Amerika is ’n land waar groter áltyd beter is. As dit by eetgoed, skietgoed en veral rygoed kom, stel Yanks nie juis belang as die woord “beskeie” in ’n beskrywing opduik nie. Niemand was dus verras toe die Amerikaanse publiek hulle teleurstelling uitspreek oor die BMW X5 se “beskeie” afmetings nie.

Nee, die mense in Trumpland het ’n sewesitplek-sportnuts gesoek waarvan die agterste ry deur volwassenes gebruik kan word.

Spartanburg, die Amerikaanse BMW-aanleg waar die X4, X5 en X6 gebou word, moes met iets vorendag kom, en dié iets is die reusagtige BMW X7. Maar hoe, buiten die minder beskeie afmetings, verskil die X7 van sy kleiner X-broers?

Buitelangs

Die maklikste manier om ’n BMW X7 van ’n X5 te onderskei is die enorme sierrooster – die grootse een wat BMW nóg gebruik het. Jy dink dalk die V6-dubbelturbo-enjin het groot hoeveelhede lug nodig om daai gapende sierrooster te regverdig, maar dis in werklikheid ’n soliede paneel wat min tot geen lug deurlaat. Die eintlike luginlate sit aan weerskante van die buffer waaragter jy twee verkoelers sal opmerk.

Die BMW X7 se hoofligte is ook smaller en breër as die X5 s’n, maar dit lyk of die enjinkap presies dieselfde is. Van die kant af is die X7 aansienlik langer as die X5. Die agterdeur is langer as die voordeur en die romp steek effens verder verby die agterwiel as met die X5.

Die afmetings van 5 151 mm lank, 2 000 mm breed en 1 805 mm hoog laat dit klink of jy ’n boot beskryf.

Die wielboë is meer gerond as die effens hoekige boë van die X5 en die dak is hoër agterlangs sodat die heel agterste passasiers se kop nie teen die plafon skuur nie, maar meer daaroor later.

Agterlangs is die verskille minder opvallend, maar dis duidelik dat die X7 nie bloot ’n verlengde X5 is nie, al het hy dieselfde onderstel as die X5.

Binnelangs

Die instrumentepaneel is presies dieselfde as in die X5, maar die materiale wat BMW in die X5 as ’n opsionele afwerkingsvlak bied, is hier standaard. Ook die raakskerm is dieselfde en word beheer met vingergebare, ’n wielknoppie op die middelkonsole of stembevele deur die bestuurder.

Die ooreenkomste tussen die X7 en X5 is inderdaad te veel om te noem, en daarom is dit beter om op die verskille te fokus. Die X7 is beskikbaar met 6 óf 7 sitplekke.

Die sessitplekweergawe is gemik op ringkoppe van groot firmas wat soos volg wil sit: Die chauffeur en ’n middelposbestuurder voor; die twee sakevennote langs mekaar in die middelste ry (hulle sitplekke raak nie aan mekaar nie); en dié se twee assistente in die agterste ry waar hulle notas kan maak en vlugte bespreek. Maar die X7 is nie net ’n mobiele raadsaal nie.

Met 7 sitplekke is die middelste ry nou ’n aaneenlopende bank wat hom meer geskik maak as ’n gesinsvoertuig. Ons kan beswaarlik aan ’n lekkerder toervoertuig as die X7 dink.

Op die langpad kan drie kinders gemaklik agter sit met oorgenoeg persoonlike ruimte sodat daar geen rede tot gevegte is nie.

As jy in die mark is vir ’n X5 (R1 186 2000), kan jy net sowel die groter X7 oorweeg – hy gaan jou “net” R370 000 meer uit die sak jaag.

Onderlangs

Die BMW X7 gebruik ’n agtspoed- outomatiese ratkas en ’n dubbelturboaangejaagde reguitsessilinderdieselenjin wat hom binne 7,0 s van stilstand tot by 227 km/h kry.

Die vering agterlangs bestaan uit vyfskakellugvering wat outomaties verstel na gelang van padtoestande. Voorlangs is dubbelmiklugvering wat ook outomaties verstel word.

Die skyfremknypers op elke wiel het elk slegs een silinder, wat vreemd is gegewe die X7 se betreklike swaar gewig (2,4 t) en sy skaflike topspoed (227 km/h), maar ons het gevind dat sy enkelsilinderknypers tóg goed rem.

Saam met die vering en aandrywingstelsel is daar ’n legio elektroniese hulpmiddels, elkeen met ’n drieletterafkorting (want BMW se naam is immers self ’n afkorting!).

Daar is stabiliteitsbeheer (DSC), sluitweeremme (ABS), dinamiese vastrapbeheer (DTC), rembeheer vir skerp draaie (CBC) dinamiese rembeheer (DBC), droëremfunksie (DBF), teenremkragvervaging (BFC), wegtrekbeheer (SOA), outomatiese remkragverdeling (ADB), remenergieherwinning (BER), hellingbeheer (HDC) teenwiegbeheer (ARS), elektroniese kragstuur (EPS) en ’n opsionele outomatiese stuurfunksie (IAS), om enkeles te noem.

Nuwe rygoed
Nuwe rygoed
SPESIFIKASIES

Enjin: 2 993 cc, 6 silinder-dubbelturbodiesel

Krag: 195 kW @ 4 000 r.p.m.

Wringkrag: 620 Nm @ 2 500 r.p.m.

Ratkas: 8 spoed-outomaties (Steptronic)

Topsnelheid: 227 km/h

Brandstofverbruik: 6,8 l/100 km

Tenk: 80 l

Grondvryhoogte: 221 mm

Nader- en vertrekhoek: 25º en 22º

Waaddiepte: 500 mm

Bagasieruim: 326-2 120 l

Tarragewig: 2 445 kg

Maksimumsleepgewig: 2 200 kg

Veiligheidsgradering: Nog nie getoets

Model getoets: BMW X7 xDrive30d

PRYS: R 1 554 500