Ek was ’n jong motorjoernalis toe my destydse baas sy Audi RS4 vir ’n Lexus RX verruil het. Die besluit om ’n vuurwarm V8-sedan vir ’n bonkige, hibriede sportnutsvoertuig te ruil het vir my as ’n petrolkop geen sin gemaak nie.

Dalk het sy gholfsak beter in die RX gepas, of moontlik het die “groen”-faktor by die Royal Cape-gholfklub ’n rol gespeel. Die waarskynlike rede was seker dat die Lexus ’n gemaklike en luukse rit gebied het terwyl die V8-sedan nogal duur was om te onderhou.

Sedert die 1980’s het die Japannese vervaardiger sy reputasie gebou op betroubare motors wat hulle kopers gelukkig hou.

Danksy die moedermaatskappy, Toyota, het Lexus ook vir hom ’n nis uitgekerf met sy futuristiese hibriede tegnologie. Die evolusie van die RX oor die eerste drie geslagte was ’n tydsame proses, maar dit het verander met die bekendstelling van die vierde geslag in 2015 toe skerp hoeke en voue die voorkoms van die motor aansienlik verander het.

Die jongste aanpassings aan die RX is veral voorlangs, waar smaller LED-kopligte nou van nuwe tegnologie gebruik maak om nie net die pad voor jou nie, maar ook die padskouers, voetgangers en padtekens beter te verlig. Hoewel die RX ’n groot motor is, lyk dit danksy die opgekikkerde ontwerp meer na ’n koepee as ’n sportnuts.

Binnelangs

Die instrumentepaneel word in twee verdeel, met die 12,3 duim-vermaakskerm wat nou makliker deur die passasier én bestuurder bereik kan word.

Jy kan die raakskerm gebruik óf ’n muis op die middelste konsole langs die bestuurder se linkerbeen. Of jy kan jou stem gebruik om instruksies te gee. Jy kan jou slimfoon ook aan die RX koppel deur of Apple Car Play of Android Auto te gebruik.

Die RX is sy eie Wi-Fi-kol (met 15 GB gratis data wat nie ’n vervaldatum het nie); dus kan jy musiek of kaarte aflaai as jou data skraps raak.

Op die pad

Die ouskool 3,5 l-V6-petrolenjin werk mooi saam met die hibriede aandrywingstelsel in die RX 450h. Die motor loop stil op die dorp en jy kan hom gas gee op die snelweg.

As jy nie haastig is nie, kan jy rondspeel met die Eco-modus om te kyk hoe glad en hoe ver jy kan ry voordat jy die petrolenjin wakker maak. Dis beter om die palwisselratkas al die dinkwerk te laat doen en dit beloon jou met uitstekende brandstofverbruik – al is die 65 l-petroltenk ’n raps kleiner as ’n gewone Lexus s’n om plek te maak vir al die elektroniese binnegoed.

Lexus se gevorderdste veiligheidstelsels is standaard op die hibried, wat die bestuurder help om saans voetgangers en fietsryers op te spoor. Die motor, wat met 10 lugsakke toegerus is, sal in uiterste gevalle self ’n noodstop doen.

Slotsom

Lexus is aan die voorpunt van ontwerp en tegnologie – veral wat hibriede en elektriese motors betref. Al sy modelle word goed toegerus, en daar is min waarvoor jy ekstra sal wil betaal. Jy kan nie met die hibried sleep nie, maar dis dalk die motor om jou gewoond te maak aan die toekoms.

Inligting
Inligting