foto’s Helenus Kruger

Met die koms van boswaens jare gelede het almal min of meer dieselfde gelyk: ’n romp met ’n daktent bo-op. Maar met die groeiende aanvraag na boswaens het al hoe meer vervaardigers én nuwe ontwerpe hulle verskyning gemaak.

MJ en Elmien Fitchet, eienaars van GT Camper, is allermins nuwelinge in die boswamark. Hulle het ses jaar ondervinding in die bedryf en hulle waens, die Libra en sy kleinboet, die Spider, is twee van die nuwer ontwerpe.

Dié waens het ’n unieke eien­skap, ’n eerste vir die plaaslike mark: Die deksel van die wa verander nadat jy dit oopgevou het in ’n vloer vir die tent.

MJ sê hulle het deur die jare al verskillende soorte kamptoerusting gebruik op hulle reise. Maar hulle het gedroom van ’n sleepding wat eenvoudig, gerieflik en sterk is. Om die droom te bewaarheid was eenvoudig: Bou jou eie wa, volgens jou eie behoefte.

Só is die Libra en Spider gebore.

Tent opslaan

Die tent is binne-in die romp opgevou, onder die deksel van die wa. Die deksel se binnekant word die vloer van die tent wanneer dit oopgevou is.

Heel eerste moet jy die wa se neus laat sak sodat hy teen ’n helling vorentoe leun – dit keer dat die vloer se verstelbare voetstutte op die grond druk as dit oopgevou is.

Stap nou om na die agterkant en maak die knippe van die raamwerk waaraan die noodwiel vas is bo en onder die wa los. Swaai die raam om na die regtersykant van die wa, maar moenie dit teenaan die wa sit nie. Dit kan die gasstutte wat die deksel lig, beskadig wanneer jy dit oplig.

Nou kan jy die vier knippe – een voor en agter aan elke sykant – waarmee die deksel in plek gehou word, losmaak en dit van die voorste hoeke van die wa af begin oplig. Hoewel die dak danksy die twee gasstutte aan die agterkant deur een mens opgelig kan word, is dit net soveel beter as jy hulp aan die ander kant van die wa het.

Loop nou al langs die wa na die agterkant toe en swaai die deksel oop totdat dit op die grond lê. Die deksel se agterkant sal hoër wees as die kant waar dit teen die wa skarnier – jy moet dit in die middel trap om dit horisontaal te kry. Lig nou die neus totdat die wa waterpas staan en die vloer se vier hoekstutte die grond raak en verstel hulle, indien nodig.

Om die tent te span moet jy binne-in die tent op die bed klim en die raamwerk van vierkantyster aan die voorkant boontoe druk totdat dit in posisie klik. Doen nou dieselfde met die raamwerk aan die agterkant van die tent (die middelste raamwerk is reeds in plek).

Jy kan nou die tent se kant-, voor- en agterseiltjies opslaan en daarna al om die wa loop en die sykante van die tent oor die romp en tentvloer trek en met die klitsrits aan die wa vasplak.

Met afslaantyd is ’n tweede mens nodig om te help om die deksel toe te trek en ook seker te maak die tent word nie tussen die deksel en romp vasgeknyp nie. 

In die binneruim

Die ruim, oop gevoel in die tent is onmiddellik opvallend wanneer jy instap. Die soliede vloer laat dit voel asof jy eerder in ’n woonwa as in ’n tent is.

Binne is die tent in twee ewe groot dele verdeel: die aantrekdeel waar jy instap en die slaapdeel links, na die voorkant van die wa toe. Met ’n vloerafmeting van 2,1 x 1,7 m is hier baie beweegruimte en selfs plek vir ’n klein kassie of rakkie vir pakplek.

Die tent is aan die agterkant op sy laagste punt 1,9 m hoog en van hier af loop dit skuins op na die nok bo die bed. Selfs Langeraat se kop gaan nie teen dié dak skuur nie.

