Gewoonlik neem dit jare se harde werk om geld bymekaar te kry vir wiele soos die G-klas. Die kinders sal ook al uit die huis moet wees. Of dalk is daar rykdom in die familie, óf dalk val ’n gawe staatstender in jou skoot...

Die Chinese motorvervaardiger Beijing Auto Works, ’n filiaal van die staatsbeheerde BAIC-groep met ’n aandeel in verskeie motor- en masjinerie-vervaardigers, meen dis nie nodig om jou af te sloof om te lyk of jy dit “gemaak” het nie. Met die BJ80 klim jy in ’n kloon van die G-klas.

Die Chinese word hoeka beskuldig dat hulle ander voertuie namaak, amper asof jy in die eksamenlokaal sit en weerskante van jou afkyk.

Daar is selfs ’n lighartige verwysing in die motorbedryf dat van hierdie ouens nie eens ’n ontwerpafdeling het nie. Só kan hulle op salarisse bespaar en eerder in hope aftrekpapier belê.

BJ80
BJ80

’n Mens kan toegee: die BJ80 se neus lyk effens anders. Die sierrooster en hoofligte lyk uit plek, as jy dit dalk aansien as dié van ’n G-klas. Die agterligte is darem oorspronklik. Maar sy basiese vorm, oop deurskarniere, speekvellings en die modderskerms lyk alte bekend.

Die swart glanspanele binne saam met die afgewerkte rathefboom gee die BJ80 darem ’n tikkie swier, maar die grafika en skrif op die digitale instrumentepaneel, asook die deurgestikte leerbekleedsel, voel die ene Stuttgart.

Ten minste behoort die BJ80 danksy sy hoekige vorm – met ’n naderhoek van 39º en vertrekhoek van 33º – asook die 600 mm waaddiepte ’n ordentlike veldryvermoë te hê.

Onder die “mosselagtige” enjinkap staan sy 3 l-turbopetrol-V6-enjin gereed. Dié skop 206 kW en 420 Nm na al vier wiele uit en het ’n sesspoed- outomatiese ratkas.

BJ80
BJ80
BJ80
BJ80
BJ80
Binnekant
BJ80
BJ80

Of ons die BJ80 hier gaan sien, is ’n ope vraag. Hy behoort net meer as R600 000 te kos – dit is darem sowat R2 miljoen minder as die G-klas.

BJ80
BJ80
Vertel ons
Het jy iewers in jou omswerwinge ’n seldsame sleepsel of ryding gesien? Vertel ons daarvan en stuur vir ons ’n foto na rysleep@weg.co.za.
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook