Daar is niks ongewoons daaraan dat voertuigvervaardigers ’n spesiale weergawe van ’n ryding bekend stel kort voordat daardie model bokveld toe gestuur word nie. Hierdie weergawes spog dikwels met al die opsionele ekstras – nou as standaardtoerusting.

’n Ander tendens is dat hierdie weergawes slegs van toepassing is op die vlagskipmodel. Daardie allegaartjie van ’n ryding, deurspek met katoeters, is uiters gewild, want almal wil immers die lekkerste bakkie besit.

As jy dus ’n bakkie soek wat by jou leefstyl sal inskakel, maar jy beplan nie om ernstige 4x4-hindernisse aan te durf nie – een wat lekker vertoon, maar darem nie kinders langs die pad in trane laat uitbars nie – is die Isuzu D-Max X-Rider Black dalk nommerpas vir jou.

Voorkoms is alles

Dít is die leuse van die X-Rider Black. Hy is in wese ’n opgedolliede D-Max 2.5 TD met agterwielaandrywing.

Daar’s slegs een model beskikbaar en hy’s die een wat die swart mantel ontvang het. Hierdie swart kat se naam slaan die spyker op sy kop, want álles is swart. Blinkswart soos ’n Webber-braai, en jy kan hom in geen ander kleur koop nie.

Die donker bakverf word beklemtoon deur ’n bloedrooi Isuzu-kenteken op die sierrooster en rooi X-Rider-kentekens op die deure, wielnawe, rolstaaf en die laaibak se klap. Die wielvellings is ook blinkswart en die enigste variasie hierop is die matswart sierrooster, dakstawe, treeplanke en agterbuffer.

Hy’s dalk nie die blinkste Stefaans op die pad nie, maar hy tref beslis die oog en ons het ’n hele paar koppe sien draai toe ons met die plaaslike bekendstelling deur Port Elizabeth se strate gery het op pad na Jeffreysbaai.

Spieëlbeeld binnelangs

Die binneruim is met dieselfde swart kwas bygedam en daar is ’n ooraanbod van blink- en matswart panele, bekleedsel, strokies, knoppies en raakskerms.

Die amper morbiede voorkoms word darem opgekikker deur rooi stikwerk op die leerbekleedsel en X-Rider-kentekens op die sitplekke asook die kopstutte.

Heel gemaklik en stil

Isuzu gee nie sy X-Rider uit as ’n avontuurvoertuig waarmee jy die Sentraal-Kalahari gaan invaar nie. Hy’s eerder gemik op die leefstylmark vir mense wat wil hê hulle bakkie moet uitblink in ’n inkopiesentrum se parkeerterrein.

Ons was heel ingenome op die ooppad met hoe stil die kajuit is. Vergeet van al die grappies wat vertel hoe raserig Isuzu se enjins is – hierdie bakkie is doodstil, selfs stiller as ons eie D-Max 300 LX-langtermyntoetsvoertuig.

Daar’s heelwat beenruimte vir die agterste passasiers, maar langer bestuurders mag dalk kla dat die stuurwiel nie diepteverstelbaar is nie.

Ten minste is die handratkas, iets wat toenemend besig is om uit te sterf, ’n bekwame stuk masjinerie wat akkuraat oorskakel, en die koppelaar is een wat raakvat.

Die 8 duim-raakskerm in die X-Rider het ander programmatuur as dié van die 9 duim-skerm in ons langtermyntoetsvoertuig. Hy kom ook met satellietnavigasie, maar hy’s makliker om te gebruik en die klankstelsel is steeds verbind aan 6 luidsprekers.

Bluetooth stel jou in staat om met jou selfoon musiek te speel in die kar. Maar in ’n onverklaarbare wending is daar ongelukkig geen USB-sok nie.

Slotsom

Jy gaan nie by die onherbergsaamste dele van ons land kan uitkom met dié bakkie nie, maar die goeie grondvryhoogte en betreklik aggressiewe invals- en vertrekhoek, asook die 255/60 R18 All Terrain General Grabbers-veldrybande gaan jou wel in staat stel om darem verder van die snelweg af weg te kom as met ’n gewone sedanmotor.

Ja, die Swart Kat slaan teer én ander avontuurpaaie ewe plesierig.

Mededingers
Mededingers
SPESIFIKASIES

Enjin: 2 499 cc, viersilinder-turbodiesel

Krag: 100 kW @ 3 400 r.p.m.

Wringkrag: 320 Nm @ 1 800 r.p.m.

Ratkas: 5 spoed-handrat

Brandstofverbruik: 7,7 l/100 km

Tenk: 80 l

Grondvryhoogte: 225 mm

Nader- en vertrekhoek: 30° en 21,4°

Waaddiepte: 600 mm

Laaigewig: 1 024 kg

Tarragewig: 1 930 kg

Maksimumsleepgewig: 2 000 kg

Waarborg: 5 jaar/120 000 km

Diensplan: 5 jaar/90 000 km

Veiligheidsgradering: * * * * * (EuroNCAP, 2012)

Model getoets: Isuzu D-Max X-Rider Black

Prys: R462 000