Volkswagen se sukses in Suid-Afrika is gebou op die onderstel van derduisende luikrugmotors soos die Polo en Golf, en in die laaste jaar ook kleiner sportnutsvoertuie soos die Tiguan en bakkies soos die Amarok. Dis nie die goedkoopste motors nie, maar beslis nie motors wat in die luukse segment meeding met die ander Duitse swaargewigte Mercedes-Benz, BMW en Audi nie.

Maar dinge het vanjaar verander. As daar nou een motor is wat gestalte gee aan die feit dat Volkswagen sy visier ook instel op die ou en vrou wat hulle jeans by Guess en nie Mr Price koop nie, is dit die VW Arteon.

Ek het lanklaas ’n motor gery wat so baie koppe laat draai. Die Arteon is doodeenvoudig pragtig: ’n lang, breë en elegante motor wat meer na ’n koepee as ’n vierdeursedan lyk. Die indruk dat jy ’n mikrokosmos van weelde betree, word vermenigvuldig wanneer jy die deur met ’n soliede “doenk” agter jou toetrek.

Jy maak jou tuis in sitplekke wat in Nappa-leer oorgetrek is, elke hefboom voel stewig vervaardig en jy kan die mees moderne digitale inligtingstelsels op die stuurwiel met jou vingers beheer.

VW Arteon

Boonop is die Arteon rats. In sy duurste gewaad (R700 000 vir die 4Motion R-line) brul ’n turbo-aangejaagde 2 liter-enjin met ’n allemintige 206 kW en 350 Nm wringkrag onder die slap enjinkap. Hy versnel van 0 tot 100 km/h in 5,6 sekondes en ’n permanente vierwielaandrywingstelsel sorg dat die Aerton netjies tussen die pad se lyne inkleur.

Die Arteon is duur, maar nie so duur soos sy mededingers wat hy in die visier het nie. Trouens, hy is nie eens die duurste Volkswagen nie. Dié twyfelagtige eer val die nuwe Volkswagen Touareg te beurt, ’n bielie van ’n sportnutsvoertuig wat nou die eerste keer nie hoef terug te staan vir sy stalmaat (die Audi Q7) of luukse mededingers soos die BMW X5 of Mercedes Benz GLE nie.

Dié is die vlagskip in Volkswagen se vloot, en die duurste van die twee modelle (die Executive) kos amper R1,1 miljoen. Maar steeds voel dit asof jy in ’n veel duurder (ja, duurder!) motor ry. Dis nie net tegnologies die mees gevorderde Volkswagen nóg nie, maar een van die indrukwekkendste motors wat jy met enige geld kan koop.

Volkswagen Touareg TDI V6

Die Touareg is ’n motor wat kragtig lyk al staan hy stil, ’n bietjie soos Mike Tyson in ’n noupassende Gucci-snyerspak. Aan die binnekant is dit die “Innovision”-kajuit, digitale raakskerms wat van die bestuurderskant oor die amper die hele breedte van die voorste paneel strek, wat die oog vang, en hou. Die afwerking van die raakoppervlakke is luuks.

Die 3 liter-V6-TDI-enjin help om dié bees soos ’n Golf GTI te laat versnel, maar tog is die rit seepglad omdat die vierwiel-aangedrewe motor veel meer padgerig is as sy voorgangers.

Dit beteken wel hy het nie die veldryvermoëns van vroeëre Touaregs nie, maar VW se grootkoppe reken mense koop nie so ’n motor om oor klippe te klouter nie. Hulle is waarskynlik reg.

VW TIguan Allspace

Nes die Touareg is die kleiner Tiguan ’n gesinskarweier en nie ’n veldryer nie. Hierdie middelslag-sportnutsvoertuig, waarvan die nuwe geslag in 2016 bekend gestel is, is ’n wenner in die VW-stal. Die gewilde resep is nou verfyn deur die Tiguan effe langer te maak en ’n derde ry sitplekke in die kattebak te pas. Siedaar: die Tiguan Allspace, wat met ’n 1.4 liter-TSI teen R463 400 met die deur in die huis val. As jy die duurste model – die vierwielaangedrewe 2.0-liter-TSI Highline wil hê – gaan jy ’n stewige R604 800 moet hoes.

Die Allspace beskik oor dieselfde talente wat die gewone Tiguan so ’n algemene gesig op ons paaie maak: aantreklike stilering; ’n moderne, funksionele en selfs luukse binneruim; ’n gemaklike rit; en uitstekende herverkoopwaarde. Sy ekstra ry sitplekke (en groter kattebak as jy die agterste sitplekke platslaan) is egter sy troefkaart en regverdig sy duurder prys. Ons gaan sommer baie van hulle in die bo-dorp sien.