Dis vanjaar die vyfde jaar wat WegRy sy jaarlikse 4x4 van die Jaar-kategoriewenners aanwys. Ons toekennings is anders as dít wat elders in die bedryf gedoen word en is uniek om die volgende redes:

1. Ons neem alle voertuie in ag. In gewone Motor van die Jaar-toekennings word daar slegs gekyk na voertuie wat die vorige jaar bekend gestel is. Ons glo dis nie realisties nie, want wanneer ‘n koper in ‘n ryding belangstel, kyk hy of sy nie na die heel jongste model nie, maar na alle voertuie in ‘n gegewe segment, selfs dié wat twee of drie jaar tevore bekendgestel is.

2. Ons vergelyk appels met appels. Ons dink nie dis reg om byvoorbeeld ‘n sedan, ‘n sportnutsvoertuig, ‘n dubbelkajuitbakkie en ‘n sportmotor teen mekaar te laat meeding nie, want hulle is op totaal verskillende kopers gerig. Daarom vergelyk ons byvoorbeeld bakkies met bakkies, en sportnutsvoertuie met sportnutsvoertuie.

3. Ons neem verskeie faktore in ag. Dis een ding om ’n voertuig te bestuur. Maar wat van sy prys, toerustingvlakke, die tegnologie wat hom uniek maak, of sy betroubaarheid’n

4. Ons werk vir ons teikenmark. Ons kyk na voertuie se geskiktheid vir ons lesers en die breër Suid-Afrikaanse publiek.

5. Ons is onafhanklik. Ons besluite word intern geneem en ons as redaksie het 100% beheer daaroor.  


Ford Ranger 2.2 TDCi XLS 4x4 Outo


Ons twyfel of daar ’n segment is waar die hare meer waai of die braaivleisvuur-argumente hewiger woed as met dubbelkajuitbakkies. Want dis die voertuig wat deur die oorgrote meerderheid van ons lesers besit word. As jy na die maandelikse Naamsa-verkoopsyfers kyk, sal jy sien dat ’n bakkie sommige maande die topverkoper van alle voertuie in Suid-Afrika is!

Laasjaar het die Ford Ranger 3.2 TDCi XLT met die louere in dié segment weggestap. Die nuwe Toyota Hilux is ook bekend gestel. Om dit ’n taai stryd te noem, sou wees om na Eben Etzebeth as “effens moeilik” te vewys.

Tydens ons groot dubbelkajuit-uitkloptoets in die Junie-uitgawe van WegRy, het die Ranger daarin geslaag om die nuwe Hilux met ’n kortkop te klop. Ons glo at die Hilux se kleiner 2,8 liter-enjin en sy 6-gang- outomatiese ratkas meer verfynd is as die Ranger 3,2 se enjin-/ratkaskombinasie, maar dat die Ranger vir ons ’n beter totale pakket is – al is dit met ’n haarbreedte.

Dis nou totdat Ford laasjaar die 2,2 TDCi 4x4 met ’n outomatiese ratkas bekend gestel het. En enigeen wat al  ’n 4x4 met  ’n outomatiese ratkas besit het, sal weet dat dis nes soos om koffie met suiker te drink: jy gaan blêddie moeilik terug na bitter koffie. Ons nageslagte gaan waarskynlik eendag om  ’n virtuele vuur staan en lag vir hulle primitiewe voorouers wat self ratte met die hand gewissel het – nes ons lag vir ons grootouers wat karre nog met slingers aan die brand gedraai het.

’n Vinnige kykie na die 2,2 TDCi se enjinsyfers sal jou laat besef dat sy 118kW krag en 385Nm wringkrag (onthou dat die ou Hilux se 3.0 D-4D 120 kW en 343Nm ontwikkel het) allesbehalwe swak is. So dis nie asof die torre in jou agterruit gaan vasvlieg nie.

Maar wat hom veral laat uitstaan, is sy outomatiese ratkas. Want dis nou die enigste 4x4-dubbelkajuit met ’n kleiner enjin en ’n outomatiese ratkas (as jy die Amarok uitsluit, maar dié het net een enjin oor die hele reeks).

Aan die ander kant maak die Ranger 2.2 TDCi XLT outo se prys van R518 900 hom R59 000 goedkoper as die Ranger 3.2 TDCi XLS outo se R577 900. En daai amper R60 000 kan dalk betaal vir ’n stel bande, goeie vering, ’n buffer en dalk nog ’n aluminiumkappie as jy mooi soek.

Trouens, die 2.2 TDCi outo is so ’n goeie pakket, dat Ford hom slegs beskikbaar het in die laer XLS-spesifikasievlak, anders sou hy ongetwyfeld verkope weggevat het van die 3.2 TDCi, wat as dubbelkajuit slegs beskikbaar is in die duurder XLT- en Wildtrak-spesifikasievlakke.

Die res van die Ranger se eienskappe is alombekend: Hy’t ’n baie goeie rykwaliteit, pragtige voorkoms, en goeie veldryvermoëns, waaronder ’n klasleidende dompeldiepte van 700mm.

Al bogenoemde eienskappe plaas die Ranger 2.2 TDCi XLS 4x4 outo letterlik in ’n klas van sy eie en daarom is hy ’n waardige wenner van hierdie uiters mededingende afdeling.


* Onthou: Hierdie is 'n lys van wat ons dink die beste voertuie in hulle onderskeie segmente is. Dit beteken nie dat die ander voertuie in hierdie segmente gemors is nie. In sommige segmente – en hier dink ons veral aan dubbelkajuitbakkies – is die verskil 'n polonieskildikte (tydens 'n depressie en 'n droogte) en moes ons hare kloof om 'n wenner aan te wys.

Hou ons webwerf en Facebook-blad dop vir die ander segmente se wenners.