As jy van syfers hou, moet jy beslis die Suid-Afrikaanse Vereniging van Voertuigvervaardigers (Naamsa) se jaarlikse voertuigverkoopsyfers volg. Ons het die afgelope 10 jaar se rekords bestudeer, en dis interessant om die ondergang van eens gewilde fabrikate te aanskou en die opkoms van ander handelsmerke oor die afgelope dekade te volg.

Van 2009 tot 2011 het Isuzu vir Ford ore aangesit met dubbel die gemiddelde maandelikse verkoopsyfer. Land Rover se Defender-bakkie was kop aan kop met Mahindra se Scorpio-bakkie, en met die bekendstelling van die nuwe Ranger in 2012 het Ford van sowat 600 bakkies per maand binne ’n jaar opgeskiet tot 2 000.

Mazda het tien jaar gelede ’n skaflike 400 bakkies per maand verkoop, maar hy sak jaar ná jaar terug tot vandag waar hy landwyd nie genoeg bakkies per maand kan  verkoop om ’n tennisbaan vol te parkeer nie.

Maar die trofee vir die grootste verlies gaan aan Mitsubishi. Die destydse Colt het die Hilux opgedreun en Mitsubishi se geliefde bakkie was dikwels die topverkoper in die land. Dit was ’n mooi bakkie en hy lyk vandag steeds goed. En toe word die Triton gebore...

Selfs met die ondersteuning van Mercedes-Benz se handelaarsnetwerk het die verkope van die Triton daagliks verswak. Toe Mercedes en Mitsubishi se paaie in 2011 skei,  het die verkope van rondom 200 Tritons per maand getaan tot gemiddeld 50 bakkies. Triton se donkerste tydperk was in die tweede helfte van 2016 toe hulle slegs 1 Triton per maand van die hand kon sit.

Dit het gelyk of dit neusie verby is vir die Triton, maar ná die koms van die tweede geslag in 2017 (in ander lande 2015) begin hy stadigaan ’n tweede asem kry. Om die Triton se terugkoms aan te help het Mitsubishi onlangs ’n ontrimpeling gedoen.

Kom ons kyk hoe lyk hy nou.

Triton
Triton

Buitelangs

By die bekendstelling van die jongste Triton het ons ’n Engelsman hoor skerts: “It’s a ton of try” – natuurlik ’n woordspeling op die naam, “Triton”.

Goed, die ooraanbod chroomstrokies en wintie stilering lyk dalk soos ’n flagrante poging om jou aandag te trek, maar dalk is dit presies wat die Triton nodig het. Mitsubishi het ’n naam vir die Triton se vierkantige vooraansig: Dynamic Shield. Dit lyk soos iets uit ’n Transformers-fliek en ons is nie seker of almal hiervan gaan hou nie. Die geheelbeeld is egter treffend en hy lyk aansienlik frisser as die Fiat Fullback wat dieselfde bakwerk het. Die enjinkaplyn en smaller kopligte is hoër geplaas en sorg vir ’n kragtiger, indrukwekkender voorkoms.

Die klap van die laaibak het nou ’n gasstut wat keer dat dit oopval. Die knip het ’n ooraanbod chroom reg rondom wat glo in Oosterse markte se smaak val, maar onder  Suid-Afrikaners moontlik verdeeldheid kan saai. Die agterligte is herontwerp om die hoekige lyne van die Dynamic Shield te herhaal, en die agterbuffer is breër en frisser as voorheen.

Óns dink dis ’n mooi bakkie, hoewel die ooraanbod chroom dalk ’n bietjie skerp is op die oë.

Binnelangs
Triton
Dis nie aldag dat jy ’n armleuning in die agterbank van ’n bakkie sien nie, en dié een het boonop ’n bekerhouer.

Die instrumentepaneel is herontwerp, maar ’n leek sal nie sommer die veranderinge kan raaksien nie. Die meeste knoppies is inderdaad dieselfde, en buiten die splinternuwe leerstuurwiel is dit eintlik net die lugreëling se inlate en chroomstrokies hier en daar wat anders lyk.

Die stuurkolom kan steeds teleskopies verstel en op en af gestel word. Die stuurwiel het nog dieselfde knoppies vir die spoedbeheer en klankstelsel, en die vermaak-en-inligtingstelsel het nuwe weergawes van Apple Car-Play- en Android Auto-programmatuur wat met jou slimfoon praat.

Die viertrekstelsel

Die jongste Triton spog met Mitsubishi se nuwe Super Select II-viertrekstelsel wat ’n grond-, modder/sneeu-, rots- (slegs in 4LLc) en sandritmodus insluit. Die ritmodusse beheer die krag, ratverhoudings en remverrigting van die Triton om die hoeveelheid wielglip te beheer en sodoende die bakkie se veldryvermoë op enige terrein te verbeter.

“Die nuwe Triton is ontwerp om taai te wees en pas volmaak in dié rol,” sê Nic Campbell, hoofbestuurder van Mitsubishi-motors Suid-Afrika. “Ons is vol vertroue dat dié weergawe op die gewildheid van die oorspronklike Triton en die 40 jaar se ontwikkeling van dié ikoniese bakkie sal voortbou.”

Ons hoop Nic is reg, want die Triton het inderdaad ’n reputasie as ’n taai kalant. Sy deeltydse viertrekstelsel is die beste wat ons al in ’n bakkie teëgekom het. Watter bakkievervaardiger kan byvoorbeeld aanvoer dat hy viertrek op ’n teerpad kan inhaak?

Die Triton gebruik ’n 6 spoed- outomatiese ratkas eerder as die 8 spoed-ratkas van die Pajero Sport. Mitsubishi beweer ’n outomatiese ratkas met minder ratte hoef minder rond te soek na die regte rat wanneer jy ’n swaar vrag dra of sleep.

Slotsom

Die nuwe Triton gaan nie die kollig by Toyota se Hilux steel nie. Wat elektroniese katoeters betref, is die Triton ook jare agter die Ford Ranger. Maar hy spog wel met rateltaai meganika, ’n slim viertrekstelsel en ’n unieke voorkoms.

Oorweeg hom gerus as jy anders wil wees as die massas.

SPESIFIKASIES

Enjin: 2,4 l-viersilinder-turbodiesel

Krag: 133 kW @ 3 500 r.p.m.

Wringkrag: 430 Nm @ 2 500 r.p.m.

Ratkas: 6 spoed-outomaties

Brandstofverbruik: 7,6 l/100 km

Tenk: 75 l

Grondvryhoogte: 220 mm

Nader- en vertrekhoek: 28° en 23°

Draaisirkel: 5,9 m

Tarragewig: 1 635 kg

Maksimumsleepgewig: 3 100 kg

Diensplan: 5 jaar/90 000 km

Waarborg: 3 jaar/100 000 km

Veiligheidsgradering: (EuroNCAP 2015)

Pryse:

  • 2.4 DI-DC 4x2 handrat R509 995
  • 2.4 DI-DC 4x2 outomaties R529 995
  • 2.4 DI-DC 4x4 handrat R569 995
  • 2.4 DI-DC 4x4 outomaties R589 995