Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad het in Oktober vanjaar die frase “onteiening sonder vergoeding” as die uhm, woord van die jaar aangewys. Grond is ’n emosionele kwessie. Maar dalk moes die woord “resessie” éintlik die toekenning gekry het.

Laasgenoemde raak almal, maar veral bandeskoppers wat hulle visier noodgedwonge laer moet rig. As jy vantevore jou oog op ’n BMW gehad het, oorweeg jy nou ’n Volkswagen... of ’n 2.4 l Fortuner pleks van ’n 2.8 l-model.

Ja, Toyota was slim genoeg om die gaping in sy modelreeks toe te stop met die toevoeging van ’n outomatiese viertrekvariant vir die 2.4-dieselmodel. En dis ’n skuif so berekend soos die onlangse aanwysing van Tito Mboweni as finansminister, want dié 2.4-tjokkertjie spaar jou ’n volle R113 000 teenoor sy 2.8 l-grootboet. Ten koste van net 20 kW en 50 Nm.

Ja, Toyota was slim genoeg om die gaping in sy modelreeks toe te stop met die toevoeging van ’n outomatiese viertrekvariant vir die 2.4-dieselmodel.

Jy’s ook elektries verstelbare sitplekke en satellietnavigasie kwyt, waarvan laasgenoemde ’n aanvaarbare kompromis is in die alomteenwoordigheid van slimfone en aflynkaarte. ’n Mens sluk egter effens swaarder aan die afwesigheid van ’n leerbedekte stuurwiel in hierdie halfmiljoenrandse voertuig: kuddes beeste is al geoffer vir die gerief van veel goedkoper motors.

Selfs op die snelweg loop die 2.4 stiller as die geswyg rondom ’n dreigende bankkrisis: dis die goeie nuus. Nou en dan sal ’n steilte die enjin uitdaag en kan die outomatiese ratkas se gejaag na ’n laer rat nogal steurend wees. Die blou-op-swart inligtingvertoonskerm word ook onleesbaar sodra die son daarop skyn.

Maar alles inaggenome is bogenoemde toegewings eerder as tekortkominge, want dié suinige, sinvolle Fortuner sal dalk nie dadelik jou siel soos ’n 2.8 l-vlagskip roer nie, maar hy’s wel die een wat uiteindelik jou boeke laat klop. En jou daarom die lekkerste laat droom. Nag, ou grote.

Die syfers

Fortuner 2.4