Foto's Leon Botha

Die Overbergse vervaardiger Infanta 4x4, bekend vir boswoonwaens soos die Enkulu 2 en die swierige dubbelasmodel Enkulu 4, het pas sy kleinste boswoonwa, die Enkulu 1, op die vertoonvloer getrek.

Die boswoonwamark beleef omtrent deesdae ’n bloeitydperk. Met al die keuses en dié verskeidenheid is kopers behoorlik bederf, en dis deels as gevolg van ’n hele paar vervaardigers wat ’n heel klein model by hulle reeks insluit – gewoonlik niks meer as ’n bed op wiele nie. Dis in dié deel van die mark waar die Enkulu 1 hom tuismaak.

Hoewel hy die kleinste in Infanta se 4x4-stal is, moet jy hom nie vir ’n oomblik vlak kyk nie. Die eienaar, J.W. Swart, gebruik dieselfde materiale én basiese konsepte wat ’n mens in die Enkulu 2 en 4 sien. Dié outjie is egter jou bankbalans meer genadig. 

Trap op die wasmasjien

Vervaardigers word beperk met waar hulle die deur vir ’n boswoonwa van dié grootte inpas omdat die bed die meeste van die binneruimte opneem. Die deur sal dus op een van die hoeke in die linkerpaneel plek kry, of, soos ’n mens deesdae sien, in die agterkant.

Wanneer jy links van die wa staan, sit die Enkulu 1 se deur regs agter. Hy is lekker breed – 76 cm teenoor die 81 cm van ’n gewone huisdeur.

Soos met die meeste boswoonwaens staan die onderkant van die romp betreklik hoog bo die grond – 60 cm, om presies te wees. Dit beteken jy moet jou bene rek met die inklimslag. Gelukkig het J.W.-hulle met ’n unieke trappie vorendag gekom om hier te help: Hy staan op die vloer by die deur wanneer hy in die wa gepak is en word met ’n rekband op sy plek gehou terwyl jy ry. Wanneer jy by die kampplek stilhou, vat jy hom maklik raak en sit hom voor die deur. Hy is 32 cm hoog, wat beteken die inklimslag is heelwat gemakliker.

Maar dít is nie wat die trap so uniek maak nie. Die trappie is basies ’n aluminiumhokkie met ’n bokant van alumuniumriffelplaat waarop jy trap. En binne-in is ’n vierkantige waterdigte 20 l-plastiekkan wat jy as ’n kampwasmasjien kan gebruik. Vóór jy die oggend in die pad val, gooi jy gister se klere saam met seeppoeier en water in die kan en maak die prop toe. So in die ry skud die besigheid dan heen-en-weer en op-en-af en jou klere is silwerskoon wanneer jy anderkant stilhou.

Die opwipdak lig ook elektries. Dit is nie ’n konvensionele opwipdak nie; hy lig net aan die agterkant (die skarniere sit aan die voorkant, bo die disselboom). Die skakelaar om die dak te lig sit by die deurkosyn binne. Jy druk die skakelaar op en twee teleskooparms lig die dak ’n goeie 96 cm. Om die dak te laat sak druk jy die skakelaar af.

As die elektriese dak besluit om jou tussen êrens en nêrens in die steek te laat is jy darem nie gesnoeker nie. Jy kan die dak met die hand lig en laat sak as dit moet. Elk van die twee elektriese motortjies het ’n pennetjie wat uittrek om dit te ontkoppel.

Elke ding op sy plek

Op só ’n klein wa moet ’n mens slim met ruimte werk, en op die Enkulu 1 het hulle inderdaad met ’n klompie nuwighede vorendag gekom. Soos jy voor die deur staan, is die bed se voetenent binne links gelyk met die deurraam. Jou lêplek strek van hier tot voor teen die romp en loop teen albei sye af.

Die bed is ’n raps groter as koningingrootte (192 x 143 cm) en is saam met die matras ’n gerieflike 69 cm bo die vloer. Voor jou, teen die regterkantse paneel, is ’n bankie waarvan die sitgedeelte opslaan. Die kassettoilet is onder die sitplek, en regs teen die agterste paneel is hangplek vir klere. Dié is bloot ’n haak waaraan ’n mens die klerehanger hang, en so halflyf laer span ’n rek om die klere. Dit hou die spulletjie netjies, maar moenie jou hele klerekas saamry nie, want jy kan net 4-5 hangers gelyktydig oor die haak hang.

’n Ekstragroot laai (67 cm x 58 cm en 35 cm diep) trek onder die voetenent van die bed uit. Die rak het nie afskortings nie en is dus nét die plek vir komberse of ekstra kussings. Links bo teen die bed af is kassies met seildeurtjies – hier is genoeg plek vir twee mense se klere. Onder die kassies is gaassakkies vasgestik, ’n gawe plek vir karsleutels, horlosie of selfoon.

Die Enkulu 1 het net een venster, in die regterpaneel regoor die kaste. J.W. gebruik hier ’n meneer van ’n woonwavenster. Dis ’n drie-in-een-Dometic-venster wat kan oopmaak én hy het sommer twee blindings (onderskeidelik van gaas en ondeursigtige materiaal) wat albei afsonderlik oor die venster getrek kan word. Vir die toetswa het J.W. ook ’n paar aluminiumplatysters voor die venster vasgesit as diefwering, maar jy moet daarvoor vra.

