Die veldrygogga het jou onlangs gebyt en nou moet jy ’n tent koop. Koop jy ’n daktent of een wat op die grond opgeslaan word?

Dit klink dalk voor die hand liggend, maar omdat dit so duur is, wil jy nie agterna spyt wees nie. 


Hier is die 20 belangrikste dinge wat jy moet oorweeg as jy tussen ’n grond- of daktent moet kies:


1. ’n Grondtent vereis ’n plat, gladde en gelyk oppervlak. ’n Daktent kan gelykgemaak word deur jou ryding se wiele op ’n rots of houtstuk te laat rus. Jy kan ook ’n gat grawe vir een van die wiele.

2. Grondtente is in ’n verskeidenheid groottes beskikbaar: van eenmantente tot reuse gesinstente. Tente kan ook aan mekaar vasgerits word vir ekstra spasie, soos vir ’n kombuis of badkamer.

3. ’n Daktent kan toegevou word met die beddegoed binne-in, wat ruimte spaar. Dit slaan ook vinniger op wanneer jy by die volgende kampplek stilhou.

4. In snerpende koue gaan baie hitte verlore tussen die tentvloer en die grond, terwyl daktente beter geïsoleer is.

5. ’n Grondtent is gewoonlik aansienlik goedkoper. 

6. As jy ’n gespanne kampeerder is, sal ’n daktent jou uit roofdiere se kloue hou.

7. ’n Daktent hou jou droër as die hemel sy sluise ooptrek.

8. Dis makliker om ’n daktent skoon te hou – binne en buite. Die tent staan nie op die grond nie en die meeste sand skud van jou voete af wanneer jy opklim.

9. Hoewel daar tente op die mark is wat maklik opslaan, slaan ’n daktent oor die algemeen makliker op as grondtente, ook as jy nie genoeg hande het nie.

10. Omdat die daktent permanent op jou dak vasgemaak word, hoef jy dit nie in winderige toestande te beveilig nie. ’n Grondtent moet egter dikwels met penne vasgekap word, wat moeilik is op klipperige terrein.

11. Die meeste daktente is taamlik swaar, wat beteken dat jy ekstra gewig op jou dakrak sit en daarom jou voertuig se swaartepunt lig.

12. In die meeste gevalle moet ’n daktent op ’n dakrak geïnstalleer word, wat ekstra koste beteken. 

13. Die daktent neem omtrent die hele dakrak in beslag, tot 80%.

14. ’n Daktent sal waarskynlik jou voertuig se brandstofverbruik opjaag.

15. ’n Daktent maak uitstappies na die badkamer in die nag effens moeiliker. 

16. Grondtente word oor die algemeen aan meer stampe en stote blootgestel en het ’n korter leeftyd as ’n daktent.

17. Dis meestal makliker om grondtente tweedehands te verkoop omdat meer mense dit gebruik.

18. Grondtente bied oor die algemeen groter veelsydigheid kragtens waar jy kan kamp. (Jou voertuig kan nie altyd tot by die beste staanplek ry nie.) 

19. ’n Daktent is ongerieflik op ’n wildrit.

20. Daktente werk lekker op boswaens. Dan word baie van die daktent se nadele oorkom.


Vir nog 4x4-raad, kontak die 4WD Truckin’ Company by 011 791 3822 of 012 803 1040, of besoek www.4wdtruckin.co.za, of stuur jou navrae na info@4wdtruckin.co.za.