders dryf hy nou-nou agterna.

Ligter, met baie knoppies

Die Land Rover-handelsnaam is al sedert die Tweede Wêreldoorlog met ons, en sedert daardie tyd is sy Defender-modelle van aluminium gebou – omdat daar ná die oorlog soveel vliegtuigskroot was.

Vandag, meer as 70 jaar later, speel aluminium steeds ’n beduidende rol in die nuwe Discovery. Die nuwe model weeg ’n halwe ton ligter as sy voorganger omdat die bakwerk nou ook grootliks (85%) uit aluminium bestaan, met meer as die helfte daarvan (43%) herwonne aluminium.

’n Mens is nie verbaas om te sien die kajuit lyk soos dié van ’n Boeing nie. Alles werk met knoppies en dit voel of jy net die stuurwiel in die regte rigting moet draai – die Discovery sorg vir die res. Daar’s ’n klein knuppelknoppie aan die regterkant van die stuurkolom waarmee jy die stuurwiel op, af, verder of nader aan jou stel.

Die Discovery het nie ’n rathefboom nie. Nadat jy die knoppie gedruk het om die enjin aan te skakel styg ’n ronde knop uit die middelkonsole tussen die twee voorsitplekke. Met dié knop kies jy dan tussen die modusse van die outomatiese ratkas.

groot ÉN weggesteek. Die navigasieskerm kan nie groter nie, en die rathefboom is ’n knop wat uit die middelste konsole lig om die ratmodusse te verander.

Die tweede en derde ry sitplekke slaan ook met die druk van ’n knoppie plat, en wanneer jy met passasiers ry, weet die rekenaar of die mens op elk van die sewe sitplekke vasgegordel is.

Jy sien ook dadelik op die instrumentepaneel wie die sondaar is as iemand sy gordel in die ry uitklik. Om die lewe vir jou nóg makliker te maak trek die elektriese handrem outomaties vas wanneer ’n mens die ratkas in Park sit.

En asof dít nie genoeg is nie, help die Discovery jou ook om met die wa om ’n draai terug te stoot... sonder dat jy aan die stuurwiel raak.

Gewoonlik kan jy nie ’n outomatiese voertuig afskakel en die sleutel uittrek sonder dat een of ander alarm afgaan omdat die kar nie in Park staan nie.

Die Discovery kan jy in Reverse, Drive én in die Sport-modus afskakel en die ratkas skakel dan outomaties oor na Park. As jy in Neutral afskakel, staan hy net so met die handrem opgetrek.

Haak is die standaard

Jy kan tussen drie enjins kies: ’n 3 l-petrol (450 Nm) of -diesel (600 Nm) of die 2 l-petrol (400 Nm). Almal van hulle is beskikbaar in die S-, SE-, HSE- en HSE Luxury-weergawes, elk met verskillende luukses.

Die verwyderbare haak is standaard op al die modelle, en soos in die geval van die toetsmotor het jy ’n opsie van ’n elektriese uitswaaihaak. Hierdie haak pas wel nie op die drie S-modelle nie en gaan jou ’n verdere R17 000 uit die sak jaag.

Land Rover het die Discovery se sleepvermoë op 3,5 t vasgestel, en die neusgewig vir die standaardhaak mag nie 195 kg oorskry nie. Die elektriese haak se perk is 350 kg.

Onthou net, die owerheid laat jou slegs ’n neusgewig van 100 kg toe. Die knoppie om die haak uit te vou sit links agter in die bagasiebak. Wanneer jy die knoppie druk, gaan ’n alarm voor in die kajuit af terwyl dit uitvou.

Ná 14 sekondes is jy reg om te haak. (Dit neem 16 sekondes om weg te vou en die alarm gaan weer af.)

Met die stang uitgevou is die bol 43 cm bo die pad – dis met die vering op sy laagste, met die kar afgeskakel. Langs die haakknoppie is die knoppie om die agterste vering te lig ingeval jou wa se koppelstuk hoër is.

Die bol lig tot ’n volle 56 cm bo die pad – dit is 13 cm hoër as die laagste verstelling. Wanneer jy die ligteprop koppel, moet die Discovery afgeskakel wees sodat die rekenaar die wa kan raaksien wanneer jy aanskakel.

Die sleepwa-swaaibeheer word dan ook outomaties geaktiveer. Dis nie nodig dat iemand agter die wa staan om te help kyk of al die ligte werk nie; nog ’n knoppie agter in die bak skakel elke lig van die woonwa afsonderlik aan en af in ’n 3 minute-siklus.

Só kan jy dus self agter die wa staan om te kyk vir dooie gloeilampe.

Op die teaterskerm

Drie-oog. As jy wil hê die Discovery moet jou help om om ’n hoek met die woonwa terug te stoot moet jy ’n plakker met drie kolle teen die wa plak. Die rekenaar fokus op die kolle en sit dan hand by met die terugstoot.

Die trukameraskerm is ’n stewige 23 cm breed. Die lens in die bagasiebakdeur sit 73 cm bo die stang, maar is ook 16 cm na regs.