Daar is deure aan weerskante van die aantrekkamer en die agterkant kan heeltemal ooprits. Alle deure en vensters het flappe en muskietnet wat kan ooprits. Om op die bed te kom gebruik jy die trappie aan die binnekant van die agterste kas se deur. Die palekas se deksel, wat net soos die trappie ’n rub­ber­bedekking het sodat jy nie gly nie, is sterk genoeg om as tweede trappie te dien. Die twee diepsiklusbatterye is weerskante van die palekas met die kragboks regs van die laaie.

Die twee uittreklaaie reg onder die bed het genoeg spasie vir ’n paar weke se vakansieklere. Jy kan die laaie óf uittrek óf die bedbasis oplig en van bo af werk as jy iets wil uithaal. Weerskante van en onder die laaie is daar nóg pakplek, maar dit is ongemaklik om hierin te werk – pak dus net goed hierin wat jy min gaan gebruik.

Die bed is net-net smaller as ’n koninggrootte en het twee stewige sponsmatrasse wat die hele breedte van die wa vol lê.Die twee leesliggies op armpies aan die koppenent van die bed kan verstel en die LED-dakliggie het ook ’n magneetstrook op die agterkant – jy kan dit dus enige plek aan die tent se raamwerk vassit.

Die tent het weerskante en aan die koppenent van die bed vensters met muskietnet wat ook, soos by die aantrek­gedeelte, heeltemal kan oop­rits. Die dakvenster help vir lugvloei, maar die dubbeltentdak gaan enige sterrekykplanne uit die bed kelder.

Voorlangs

Aan die voorkant het die Libra nog iets unieks: Die klipbeskerming is nie die gebruiklike plaat teen die neuskas nie, maar eerder ’n aparte raamwerk met skadunet wat aan die binnekant gespan is.

Aan die kante is die raamwerk effens teruggebuig na die wa se kant toe sodat die klippe weg van jou voertuig af skiet.

Die twee gassilinders, wat voltyds gekoppel is, is tussen die raamwerk en die neuskas en word dus ook teen klippe beskerm.

Op die A-raam is die neuswiel, handrem, kragkoppeling vir die ligte en ’n Brad Harrison-prop om die battery in die ry te laai.

Bo-op die neuskas is ’n houer waarin jy twee ammunisiekiste langs mekaar kan inpas en met stroppe aan die ogies kan vasmaak.

Agter die kap van die byl

Aan die agterkant van die wa is ’n afslaandeur amper so breed soos die wa.

Jy moet eers die noodwiel­swaaiarm wegswaai voordat jy die deurtjie kan oopmaak.

Hier kry jy toegang tot die klerelaaie asook ’n kassie met ’n opligdeksel waar jy dinge soos tentpenne, pale en die kragkabel kan bêre. Bo-op die kassie se deksel kan jy jou kampstoele pak.

Aan die binnekant van die afslaandeurtjie is die trappie wat afswaai na onder waarmee jy op die bed klim as die tent opgeslaan is. Jy kan die LED-liggie (wat met ’n magneet aan die bakwerk vassit) rondskuif, óf gebruik die flits aan die linkerkant van die kassie. 

Watersake

Heel links is die watertenk se inlaat, watervlakmeter en kragsok. Regs hiervan is twee kassies met afswaaideure. Die kleiner kassie is bo die wiel en die groter kassie regs daarvan, tussen die wiel en die neuskas.

Die waterpomp sit binne die kas en bo dit is ’n ronde LED-liggie. Dit is ook in dié kassie waar die opsionele geiser geïnstalleer word.

Die uittreklaai vir jou yskas is in die neuskas en het plek vir ’n National Luna-yskas van tot 90 l. Binne die kas is twee 220 V-kragpunte en twee Hella-punte.

Albei deure en die voorkant van die neuskas het lugopeninge met stoffilters.

Hou links!

Die hele linkersykant bestaan uit die kombuisgedeelte wat baie prakties uitgelê is, spesifiek met die kampkok in gedagte. Heel regs is twee knippe waar jy ’n tafel van 112 x 44 cm aanknip en bo dit drie 220 V-kragpunte binne bereik van jou ketel en broodrooster.

