Dis vanjaar die vyfde jaar wat WegRy sy jaarlikse 4x4 van die Jaar-kategoriewenners aanwys. Ons toekennings is anders as dít wat elders in die bedryf gedoen word en is uniek om die volgende redes:

1. Ons neem alle voertuie in ag. In gewone Motor van die Jaar-toekennings word daar slegs gekyk na voertuie wat die vorige jaar bekend gestel is. Ons glo dis nie realisties nie, want wanneer ‘n koper in ‘n ryding belangstel, kyk hy of sy nie na die heel jongste model nie, maar na alle voertuie in ‘n gegewe segment, selfs dié wat twee of drie jaar tevore bekendgestel is.

2. Ons vergelyk appels met appels. Ons dink nie dis reg om byvoorbeeld ‘n sedan, ‘n sportnutsvoertuig, ‘n dubbelkajuitbakkie en ‘n sportmotor teen mekaar te laat meeding nie, want hulle is op totaal verskillende kopers gerig. Daarom vergelyk ons byvoorbeeld bakkies met bakkies, en sportnutsvoertuie met sportnutsvoertuie.

3. Ons neem verskeie faktore in ag. Dis een ding om ’n voertuig te bestuur. Maar wat van sy prys, toerustingvlakke, die tegnologie wat hom uniek maak, of sy betroubaarheid’n

4. Ons werk vir ons teikenmark. Ons kyk na voertuie se geskiktheid vir ons lesers en die breër Suid-Afrikaanse publiek.

5. Ons is onafhanklik. Ons besluite word intern geneem en ons as redaksie het 100% beheer daaroor.  


Toyota Land Cruiser 76 Series V8

Dit raak dalk al ’n bietjie afgesaag wanneer iets vir vier jaar in ’n ry ’n segment wen, maar ons kan aan min ander rygoed dink wat sy segment so oorheers soos die Land Cruiser 76 Series V8 turbodiesel.


Wees nou maar eerlik, as jy die pitte gehad het en iemand vra jou om die beste 4x4 te koop om van hier tot in Kaïro te ry, gaan meer as 90% van die mense sê “76 Series Cruiser”. En die res gaan eintlik jok.

Want dié wa is iets wat nie sommer gaan breek nie, beskik oor bogemiddelde veldryvermoëns en kan boonop baie lang afstande met gemak aflê.

Die meeste ekspedisievoertuie is stasiewaens. Ja, ons weet dat dubbelkajuite baie gewild is in Suid-Afrika, maar met die uitsondering van die 79 Series-dubbelkajuit, is daar nie ’n bakkie wat kan kers vashou by ’n Cruiser, ’n Patrol of ’n Mercedes-Benz G-Klas wat meganiese robuustheid betref nie.

Die 76 se enigste werklike mededingers as ekspedisievoertuie is die Land Rover Defender-stasiewa, Nissan Patrol en Mercedes-Benz G300 CDI Professional. Maar produksie van die ikoniese Defender is gestaak, wat ons laat met die Patrol en die G-Klas. Die Patrol se onderstel is gebou soos dié van ’n oorlogstenk. Boonop het hy ook ’n ekstra brandstoftenk as standaardtoerusting. Maar die 4.8 liter-petrolenjin is dorser as ’n klomp ouens by ’n batchelor’s.

Die Mecedes-Benz G-Klas is baie bekwaam in die veld, maar sy prys van ver oor die R1 miljoen beteken dat jy darem meer as net veldryvermoë verwag. Want afgesien van ’n paneelkissie, is daar géén ander bêreplek binnelangs nie. Daar is ook nie eers ’n radio nie. 

Ja, ons weet die CDI Professional is soortgelyk aan die model wat Mercedes-Benz verskaf aan weermagte wêreldwyd, maar wanneer jy kyk na wat jy kry vir sy prys, is dit duidelik dat jy ingedoen word.

Wat jou uiteindelik laat met die Land Cruiser 76 Series V8 -stasiewa. Nes die G-Klas het hy ook meganiese ewenaarslotte op die voor- en agteras. Maar dis onder die enjinkap waar die poppe dans. Sy 1VD-FTV-enjin verplaas 4,5 liter en ontwikkel 151kW en 430Nm wringkrag. Goed, die syfers is dalk nie duiselingwekkend goed nie, maar ál 430Nm is al teen 1200 r/min beskikbaar.  Oor tegniese terrein is dit indrukwekkend hoe moeiteloos hy oor alles luier en wanneer jy ’n werklik steil opdraande teëkom, gee jy net effens vet en die enjin doen die res.

Wat beteken dat die 76 Series-stasiewa, wat ons betref, beskik oor die perfekte kombinasie van uitstekende veldryvermoëns, kragtige (maar relatief ekonomiese) enjin en mededingende prys. Dan praat ons nie eers van betroubaarheid en Toyota se handelaarsnetwerk hoër op in Afrika nie. Daarom kan ons met groot genoegdoening aankondig dat die Cruiser 76 V8 turbodiesel vir 2017 wéér koning kraai in hierdie afdeling – nes hy ook in die rofste plekke in Afrika doen.


* Onthou: Hierdie is 'n lys van wat ons dink die beste voertuie in hulle onderskeie segmente is. Dit beteken nie dat die ander voertuie in hierdie segmente gemors is nie. In sommige segmente – en hier dink ons veral aan dubbelkajuitbakkies – is die verskil 'n polonieskildikte (tydens 'n depressie en 'n droogte) en moes ons hare kloof om 'n wenner aan te wys.

Hou ons webwerf en Facebook-blad dop vir die ander segmente se wenners.