Foto’s: Alex Clark

"Ons is afgetree en goed vertroud met woonwaens en kampering, maar weens gesondheidsredes moes ons ’n ruk lank laaglê. Dinge het egter beter begin gaan en ons het besluit ons is nog lank nie klaar gekamp nie. Dit was tyd om weer te begin rondkyk vir ’n woonwa.

Hier teen Oktober laasjaar sien ons ’n advertensie vir ’n 1981-model Jurgens Fleetline 1. ’n Handelaar in Boksburg wil hom vir R25 000 van die hand sit. Ons is eers huiwerig om spesiaal van Pretoria na Boksburg te ry om na die Fleetline te gaan kyk… hoe goed kan die toestand van ’n 36-jarige woonwa dan nou wees?

Ons bel die verkoopsman, en nadat ons met hom gesels het, besluit ons om tog maar te gaan kyk.

Wat ’n aangename verrassing! Die wa is pragtig, goed opgepas en versorg, en nog in sy oorspronklike toestand – net soos hy in ’81 uitgekom het.

Sy toerusting is so te sê volledig en sy tent, nog die oorspronklike een, óók in ’n goeie en diensbare toestand.

Die wa is pragtig, goed opgepas en versorg, en nog in sy oorspronklike toestand – net soos hy in ’81 uitgekom het.

Ons het wel hier en daar ’n bietjie opgeknap en aangepas sodat die wa aan ons persoonlike smaak kan voldoen, maar dit was alles deel van die plesier om nuwe lewe in ons “nuwe” Fleetline 1 te blaas. Al wat hy nodig gehad het, was ’n stel nuwe bande, nuwe gordyne (volgens ons smaak), ’n goeie diens (’n was en politoer ingesluit), en nuwe Jurgens-kentekenplakkers wat ons spesiaal laat maak het.

Ons kan nou weer in die bondel stilhou, soos Isabel sê. Ek was ook gelukkig genoeg om ’n stel oorspronklike stabiliseerders raak te loop. Ons het die wa met ’n elektrisiteitstelsel toegerus, en die oorspronklike yskassie werk nou met gas én krag. Selfs die gasstofie is diensbaar en maak koffiewater as die woonwapark se elektriese lading te erg raak.

Ons sleep die Fleetline met ’n Chery Tiggo 2.0. Die wa is nog met bladvere toegerus en hy sleep heerlik stabiel met sy lae profiel. Hy is ook lig genoeg dat ons twee pensioentrekkers hom maklik kan hanteer – dis nogal belangrik in dié stadium van ons lewe.

Ons was onlangs in die Krugerwildtuin, en op ’n dag staan ’n ouer egpaar na die Fleetline en kyk. Ons hoor toe die man vir sy vrou sê: ‘Hulle bou hulle nie meer so nie.’ Ons het groot waardering vir daardie woorde, want dit is die reine waarheid. Hulle bou woonwaens nie meer só nie. Daar’s byvoorbeeld geen teken van waterlekke of houtvrot nie – ná soveel jare is dít werklik ’n groot pluspunt."


*Dié artikel het vir die eerste keer in Weg Ry & Sleep verskyn in November 2017 (#4)
Het jy iewers ’n seldsame sleepsel of ryding gesien?
Vertel ons daarvan en stuur vir ons ’n foto na rysleep@weg.co.za óf Weg Ry & Sleep, Posbus 740, Kaapstad 8000.