Volvo V60 Cross Country D4
Volvo XC40 D4

Lank gelede land ek in die middel van die winter in Kiruna, die mees noordelike stad in Swede. Dis sowat 150 km noord van die Noordpoolsirkel en die vlieënier kondig saaklik aan dat die temperatuur buite -30 ºC is. Ek weet nie of ’n donsbaadjie in die koue kan smelt nie, maar dis wat met myne gebeur nadat die lugwaardin die vliegtuigdeur oopmaak. Dis soos die oorblufte losskakel van Rawsonville se 2de span wat hom skielik in ’n ysreën in ’n toets teen die All Blacks in Dunedin se House of Pain bevind. “Druk asseblief nog ’n drie mnr. Lomu. Moenie dat ek in jou pad staan nie,” sê my baadjie.

’n Baie groot Sweed groet ons in die klein aankomslokaal. Verbeel jou hy lyk soos Björn Lothbrok, oudste seun van Ragnar, die legendariese leier van die Vikings in die 9de eeu. Blou oë. Blonde hare. Bokbaard. Sewe voet lank. Met ’n moewiese mes aan sy sy. Björn is ons gids wat ons op sneeufietse na ’n wilderniskamp moet begelei.

Hy’s bly om te sien ons het ons warmste klere saamgebring, sê hy aan die groepie bibberende Suid-Afrikaners. Hy’s seker dis goeie en mooi klere terug by ons huis in Afrika, maar ons is nou in Lapland.

Swede, die plek en die mense, staan nie terug vir uitdagings nie. Hulle kyk ver in die toekoms.

“Hier sal julle doodgaan in daardie klere. In Swede is daar nie slegte weer nie. Net slegte klere,” sê Björn en lag uit sy maag. Genadiglik word ons toe met die regte klere toegerus sodat ons kan bly lewe.

Kiruna is die plek waar daar al meer as ’n eeu ystererts ontgin word en waarvan die staal gebruik word om Volvo’s te maak. Volvo se kenteken is juis die antieke chemiese simbool vir staal. Maar die myn is só diep dat hy die stad self ondermyn. Nou word Kiruna gebou vir gebou 3 km ooswaarts verskuif. Dis ’n projek wat vier jaar gelede begin het en tot 2100 gaan duur. Swede, die plek en die mense, staan nie terug vir uitdagings nie. Hulle kyk ver in die toekoms.

Dieselfde geld vir die nuwe geslag Volvo’s wat onlangs bekend gestel is. Motors soos die V60 Cross Country, die XC40 en die XC60.

Volvo XC 60 D5
Volvo XC60 D5

Die XC60 is ’n middelslag-sportnutsvoertuig en is nie net Volvo se topverkoper nie, maar is vanjaar aangewys as die Wêreldmotor van die Jaar.

Die XC40 is ’n nuwe kleiner, aweregse sportnutsvoertuig wat die koppe laat draai. Dit gaan ’n treffer in die Volvo-stal wees.

En die V60 Cross Country is die meer tradisionele stasiewa, die soort motor wat Volvo oor die jare vervolmaak het. Soos met die meeste groot motorvervaardigers word tegnologie, onderstelle, ratkaste, viertrekstelsels en enjins oor die reekse heen gedeel.

Volvo XC40 D4
Volvo XC40 D4

Wat die Volvo’s van sy mededingers onderskei, is nie net dinge soos die snoep brandstofverbruik of die sagte rit nie, maar die gevoel dat dié motors werklik die toekoms betree het. Die Skandinawiese ontwerp binne en buite is luuks, modern en sag op die oog, maar dit is veral die tegnologie wat onder die staalvel ingespan word wat die grootste indruk maak.

Volvo noem dit Pilot Assist en City Safety, kamera- en radartegnologie wat jou help om ander motors, voetgangers, fietsryers en diere te vermy. In die XC60 het ek in spitsverkeer die tegnologie aangeskakel en die motor het so te sê op sy eie vir kilometers aaneen stad toe ingekruie.

Hy’ t self die volgafstand gehou, versnel en gerem wanneer hy moet. As hy agterkom jy dwaal bietjie links of regs in jou baan, gee die stuurwiel jou ’n drukkie in die regte rigting. En in ’n noodgeval gaan die motor groot skade vermy of jou lewe red deur vir jou te rem.

Meer as ’n duisend jaar gelede het Ragnar, sy seuns, sy vrou, Lagertha, en hulle krygers die Britte, die Franse en die res van die wêreld aan die hol gehad – dis weer sulke tyd.

Volvo V60 Cross Country D4

Volvo V60 Cross Country D4