As ons ’n akteur moet kies om die rol van die Renault Duster te speel, sou dit nie George Clooney wees nie. Dis nie die ou met die Rolex aan die arm, die blink snyerspak en die puntskoene wat die heldin se knieë laat knak nie.

Dis ’n kar vir Jan Alleman, en niemand speel daai rol beter as Tom Hanks nie. Tom ken nie karate nie. Hy spring nie by helikopters uit nie. Hy vry nie in die bondel nie. Maar hy’s die ou wat deurdruk tot die einde, iemand op wie jy kan vertrou. Jy wil hom as jou man, jou pa of jou beste pêl hê, want hy gaan jou nie drop nie. Jy kan nie anders as om van die ou te hou nie.

En ’n mens kan nie anders as om van die Duster te hou nie. Dis een van daai eenvoudige motors wat lekker werk op ons Afrika-paaie. Jy het nie 20 ouens in wit jasse, skootrekenaars en ’n algoritme nodig om jou kar reg te maak as iets tussen Garies en Bitterfontein verkeerd loop nie. Maar dis steeds gemaklik en modern genoeg om lang ente te ry of net tussen die huis, die skool en die werk te pendel.

Dis verbasend om te dink die Duster is in 2013 die eerste keer in Suid-Afrika verkoop, want dit voel ek sien baie van hulle op die pad. (Die feit dat Weg se joernaliste al vier jaar lank in twee Dusters ry, het dalk ook iets hiermee te doen! – Red.)

Sedertdien het 15 000 Dusters al hier ’n huis gekry, wat bevestig dat dit een van die gewildste sportnutsvoertuie in ons mark is.

Ons het die vlagskipmodel – die 1,5 liter-dCi Prestige 4x2 – by Sabie op grondpaaie en lang ente teer gery, en dis ’n kar wat goeie waarde vir geld bied. Die reeks begin met ’n 1,6 liter-petrol teen R249 900, en al die ander duurder modelle het ’n dieselenjin.

Daar is ’n 4x4-model wat nou in Januarie bekend gestel word, maar die Prestige met ’n nuwe outomatiese dubbelkoppelaarratkas is teen R334 900 die duurste in die reeks.

Die grootste verandering aan die Duster se bonkige uiterlike lê by die nuwe LED-ligte voor en agter, asook nuwe 17 duim-allooiwielvellings. Binne-in die kajuit is daar heelwat verbeteringe: die gehalte van die materiale is beter, die sitplekke gemakliker, die raakoppervlakke sagter en die vermaakstelsel maklik om te gebruik.

Die grootste verbetering lê egter in die ritgehalte. Jy moes in die ou Duster hier teen 120 km/h vir Bruce Springsteen se “Born to Run” nogal hard oopdraai om die padgeraas uit te doof. Nou kan jy teen daai spoed saam neurie aan Sade se “Smooth Operator”.

Die bak wieg ’n bietjie deur die draaie, maar die keersy is dat die rit lekker sag is. Net reg vir die langpad. Die 1,5 liter-turbodiesel is nie gebou vir versnelrenne nie, maar hy’ t genoeg wringkrag as jy vragmotors wil verbysteek en hy’s lig op brandstof.

Nes Tom Hanks al met Oscars beloon is, gaan die nuwe Duster ongetwyfeld diep in plaaslike kopers se harte (en motorhuise) kruip.

Die syfers
Die syfers