Die Toyota Fortuner is sedert 2004 ’n topverkoper onder Suid-Afrikaners en het daarom geen bekendstelling nodig nie. Dié sewesitpleksportnuts is oorspronklik in Taiwan ontwikkel, totdat Toyota Australië in 2015 die leisels oorgeneem het met die tweede geslag Fortuner.

Toyota Suid-Afrika het die Fortuner vanjaar buitelangs opgeknap om hierdie jongste weergawe, die Toyota Fortuner Epic, te skep.

Wat het ons hier?

Die Epic is beskikbaar in twee afwerkingsvlakke: Epic en Epic Black. Albei weergawes gebruik Toyota se getroue 2.8 GD-6-enjin wat al ’n aantal jare op ons paaie diens doen. Soos jy seker kan raai, dui die Black-agtervoegsel op ’n hoër spesifikasielys, terwyl die gewone Epic minder verskil van die standaard-Fortuner.

Die Fortuner Epic-reeks kan verder verdeel word in vier modelle: twee agterwielaangedrewe 2.8’s (Epic en Epic Black) en twee deeltydse viertrekmodelle (Epic 4x4 en Epic Black 4x4). Die pryse vir die vier modelle is soos volg: R660 000 vir die basismodel-Epic, R670 100 vir die Epic Black, R729 000 vir die Epic 4x4, en die vlagskip-Epic Black 4x4 gaan jou R739 100 uit die sak jaag.

Toyota se 2.4 GD-6- en 2.7 VVTi-modelle bly onveranderd en daar is tans geen planne om Epic-weergawes van hulle te maak nie. Vervaardiging van die 4.0 V6-model is gestaak en alle handratkaste is laat vaar sodat jy deesdae ’n nuwe Fortuner slegs in outomaties kan koop.

Dit lyk of Toyota se twee grootste mededingers in Suid-Afrika, Isuzu en Ford, nie veel belang stel om spesiale weergawes van hulle sportnutse te bou nie. Daar bestaan byvoorbeeld nie iets soos ’n mu-X-Rider of Everest Raptor nie. Mitsubishi bied wel ’n Pajero Sport Shogun wat meer katoeters het as sy standaard-Pajero Sport, maar ons glo nie die mense by Toyota kyk oor hulle skouer of die Pajero Sport hulle kos gaan afvat nie.

Buitelangs

Die Toyota Fortuner Epic kry ’n swart stampstaaf oor die voorbuffer met ’n metaalplaat waaruit die naam Epic gesny is. Agterlangs is daar ’n sleepstang, ook in swart, met ’n haak en kragkoppelstuk. ’n Epic-kenteken is links agter onder die modelnaam aangebring.

Die Epic Black-model het ’n tweekleurontwerp met ’n swart dak, swart dakrelings, swart syspieëls en swart 18”-allooiwielvellings. Die Epic Black se bakverf is beperk tot een kleur, Glacier White, wat ’n goeie kontras vorm met die swart elemente.

Met die gewone Epic het jy ’n keuse tussen dieselfde gletserwit of chroomsilwer, grafietgrys of brons – maar dan is jy daai spiekeries swart dak en spieëltjies kwyt.

Binnelangs

Die naam Fortuner is op die drumpelplate geëts en Epic is met silwer gare op die vloermatjies geborduur. Verder verskil die Epic geensins van die standaard-Fortuner nie. Jy kry steeds die dubbelsone-klimaatbeheer, sleutellose toegang, aansitterknop, ’n raakskerm met satellietnavigasie, trukamera, kruisspoedbeheer, ratwisselspane en elektriesverstelbare sitplekke.

Die elektroniese hulpmiddels bly ook onveranderd met sluitweerremme, vastrapbeheer, stabiliteitsbeheer, remversterking, remkragverdeling en wegtrekhulp teen opdraandes. Die viertrekmodelle kry ekstra hulpmiddels soos Toyota se gerekenariseerde A-Trac-veldrystelsel en afdraandebeheer.

Die draaiknop wat die aandrywingstelsel kan wissel tussen agterwiel, viertrek en viertrek in laestrek, bly ook onveranderd.

SPESIFIKASIES

Model getoets: 2.8 4x4 Epic Black

Enjin: 2 755 cc-viersilinderturbodiesel

Krag: 130 kW @ 3 400 r.p.m.

Wringkrag: 450 Nm @ 1 600 r.p.m.

Ratkas: 6 spoed-outomaties

Tenk: 80 l

Brandstofverbruik: 8,5 l/100 km

Sleepgewig: 3 000 kg

Nader- en vertrekhoek: 29° en 25°

Grondvryhoogte: 279 mm

BVM: 2 750 kg

Bande: 265/60R18

Veiligheidsgradering: * * * * * (ANCAP, 2019)

Diensplan: 9 dienste/90 000 km

Waarborg: 3 jaar/100 000 km

Diensperiodes: 10 000 km/12 maande

Prys: R739 100

ONS SÊ WAT HULLE SÊ

Ry & Sleep se beleid is dat ons eerstehandse ervaring moet hê oor die dinge waaroor ons skryf, hetsy dit ’n vakansieoord of ’n knipmes is.

Weens die inperkingsmaatreëls om die coronavirus te stuit is die Fortuner Epic egter elektronies aan ons bekend gestel en daarom kan ons slegs oor Toyota se mediaverklaring berig.

Nuwe rygoed
Nuwe rygoed