Foto’s Leon Botha

Die Nissan Patrol laat ’n mens dink aan daardie groot ou in matriek aan wie se verkeerde kant jy nie wou kom nie. Jy het gesorg dat julle vriende is, want met dié ou aan jou sy het jy vir niks geskrik nie.

Vir 4x4-eienaars en woonwaslepers is die Nissan Patrol daardie ou: As jy agter die stuur van dié bielie inklim, gaan niks of niemand jou stuit nie.

Die Patrol is inderdaad ’n grootmeneer – teen 2,7 t is hy een van die swaarste sportnutse op ons paaie en daar is nie ’n woonwa in die land wat hy nié kan sleep nie.

’n Gewigtige saak

NET WAT NODIG IS. Die Patrol het ’n groot lyf, maar ’n mens sien nie onnodige afwerking nie. Dis eerder stylvol en vertel heelwat van wat in dié meneer van ’n voertuig steek.

Die Patrol is groot van binne én buite – die swart toetsmodel waarmee ons gesleep het, lyk eerder soos ’n ryding wat ’n staatshoof en ses lyfwagte kan rondkarwei.

Tussen die twee voorsitplekke is meer as ’n liniaallengte se ruimte en hier is blikkiehouers vir breë én smal blikkies – as jy iemand is wat hou van jou energiedrankie. Tussen die sitplekke is ook ’n koelhouer met genoeg plek vir ses 500 ml-bottels.

Buiten die sierrooster spog die Patrol se bakwerk met ’n beskeie chroomafwerking. Links en regs pronk wel ’n V8-wapen. ’n Mens sou reken ’n V8-enjin met sy 5,6 l-kapasiteit hoort eerder in ’n hitsmotor, maar dis dié einste meneer wat die swaar bakwerk moeiteloos laat beweeg.

Hy is só gewillig ’n mens vergeet skoon van die wa aan die haak. Selfs as jy by die verkeerslig wegvlieg, druk sy brute krag jou in die sitplek vas asof jy in ’n vliegtuig sit wat opstyg. ’n Mens kan dan nie anders nie as om te hoop jy het nie die wa se onderstel onder sy romp uitgepluk nie.

Kampeerders is darem nie so haastig nie, maar om te versnel (teen enige spoed) en stadiger verkeer verby te steek gebeur met die klap van ’n vinger.

Die nuutste model is die sewende geslag van die Patrol. Nissan het in 2013 al die Patrol as sy sterkman gekroon. Met sy 560 Nm en 298 kW het die Patrol ’n vragvliegtuig van 170 t gehaak en hom 100 m ver gesleep.

Dit was ’n nuwe Guinness-wêreldrekord vir die swaarste voorwerp wat met ’n produksievoertuig gesleep is. Nissan maak dit boonop maklik vir voornemende kopers deur net een model te bou.

Waar’s die haak?

Vir so ’n voortreflike en luukse 4x4-voertuig sou ’n mens ’n haak as standaardtoerusting verwag, maar dis in der waarheid opsioneel. Dit kos rondom R7 000 ekstra en is van die permanente soort wat nie elektries uitswaai nie.

Die haak word in Tsjeggië vervaardig en het ’n D-waarde van 17,2 kN – dit verwys na die spesifieke vragtoets op die haak en is gelykstaande aan 1 754 kg.

Die neusgewig is beperk tot 140 kg. ’n Deel van die haak steek verby die bakwerk, en die bol self is vas aan ’n gansnekstang. Dit beteken jy kan nie ’n sakplaat gebruik as jy die bolhoogte wil verstel nie.

Die rekenaar registreer nie wanneer jy die wa se ligteprop aan die harnas koppel nie. As jy dus agteruitstoot, reken die sensors jy gaan teen die wa vasstoot. Maar daar is gelukkig ’n knoppie op die truskerm waarmee jy die alarm kan afskakel.

Grote eenvoud

In hierdie prysklas sien ’n mens heelwat rekenaargedrewe instrumentasie. Dit lyk nie of Nissan hom hieraan steur nie en hou by die meer konvensionele analoë meters. Dit sluit in ’n metertjie wat die oliedruk wys en heel links teen hoeveel Volt die battery laai.