Die skakelaar van die LED-lig bo die koppenent is byderhand en jy hoef nie eens jou kop te lig om by te kom nie. Al die instrumente – dié wat die watervlak aandui, die geiser se krag- en gasverstellings, asook die skakelaar vir die buitelig – is langs die skakelaar waarmee ’n mens die dak lig. Hier is ook sokke vir twee- en driepuntproppe én ’n USB-sok.

As die nood druk

’n Mens sien nie aldag ’n woonwa met ’n ingeboude kas vir noodtoerusting nie. Dié Enkulu s’n is in die vloer van die kas regs voor ingebou. Die kas self is nie net ruim genoeg vir groter kampgoed, soos ’n opslaanstoel of twee nie, maar ’n aluminiumtafel pas ook in die boonste gedeelte hiervan. Die toerustingkas se deksel is van aluminiumriffelplaat en dien as die groter kas se vloer. Die binnekant is met skuimrubber uitgevoer en het pasvorms vir alles wat daar moet in – dinge soos ’n boomsaag, nooddriehoek, woonwaligteprop, byl en smeltdrade. Tien uit tien vir dié kas. Die tweede deur in die regtersy is waar ’n mens die twee tenks vir die kassettoilet kan bykom. 

Slim buitekombuis

As jy na die kombuis kyk, is dit baie duidelik J.W. beskou kosmaak as ’n belangrike deel van kamp. Buiten die deur in die linkerkant, bestaan die res van die paneel uit ’n klomp kasdeure. Hier is vier van hulle en almal van hulle is vir die kombuis.

Die grootste deur slaan bo die wiel plat en vorm die kombuis se werkblad (54,5 x 136 cm).

Jy kry ’n tweeplaatgasstoof standaard wat links op die blad vasgesit word, maar die toetsmodel het ’n eenplaat-gietystergasstoof gehad. Agter die stoof, in die romp, is verskeie rakke van verskillende groottes – hier is onder meer pakplek vir enigiets van die eetgerei en glase regdeur tot al jou plastiekbakkies, blikkieskos en koffiehouers. (Heel regs in die regterkantse kas is nog ’n kragpunt, en hier is selfs ’n paar hakies vir sleutels én ’n waterpas om te sien of die wa gelyk staan.)

Onder die blad, voor die wiel, trek ’n laai agter ’n deur uit waarin ’n mens van die kruideniersware of ’n kleiner pan of twee kan pak.

Dieselfde geld vir nog so ’n deurtjie links bo. Die ys-vrieskas trek agter die deur heel links uit. Afhangend van jou voorkeur kan jy ’n ys-vrieskas van tot 60 l hier inpas.

Ook die binnekant van die deur word as pakplek gebruik; hier is verskeie gaassakkies wat byderhand is as die deur oop staan. Hier kan ’n mens goed soos vuuraanstekers en muskietweerders hou. Maar dis nie al nie: Jy kry ook unieke los rakkies wat in ’n gleuf bo die kombuis ingehaak word – net reg vir byvoorbeeld kruiebotteltjies. (Die rakkies laat ’n mens dink aan die skinkborde wat ’n mens jare terug by padkafees gesien het wat aan ’n afgedraaide motorruit kon haak – J.W. noem hulle hoeka roadhouse-rakkies.)

Wie was skottelgoed?

As dit tyd is om skottelgoed te was moet jy om die wa stap na die agterkant toe. Hier slaan ’n aluminiumraam plat waarin die skottel en droograk pas. Regs hiervan is ’n storthokkie digby die dak opgevou. Jy kry ’n los aluminiumvloerplank saam sodat jy nie in die modder hoef te staan en stort nie. Die stortkop met sy verlengstuk is vir opwas én stort bedoel en mooi netjies in die middel van die agterste paneel. Die stoepdak is opgevou bo teen die dak en swaai om tot bo-oor die kombuisgedeelte.

Waar’s die neus?

Op byna alle waens is ’n neuskas standaard, maar nie in die Enkulu 1 nie. Tog word die ruimte bo die A-raam steeds benut – hier is plek vir goed soos die gasbottel, ’n noodwiel en ’n graaf. ’n Gaasnet span soos ’n lae heining om die A-raam en keer dat opslagklippies of modderspatsels van die sleepvoertuig die laer voorste deel van die wa tref.

Die tegniese goed

Lengte 3,9 m

Breedte 1,8 m Hoogte 1,93 m

Nokhoogte binne-in 2,2 m

Neusgewig 95 kg*

Nettogewig 610 kg*

Dravermoë 990 kg BVM 1 600 kg

Prys R295 000*

(* volledig toegerus)

Plus  

  • Die elektriese dak is ’n wenner, so ook die noodtoerustingkas, trappiewasmasjien en klerehangplek.  
  • Jy kan nie vir ’n beter venster vra nie.  
  • Die los rakkies in die kombuis is uniek.  
  • Die kassettoilet se bokant is ook ’n bankie.

Minus  

  • Die werkblad het ’n rand wat dit moeilik maak om af te vee.  
  • Die gasstoof neem omtrent ’n derde van die werkblad op.  
  • Die laai onder die werkblad is effens weggesteek.  
  • Die haak van die klerehangplek kan groter.

Weg Ry & Sleep het die Enkulu by die vervaardiger geleen.

Weg Ry & Sleep sê 16”-wiele is standaard, maar jy kan ook wiele kies wat by jou sleepvoertuig pas.

Handelaarsnetwerk

Infanta is ‘n eenmansaak in Buffeljagsrivier.

Kontak 028 512 3663 of 082 558 4935; jwswart@twentyfour.co.za; infantatrailers.co.za