Die Qashqai is beslis een van die pioniers onder kompakte sportnutsvoertuie, wat ongekende gewildheid in Suid-Afrika én elders geniet.

By die plaaslike bekendstelling van die opgegradeerde Qashqai was Nissan trots om rapporteer dat hy meer as 30 000 eenhede verkoop het sedert hy 10 jaar gelede in Suid-Afrika bekend gestel is. En tot op hede is 3,3 miljoen van hulle reg oor die wêreld verkoop.

Dit is ook interessant om op te let dat die Qashqai beter verkoop as sy ouboet, die X-Trail. In Europa, byvoorbeeld, word daar vir elke X-Trail wat verkoop word, drie Qashqais van die hand gesit.

Omdat die motorbedryf vereis dat produkte relevant en nuut bly, is dit ’n fyn balans om ’n motor te vernuwe sonder om ’n wenresep te befomfaai.

Buitelangs

Gelukkig is die Qashqai se bakwerk min verander. Die tweede geslag Qashqai was meer hoekig as die oorspronklike Qashqai met sy geronde lyne, en Nissan het nie juis daaraan gekarring nie.

Hulle het slegs aan die neus gewerk en die V-vormige sierrooster vernuwe. Dié is nou groter en smelt beter saam met die herontwerpte buffer.

Die LED-strokie wat bedags aan bly, is nuut en ontwerp om soos boemerangs te lyk. Van die kant af het selfs nóg minder verander; eintlik is net die allooi- wielvellings herontwerp om minder windweerstand te bied. Die groter voor- en agterbuffers maak die Qashqai 17 mm langer – hy het nou ’n totale lengte van 4 394 mm.

Binnelangs

Die eerste ding wat die oog tref, is die leerbedekte stuurwiel wat nou afgeplat is aan die onderkant. Die sitplekke is ook nuut. Eerste indrukke is uiters belangrik en die Qashqai slaag beslis daarin om sy beste voetjie voor te sit.

Nissan het alles uitgehaal met die ontrimpe­ling van die Qashqai – en jy kan dit aan die gehalte van die materiale sien. Die Tekna-model is toegerus met 19”-alooiwielvellings en ’n lekker groot raakskerm op die middelkonsole.

Nissan sê hy het gehaltemateriale regdeur die kajuit gebruik. Alles – van die leerbekleedsel tot die plastiekpanele en selfs die valsmetaalstroke – voel meer duursaam en aangenaam om aan te raak.

Nissan se fokus op insittendes se gemak en veiligheid is waarskynlik die beste deel van hulle voertuie, en dit is beslis die geval in die Qashqai.

Die vlagskipmodel, die 1.5 dCi Tekna wat ons by die bekendstelling toetsbestuur het, is toegerus met ’n groot raakskerm met satellietnavigasie en ’n mediasentrum. Daar is sewe Bose-luidsprekers regdeur die kajuit wat vir uitstekende klankgehalte sorg.

As jy die Qashqai se prys in gedagte hou, is die klankstelsel beslis ’n pluspunt. Veral stemme en instrumente word helder weergee. ’n Ander noemenswaardige eienskap is dat jy ál die ruite kan oop- en toemaak met een flink druk van ’n knoppie – én jy kan hulle met ’n afstandbeheer aan die sleutel beheer.

Só ry hy

Die 1,5 l-turbodiesel neem die leisels oor by die vorige 1,6 l-turbodiesel- en 1,6 l-petrolmodel. Die ratkaskeuse is ook beperk tot handrat.

Die dieselenjin het weinig klepgeraas en die versnellerpedaal voel asof dit direk aan die enjin vasgebout is. Die 6 spoed-handratratkas het ons nie laat wik en weeg nie, en dít dra by tot die Qashqai se sorgvrye, gemaklike rit.

Die 260 Nm wringkrag skop voor 2 000 r.p.m. in, wat help dat die Qashqai vinnig onder stadsverkeer uit kan versnel.

Nadat ons mediakonvooi die beknopte Johannesburg verlaat en noord beweeg het Pretoria toe, kon ons die Qashqai laat litte losmaak op die snelweg.

Die 81 kW klink op papier nie na baie nie, maar die kragkurwe is aangepas sodat die Qashqai nooit voel asof die enjin swaar trek nie.

Wanneer jy ’n stadige voertuig verbysteek, moet jy dalk een rat afwaarts wissel, maar andersins laat loop hy.

Nissan gee die brandstofverbruiksyfer as 4,2 l/100 km vir hierdie model en ons bevinding – ná ’n haastige rit op die snelweg en ’n slakkepas in besige spitsverkeer – was soortgelyk teen 4,7 l/100 km.

Slotsom

Nissan se fokus op insittendes se gemak en veiligheid is waarskynlik die beste deel van hulle voertuie, en dit is beslis die geval in die Qashqai.

Die isolering teen geraas en vibrasies is puik, die rit is sag, en Nissan span veiligheidskatoeters in soos blindekolwaarskuwing en sensors wat die pad voor én rondom jou monitor.

Die vorige Qashqai was reeds ’n veilige ryding, maar nou is hy selfs beter.

SPESIFIKASIES

Model Qashqai 1.5 dCi Tekna

Enjin 1 461 cc-viersilinder- turbodiesel

Krag 81 kW @ 4 000 r.p.m.

Wringkrag 260 Nm @ 1 750 r.p.m.

Ratkas 6 spoed-handrat

Brandstofverbruik 4,2 l/100 km

CO2-vrystelling 109 g/km

Tenk 65 l

Bagasieruim 430 l

Maksimumsleepgewig 1 350 kg

Grondvryhoogte 180 mm

Waarborg 6 jaar/150 000 km

Diensplan 3 jaar/90 000 km

Prys R434 000