Dié meter is van 8-18 V gekalibreer, met 10,5-15,5 V die normale lesing. In die middel van die instrumentepaneel is ’n klein digitale skerm wat lyk of dit uit die jare tagtig dateer. Die skermpie is eenvoudig, maar wys wat jy moet weet: van die afstandmeters tot die brandstofverbruik, ’n deur wat oopstaan of die buitetemperatuur.

Sodra die analoë meter wys die brandstoftenk loop leeg, gaan jy meer as R2 000 moet opdok by die vulstasie, want die kar het ’n tamaai tenk van 140 l. Tog is die Patrol se brandstofverbruik met ’n woonwa nie te verlammend vir dié klas voertuig nie: 22,2 l/100 km (4,5 km/l), wat beteken jy kan net meer as 600 km met ’n vol tenk ry. (Dit is R3 per kilometer.)

... die Patrol se brandstofverbruik met ’n woonwa is nie te verlammend vir dié klas voertuig nie: 22,2 l/100 km.

Die amper mosterdkleur van die leerbekleedsel lyk of dit in ’n miljoenêrswoning hoort só netjies is dit gestik. ’n Mens trek self die skerm voor die sondak weg as jy sonlig wil inlaat, en anders as baie voertuie in dié klas het hy nie ’n elektroniese handrem nie. Die Patrol het ’n pedaal heel links wat jy trap om die handrem te aktiveer.

’n Mens sukkel ook nie om die kinders in die kar te kry sonder dat iemand kerm oor die lang pad wat voorlê nie. In albei die voorsitplekke se agterkant is daar ’n klein platskerm-TV in die kopstut, met die DVD-speler wat in die voorste konsole is.

Elk van die skerms het hulle eie koordlose oorfone met een afsonderlike afstandbeheer. As Ousus eerder haar slimfoon se USB-sok met haar doef-doef-musiek wil inprop, kan sy dit op haar skerm doen. 

Pieter sê

Pieter Crous sleep sedert die vorige eeu. Dís wat hy dink.

As ’n mens ’n ordentlike 4x4-voertuig wil koop, is dit nie nodig om een te soek nie, want die Patrol is die antwoord. Ek is wel nie mal oor die Patrol se voorkoms buite nie, maar binne is dit ’n ander storie.

Ek verkies ’n groot ryding en ’n mens is bederf met al die binneruimte. ’n Mens hoor die V8 se dreuning in die agtergrond; dis só ’n mooi klank dat ek die radio af los sodat ek eerder na die enjin kan luister.

Die outomatiese ratkas is seepglad, al is die bakwerk swaar. Selfs met sy groot lyf is dit moeiteloos om hom te bestuur. Ek sou egter ratspane verkies – iets wat die Patrol nie het nie.

Jy kan wel self die ratte kies, maar die ratkas het nie ’n Sport-funksie nie. Dit is ieder geval nie nodig nie, want die ratkas-en-enjinkombinasie reageer blitsig. As jy die petrolpedaal wegtrap, is daar ’n millisekonde of wat se aarseling, maar daarna moet jy klou, want daai perde skop met mening in.

Dit neem ’n blitsige 8 sekondes om van 80-120 km/h te versnel, en verbysteek kan nie makliker wees nie. Omdat die enjin so groot is, soek die ratkas nie na ratte terwyl jy momentum hou nie.

Die vering is sag en dit voel of jy oor die pad sweef. Soos ’n mens verwag van ’n kar van dié grootte, het hy taamlike bakrol, maar nie so dat dit ’n mens pla nie. Jy sit dus hoër as baie ander bestuurders op die pad en jy sien meer wat om jou aangaan.

Sy kloutervermoë teen kliprante verbaas my, selfs met ’n 1,5 t-wa op die haak. Dis bloot moeiteloos. Onthou, die kombinasie is meer as 4 t, en dit sit nie in elke 4x4 se broek om so teen die bulte uit te klim nie. Ook hier voel ’n mens die sagte vering, want jy skud glad nie rond op die slegte pad nie.