’n Mens verwag dus dat die stang op die beeld nie in die middel sal wees nie. Die beeld na agter beslaan net 16 cm van die skerm se 23 cm. Land Rover gebruik slim tegnologie en die bol is so te sê in die middel van die skerm en net 5 mm na links.

Terugstoot met die hulp van die skerm is dus maklik. Dis nie aldag dat ’n kar self vir jou kan sê wat die vrag op die bol is nie. Maar dis een van die lesings wat die Discovery se rekenaar vir jou gee.

Vir die Echo Kavango wat ons gehaak het, wys hy byvoorbeeld “120-150 kg”. (Dis die droë gewig van die Kavango, vóór ’n mens laai om die gewig onder 100 kg te kry.)

Só kan jy dus self agter die wa staan om te kyk vir dooie gloeilampe.

Die rekenaar help ’n mens ook as jy terugstoot. Wanneer jy ’n spesifieke wa die eerste keer haak, kan jy sy gegewens (soos die breedte en die afstand tussen die koppelstuk en as) vir die rekenaar voer. Jy kry ook ’n spesiale plakker saam met die kar wat jy teen die voorkant van die wa plak.

Die plakker is omtrent so groot soos twee plat hande langs mekaar en het drie swart kolle op – twee onder en een bo – elk so groot soos ’n gebalde vuis. Die plakker moet 1-2 m van die Discovery af wees (in ons geval 1,12 m). Die rekenaar “sien” die plakker deur die trukamerastelsel raak en laat weet jou hy’s gereed om te help met die terugstoot.

Nou kan jy sonder om aan die stuurwiel te raak terugstoot.

Digby die ratkasknop is nog ’n knop waarmee ’n mens aanpas vir die padtoestande – soos sand, sneeu of klip. As jy die knop nog ’n entjie verder uittrek, beheer jy die rigting waarheen jy terugstoot.

Twee indekslyne wys nou soos ’n baan op die skerm en is jou korrel. Die lyne is by die beeld van die plakker op die skerm. Groen lyne beteken jy stoot reguit terug; ’n kromming na links of regs beteken jy draai; en rooi sê die wa kan knipmes.

As jy die rempedaal los, begin die Discovery terugstoot terwyl hy luier. Dis nie vinniger as 9 km/h nie en op sy vinnigste gelykstaande aan ’n haastige stapspoed. Soos jy die knop draai, wys die lyne op die skerm in watse rigting jy terugstoot, terwyl die stuurwiel vanself draai.

’n Mens kan wel nie net op die skerm staatmaak nie, want jy kan nie agter die wa sien nie, maar dit help as jy die truspieëls saam met die rekenaar gebruik.


Pieter sê

Van buite af lyk die nuwe Land Rover Discovery kleiner as die vorige model, maar as jy inklim, is dit ’n ander storie. Dis ongelooflik ruim.

Die rekenaar weet van die woonwa, want wanneer jy die flikkerligte gebruik, wys daar nie net ’n groen rigtingpyltjie in die paneelbord nie, maar ook die ikoon van ’n sleepwa.

Ek geniet die gedreun van die V6-enjin, maar ’n mens weet ook dit beteken baie liters brandstof wat deur die enjin jaag. Maar as ’n mens soveel vir ’n voertuig betaal, is die brandstofverbruik minder van belang.

’n Ryding met dié soort spesifikasies kan net ’n ordentlike sleepvoertuig wees. Hy het meer as genoeg krag, is stabiel en swaar. Die rit is tog effens stamperiger as my ervaring met die vorige model.

Dit neem slegs 9 s om van 80 km/h tot 120 km/h te versnel, en nadat die enjin aanvanklik afrat, jaag hy die toere tot by die rooi (6 500 r.p.m.) sonder om oor te skakel.

Teen 120 km/h weet jy steeds nie van die wa nie. Ek kon hom in ’n japtrap tot 150 km/h druk – verstommend. (Pieter! Red.)

Die slim trustelsel beïndruk my, maar ek kom tog beter reg op my eie met die stuur. Ek dink dit sal beter werk as ’n mens ook ’n trukamera agter op die wa het.

Al is dit ’n groot voertuig, het hy ’n besonderse klein draaisirkel. As ’n pad ’n skouer op albei kante het, draai jy eensklaps met die wa sonder om van die skouers af te ry.

Die sig deur die truspieël is beperk. Die agterruit is klein, en die agterste ry sitplekke se kopstutte staan in die pad. Gelukkig is dit minder van belang wanneer ’n mens sleep, want jy kyk teen die wa vas.

Dis die soort sleepvoertuig waarin jy die spoedbeheer aanskakel, agteroor sit en ontspan terwyl jy die stuur in die regte rigting hou. Ek is glad nie opgewonde om die sleutels terug te gee nie.

