Alles loop altyd reg

1998 TOYOTA PRADO 3.0 KZTE

Daar is nie nóg ’n voertuig so bekwaam soos ’n Toyota nie, en hy sal syne net vir ’n ander een verruil, sê Attie Meintjes van Reitz in die Vrystaat.

Ek het my Prado – ons noem hom Big Grey – 11 jaar gelede tweedehands gekoop vir R140 000. Ek was op soek na ’n stewige ryding wat sterk genoeg is om te sleep.

Ek het na dubbelkajuitbakkies soos die Toyota Hilux en Isuzu KB gekyk, maar die Prado se prys en gehalte was net te goed om te ignoreer. Oor die jare het ek ’n besonderse waardering ontwikkel vir hoe gemaklik die Prado ry en hoeveel pakplek daar is. My droomvoertuig is ’n splinternuwe Prado. 

Die een ding waaroor ek wel kan kla, is die brandstofverbruik. My gemiddelde verbruik het mettertyd gestyg tot in die omgewing van 16,3 l/100 km. Ek moes ook al sy enjin laat oordoen en as ek nou R10 000 gehad het wat rondlê, sou ek hom ’n nuwe laag verf gee.

My vorige ryding was ’n ou Isuzu KB 250D, maar hy het gesukkel om die mas op te kom wanneer ons sleep… en hy het ook nie meer skelm gerook nie.

Ek geniet dit om die kus besoek, en die blomme en berge in die Wes-Kaap het vir my ’n spesiale bekoring. Dis hoekom ons gewoonlik in daardie rigting mik, en ek is eerlik as ek sê ons het nog nie by een swak kampplek gestaan nie. 


Sorento se sleepspiere

2008 KIA SORENTO 2.5 CRDI

Die Koreaanse handelsname het ’n indrukwekkende ommeswaai in die plaaslike mark gemaak, maar Talbot van Rooyen van Pretoria sê sy eerstegeslag- Kia Sorento was heel tuis voor sy Jurgens Penta.

Ek het die Kia vyf jaar gelede tweedehands gekoop vir R150 000 en hy het geen probleme gegee nie. Ek wou eintlik ’n Ford Ranger gehad het en het dit ernstig oorweeg om een te koop, maar daar het uiteindelik niks van daardie plan gekom nie. Intussen het ek vir my ’n BMW X5 aangeskaf.

Ek sleep ’n 1995-model Jurgens Penta met ’n Tando-stabiliseerder teen 120 km/h en die Sorento het my ’n verbruiksyfer van gemiddeld 12 l/100 km gegee.

Sonder die woonwa op die haak was die syfer ’n heel skaflike 8,3 l/100 km. Omdat ek doof is, kon ek nie regtig enige steurnisse of geraas in die kajuit hoor nie.

Vir my moet ’n sportnutsvoertuig jou in staat stel om enige denkbare kampplek te bereik, en in daardie opsig het die Kia my nie teleurgestel nie.

Ons is lid van die Kamp-Mal-groep op Facebook en het al ’n klomp wenke gekry vir kampplekke in Noordwes en Limpopo waar ons heerlik gekuier het