/
/
/
BRING DIE WAENS. Te oordeel na hoe stewig die haak gebou is, kan jy sleep net wat jy wil.
Die sleepding

Fabrikaat Jurgens Safari Model Xplorer

Jaarmodel 2012

BVM 1 650 kg

Woonwagewig op die skaal 1 480 kg

Neusgewig 140 kg (nie gelaai)

Weg Ry en Sleep het die Jurgens Xplorer by Tygerberg Caravans geleen. Bel vir Wesley Dempster 021 982 4670 as jy die Xplorer van nader wil bekyk.  tygerbergcaravans.co.za

Die toets

Afstand 103,6 km

Topspoed 126 km/h (GPS)

Gemiddelde spoed 55,7 km/h (snelweë, agterpaaie, beboude gebiede en klipperige koppies met 4x4-paaie).

Rytyd 1 uur en 51 minute.

Weer 17 ºC, bewolk en ’n wes-noordwestewind van 10-26 km/h.

Wat sê die boekie?

Brandstof 95 oktaan-petrol

Enjin 5,552 l

Silinders V8

Krag 298 kW @ 5 800 r.p.m.

Wringkrag 560 Nm @ 4 000 r.p.m.

Ratkas Sewespoed-outomaties met tikfunksie.

Aandrywing Agterwiel- of vierwiel- met hoë- en laestrek asook ewenaarslot op agteras.

Tarra 2 746 kg

BVM 3 500 kg

BKM 7 000 kg

Waaddiepte 700 mm

Sleepvermoë vir geremde sleepding Tot 3 500 kg

Afmetings 5 165 mm (l); 1 955 mm (b); 1 940 mm (h)

Asafstand 3 075 mm

Spoorwydte 1 695 mm (voor en agter)

Grondvryhoogte 283 mm

Brandstoftenk 140 l

Prys (nuut) R1 339 900

Prys (tweedehands) Ons het op autotrader.co.za ’n 2018-model met 17 665 km op die klok gesien vir R979 900.

VINNIGE FEITE

Die sleephaak Die haak is nie standaard nie en van die permanente soort. Soos in die geval van die toetsvoertuig pas ’n sakplaat nie hierop nie en die stang kos R6 611 ekstra. Dit sluit die harnas in, maar nie die arbeid om dit te installeer nie.

Vering Onafhanklike dubbelmikkrulvere voor en agter. Die stert het ’n goeie 45 mm gesak onder die neusgewig van die Xplorer.

Wat sê die skaal? 3 140 kg met ’n vol tenk brandstof, die bestuurder in die kar asook die Xplorer se neusgewig op die haak.

Binneruimte Dit moet een van die ruimste voertuie op die pad wees. Jy sit nie ingeprop nie en dit voel of jy in besigheidsklas reis.

Spoed Die odometer is 6 km/h uit teen die GPS. Laasgenoemde sê 94 km/h wanneer die odometer 100 km/h wys.

Brandstofverbruik Vir dié grootte enjin is ’n mens verbaas met die 22,2 l/100 km (4,5 km/l), en die rekenaar se somme stem ooreen met ons s’n.

Afwerking Uiters stylvol, duursaam, solied, en die mostertkleurige leerafwerking tref ’n mens se oog dadelik wanneer jy die deur oopmaak.

Ekstras Onder meer ’n hondeskeiding vir die kattebak R10 086, enjinkapbeskermer R1 032 en R45 866 vir ’n wenas. Dit sluit R32 764 in vir die spesiale buffer om die wenas op te monteer, asook die Rhino 4x4-12 500 lb-wenas met sy Dyneema-tou wat R13 102 kos. (Al die pryse is sonder die installasiekoste.)

Ander modelle? Geen, die Patrol is net in een model beskikbaar.

Weg Ry en Sleep Jy kan tussen sewe bedeesde kleure soos donkerbruin, swart, wit en ’n paar grys skakerings kies. Geen helder kleure is beskikbaar nie.