Die sleepding

Fabrikaat Echo4x4 Model Kavango Tec

Jaarmodel 2017

BVM 1 500 kg

Gelaaide gewig op die as tydens toets 1 120 kg (geweeg gehaak aan die Discovery)

Neusgewig 150 kg (nie gelaai)

WegRy & Sleep het die Kavango by Tygerberg Caravans geleen. Bel vir Wesley Dempster by  021 982 4670 as jy die Kavango van nader wil bekyk.  tygerbergcaravans.co.za

Die toets

Afstand 105 km

Topspoed 144 km/h (GPS)

Gemiddelde spoed 61,4 km (snelweë, agterpaaie, beboude gebiede asook grondpad)

Rytyd 1 uur en 44 minute.

Weer 15 ºC, sonnig en ’n suid-suidoostewind van 21 km/h.

Wat sê die boekie?

Brandstof Petrol

Enjin 2,995 l

Silinders V6

Krag 250 kW @ 6 500 r.p.m.

Wringkrag 450 Nm @ 3 500 r.p.m.

Ratkas 8 spoed-outomaties

Aandrywing Permanente vierwiel met standaard- sentrale ewenaarslot en opsionele agterste ewenaarslot.

Tarra 2 155 kg

BVM 3 170 kg

BKM 6 670 kg

Waaddiepte 900 mm (teen nie vinniger nie as 7 km/h)

Sleepvermoë vir geremde sleepding Tot 3 500 kg

Afmetings 4 974 mm (l); 2 002 mm (b); 1 846 mm (h)

Wielbasis 2 923 mm

Spoorwydte 1 703 mm (voor); 1 698 mm (agter)

Grondvryhoogte 208-283 mm (verstelbare lugvering)

Brandstoftenk 89 l

Prys (nuut) Vanaf R1 388 700

Prys (tweedehands) Op autotrader.co.za het ons ’n HSE 2017 Si6-model met 22 000 km op die klok gesien vir R1 199 000.

VINNIGE FEITE

Die sleephaak ’n Verwyderbare haak is standaard, maar jy kan ook ’n Brink- elektriese uitswaaistang kies (soos ons toetsvoertuig). Die stang is gesertifiseer vir ’n neusgewig van tot 350 kg en het ’n D- waarde van 16,32 kN – dis gelykstaande aan 1664,18 kg en verwys na ’n spesifieke vragtoets vir die stang.

Vering SLA-vering met dubbelelaerskakels, lugvere met passiewe dempers voor, en integrale skakelvere agter ook met lugvere en passiewe dempers. Met die agterste vering op sy hoogste gelig, het die voertuig 3 cm gesak onder die 150 kg neusgewig van die Kavango.

Die rit is meer stamperig op ’n sinkplaatgrondpad as wat ’n mens verwag..

Wat sê die skaal? 2 720 kg met ’n vol tenk brandstof, die bestuurder in die kar en die Kavango se neus op die stang.

Binneruim Die bagasiebak het pakplek vir Afrika, maar ook ’n slim uitvoublad wanneer jy die bagasiebakdeksel oopmaak. Soos die deur lig, vou ’n 30 cm breë blad plat na buite. Dit kom handig te pas vir ekstra steun wanneer ’n mens goed in- en uitlaai, en keer dat goed by die agterdeur uitval.

Die klap het ook ’n knoppie as jy dit maklik wil oop- en toemaak.

Spoed Die odometer is 5 km/h uit teenoor die GPS-spoed - met die odometer op 100 km/h wys die GPS 95 km/h.

Brandstofverbruik Volgens die motor se rekenaar was die verbruik 17,7 l/ 100 km (5,6 km/l), maar volgens ons somme was die syfer 25 l/100 km (4 km/l). Dis effens aan die swaar kant, maar teen 7 000 km was die toetsmotor se enjin nog nie mooi ingeloop nie.

Afwerking Donker, solied, stylvol en duursaam, en ’n knoppie vir elke ding.

EKSTRAS

Daar is meer as 80 opsies vir die Luxury-model. Slegs vir ’n wit of swart kar betaal jy nie ekstra nie – die ander 10 kleure kos tussen R5 500 en R38 500 ekstra.

Ander ekstras sluit in ’n verhitte stuurwiel (R3 600), banddrukmonitors (R7 700), elektroniesbeheerde ewenaar (R16 800) en sewe sitplekke (R22 500).

Die Discovery-reeks

• 2.0 S R976 200

• 3.0 TDV6 S R1 016 400

• 3.0 V6 Si R1 056 100

• 2.0 SE R1 121 100

• 3.0 TDV6 SE R1 155 900

• 3.0 V6 Si SE R1 173 900

• 2.0 HSE R1 243 700

• 3.0 TDV6 HSE R1 277 000

• 3.0 V6 Si HSE R1 295 000

• 2.0 HSE Luxury R1 337 400

• 3.0 TDV6 HSE Lux R1 370 600

• 3.0 V6 Si HSE Lux R1 388 700

Weg Ry en Sleep Vir ’n meer egalige wegtrek met ’n woonwa wat 2 t oorskry, kan jy wegtrek met die ratkas in die laestrekmodus. Sodra jy aan die beweeg kom, kan jy oorskakel na hoëstrek.