Foto’s: Leon Botha

Ons het tot twee jaar gelede in ’n tent gekamp – tot ons op ’n besoek aan die ATKV-Goudini-spa besluit het dis tyd vir ’n verandering. Een van daardie klein veselglaswoonwaens, die Sherpa Tiny, het ons oog getref en die eienaar het ons vertel hulle vriende het ’n soortgelyke een wat hulle wil verkoop.

Die woonwa is nie meer vandag se kind nie en amper 30 jaar oud. Volgens sy plaatjie is hy in 1990 deur Paragon Fibreglass in Durban gebou. Hy weeg net 260 kg en het ’n BVM van 550 kg. Ons besluit dis die een vir ons... en teen R21 000 kry ons ons eerste woonwa, nogal met die naam Tiny daarop.

Tiny het twee deure: Een links en die groot dubbeldeur agter. Die agterdeur se onderdeel swaai kant toe oop, en die bokant slaan oop soos dié van ’n bak-kiekappie. Ons slaan ons gazebo op wanneer ons lang tye kamp, maar gebruik die seilafdak oor die kant as ons net vinnig by ’n kampplek inloer.

Net soos die Sherpa is dié wa ook van veselglas met ’n dubbelbed binne. Die bed is teen die een kant met ’n gangetjie langsaan, maar die dak is wel te laag en ’n mens kan nie binne staan nie. Ons ry ’n los yskassie saam wat ons uithaal sodra ons kamp opslaan – dieselfde met die stoof.

Vandag is ons lid van die Goeie Hoop-streek van die Woonwaklub van Suider-Afrika en kamp gewoonlik een keer per maand. Ons het selfs ’n keer met die Tiny tot by Etosha in Namibië gery! Vir Augustus beplan ons ’n toer deur ’n paar van Sanparke se kampe wat ons saam met vyf ander paartjies pak. Die Karoo-, Kamdeboo- en Bergkwagga- nasionale park is op ons lysie, én die Addo-olifant- nasionale park. Hiervoor het ons 20 dae opsy gesit.

Dit bly ’n plesier om met dié klein wa te kamp. Wanneer ons by ’n kampplek inry, staan mense gewoonlik nuuskierig nader om ons uit te vra oor Tiny.

Kontak ons!
Het jy iewers in jou omswerwinge ’n seldsame sleepsel of ryding gesien? Vertel ons daarvan en stuur vir ons ’n foto na  rysleep@weg.co.za.