Links van die kragpunte is twee Hella-punte waar jy een van die magnetiese 12 V-LED-liggies kan inprop en bo die tafel aan die wand van die wa vassit.

Die teestasie is in ’n kassie links van die tafel, bo die wiel. Binne is vier bekers en vier houers vir dinge soos koffie, tee, verromer en suiker wat netjies in uitsnyrubbervorms inpas. Jy kan ook twee bokse rakmelk en ’n pakkie beskuit hier inpas.

Die uittrekkombuiseenheid is links, net voor die wiel. Die deksel van die eenheid word die werkoppervlak sodra jy dit uitskuif.Die raamwerk waar die skot­tel­goedwasbak inpas, is reg onder dit en moet na regs uit­skuif voor jy binne by die pakplek kan uitkom.

Heel onder in die eenheid is ’n uitsnyrubbervorm waarin jou borde pas en bo dit ’n draad­rakkie vir eetgerei. Bo dit is genoeg spasie om die een­brandergasstofie, potte, panne, ketel, messegoed en die seilwasbak te pak.

Die gasstofie pas op die linkerkant van die werkoppervlak. Jy hoef nie die gasbottel uit sy bêreplek te gaan haal om te kook nie; die koppelpunt aan die gaspyp is reg by die kombuis onder die wa. Jy koppel eenvoudig die stofie se gaspyp hieraan en jy is reg om te kook.

Die raamwerk waar jy skottelgoed was, het ’n uitgesnyde deel waar die vierkantige seilwasbak inpas. Aan die regterkant van die wasbak is ’n stukkie blad waarop jy vuil skottelgoed kan pak en aan die linkerkant plek waar nat skottelgoed gepak kan word. Die water loop weg deur die gleuwe wat in die oppervlak gesny is.

Die warm en koue kraan waaraan ’n sproeikop gekoppel is – soortgelyk aan dié wat jy in die tuin gebruik – is die naaste aan die wa. Die kassie het plek vir jou skoonmaakmiddels. ’n Ronde LED-liggie bo die kombuiseenheid sorg vir lig.Onder die wa, voor die wiel, is ’n outydse koperkraan wat met gravitasie werk, net ingeval die wa se battery pap word en die waterpompie nie werk nie.

Links van die uittrekeenheid binne die neuskas is twee laaie. Die boonste laai het vier wyn- en waterglase, ’n kurktrekker en vier papbakkies wat netjies in ’n uitsnyrubbervorm inpas terwyl die onderste laai plek het vir jou kos.

Neusgewig 54 kg

Lengte 4 383 mm

Breedte 1 830 mm

Hoogte 1 460 mm

Asbreedte 1 580 mm

Netto gewig (basiese wa) 630 kg

Dravermoë 870 kg

BVM 1 500 kg

Prys R203 534 soos getoets. Die basiese wa kos R135 016. Verskeie toerustingopsies is beskikaar.

PLUS

  • Jy het nie ’n leer nodig om op die bed te klim nie.
  • Die soliede vloer gee die ruim tent ’n luukse gevoel.
  • Die wa het baie pakplek.
  • Die kombuis is baie prakties uitgelê.
  • Die LED-liggies wat met magneetstroke teen die wa vassit en rondgeskuif kan word, is ’n goeie plan.

MINUS

  • Jy moet verkieslik twee mense wees om die tent op en af te slaan.
  • In die oop posisie druk die opslaandeur van die kas teen een van die tentvloerstutte en kan die deur beskadig.
  • Die knip wat die yskas se uittreklaai in plek hou, is in die pad wanneer jy die laai terugstoot en dit kan die deurrubber beskadig.
  • Stof en goggas kan inkom op plekke waar die tentseil nie teen die wa se wand vasplak nie.
  • Die tafeltjie by die kombuis is moeilik om aan die wand vas te haak.

Weg Ry & SleepDie 90 l-watertenk is van vlekvrye staal en sit onder die wa, reg agter die as.

GT Camper is ’n eenman­saak in Pretoria.

Kontak 012 770 3633 of 061 461 8543; sales@gtoff roadtrailers.co.za; gtoffroadtrailers.co.za