Foto’s: Zigi Ekron

Die mededinging in die Suid-Afrikaanse boswamark is straf, en om ’n gerekende handelsnaam te word is gewis geen kinderspeletjies nie. Toe die eerste Bush Lapa-waentjie, die Miskruier, in 2010 op Worcester die lig sien, was dit net een van ’n ywerige groep nuwelinge wat daardie jaar hulle kleim tussen gevestigde vervaardigers afgesteek het.

In die eerste jaar van produksie het die fabriek gemiddeld 2 waens per maand gebou; in die daaropvolgende jaar 5 per maand en toe 11 per maand in die jaar daarna. Teen die einde van 2017 was daar reeds meer as ’n duisend Bush Lapa-waentjies op die pad in Suid-Afrika, Namibië, Botswana en so ver as Sri Lanka, Kanada, Australië, Nederland en Brittanje.

Tans rol daar feitlik daagliks ’n nuwe waentjie van die produksielyn af. Maar dit is nie net die fabriek wat uitgebrei het nie. Van een model boswa het daar uiteindelik tien gekom plus twee laaibakkajuite vir bakkies. Die jongste toevoeging tot die reeks waens is die Bush Lapa Baobab.

Tans rol daar feitlik daagliks ’n nuwe waentjie van die produksielyn af...

Pak maar in

Dit is nie heeltemal akkuraat om na die Baobab te verwys as ’n boswaentjie nie. Hy val eerder in die kategorie van boswoonwa, want ’n mens slaap binne-in die wa. Trouens, dit geld vir al die modelle in Bush Lapa se reeks. Daar’s geen sprake van daktente en ’n op- en afkloutery op leertjies nie. Dit maak boswoonwaens uit die aard van die saak swaarder as boswaentjies.

In dié opsig is die Baobab ’n interessante geval. Volgens die lisensieskyf weeg ’n volgelaaide Baobab (dus die brutovoertuigmassa) ’n stewige 1 800 kg – heel normaal vir dié klas sleepding. Maar leeg, met standaardbybehore soos die noodwiel, afdak, spypanele, twee diepsiklusbattery en gasgeiser, weeg hy net 1 090 kg. Dit beteken die orige 710 kg van daardie volgelaaide gewig is jou eie bagasie. Dis ongeveer 200 kg meer as wat jy in ’n gewone bagasiewaentjie sal kan laai.

Dit is dus letterlik ’n wavrag vol kos, klere en kamptoerusting.

Kroos Kombuis

Een van die ekstras wat jy moet aankoop, is ’n ys-vrieskas wat pas op die kombuislaai links vooraan die wa. Daar is genoeg plek vir ’n 90 l-yskas en Bush Lapa gee jou die opsie om te kies tussen drie handelsname: Engel, National Luna en Snomaster.

Langs die yskas, op dieselfde laai, is die gasstoof en kleiner laaie met kookgerei byderhand. Die groot luikdeur net regs van die kombuislaai slaan na onder oop om ’n werkblad te skep waar twee mense maklik langs mekaar kan staan en brood smeer en groente kerf, sonder dat dit te beknop raak.

Agter die werkblad is ruim rakke waar jy al jou nie-bederfbare kruideniersware kan pak. Die eetgerei, van borde en bakkies tot messegoed en wynglase, rits in seilsakkies aan die binnekant van die wa se deur toe, reg langs die kombuisblad. Jy kan dus sommer daar langs die pad stilhou en sonder moeite ’n skaflike middagete aanmekaarslaan as die kroos op die agtersitplek begin hongerpyne kry.

Wanneer jy by jou kampplek aangekom het, kan jy ’n aluminiumraampie aan die kant van die kombuislaai inhaak met plek vir twee plastiekskottels en die droograk om skottelgoed te was.

Maak hom staan

Wanneer jy in die kampplek by jou staanplek afgesaal het en die twee hoekstutte en hulle voetplaatjies agter op die Boabab uit hulle bêreplek gehaal en hulle aan weerskante ingedruk en met die slinger stewig staangemaak het, bly daar net drie basiese stappe oor om op te slaan: Eerstens maak jy die knippe van die opwipdak los en druk die dak van binne af op; dan maak jy die flappe vir die beddens oop, vou die seiltjies oor, druk die rame op hulle plek en span die afdakkies styf; en laastens vou jy die Baobab se Bushwing-afdak uit en sit sy stutpale op hulle plek.

“Bushwing” is die geregistreerde handelsnaam vir die afdak wat 270° om die Baobab strek. Die werking daarvan herinner ’n mens aan hoe ’n voël sy vlerk oopsprei – vandaar dus die naam. Die afdak verg nie ’n geryg (en ’n gehyg) soos met oudmodiese woonwastoeptente nie. Al wat jy hoef te doen is om die sak bo aan die linkerkant van die Baobab oop te rits en die vyf staalarms uit te swaai.

Die stutpale en ekstra dwarspale help om die dak styf te span sodat water nie daarin opdam as dit reën nie. Al wat dan nog oorbly, is om die kombuiskas oop te maak en die yskaslaai uit te trek. 

Jou lêplekkie

Bush Lapa bou twee variante van die Baobab. Die een het slaapplek vir drie en die ander een vir vier, maar die uitleg is identies – al wat verskil, is dat die voorste bed in die Baobab 3 kleiner is. Die hoofbed slaan aan die regterkant van die wa uit en die ander een voor oor die neuskas. In die geval van die Baobab 4 is dit twee dubbelbeddens van 1,9 m lank. Dit beteken Bakkies Botha se voete gaan afhang, maar die res van ons sal met gemak daarop inpas.

Die bed wat aan die voorkant van die wa uitvou, is effens breër as die een regs, maar het minder kopruimte. Laat die kinders dus maar daar inseil. By die voetenent van dié bed is drie nuttige rakkies vir los goed soos jou karsleutels, beursie en leesboek. Hier is ook twee USB-sokke waar jy jou selfoon se laaier kan inprop.

Laat jou liggie skyn

Binne-in die Baobab hoef jy jou nie oor goggas te bekommer nie. Daar is gaas voor al die vensters en jy kan die hooflig in die wa verstel sodat die LED-ligte wit of geel skyn sodat jy nie nog goggas lok nie. Die leesliggie bo elke bed is ook geel LED-ligte, maar dis steeds helder genoeg om te kan volg wat die hoofkarakter in jou boek aanvang.

Pak weg jou goed

Oorkant die hoofbed se voetenent is ’n ry met vier kassies sodat elke mens bêreplek het vir sy of haar klere. Elke kassie het twee rakkies en rits afsonderlik toe met ’n seilflappie.

Maar wag, dis nie al nie...

Daar is heelwat opsionele bybehore wat jy kan aanskaf om die Baobab toe te rus vir ’n vakansie in die boendoes. Die vernaamste hiervan is die 140 W-sonpaneel en die buitenste storthokkie en geiser. Die nylonstorthokkie vou op dieselfde manier as die Bushwing oop en gee jou ’n ruim plek om die dag se stof af te was.

Borsel jou tande

Heel agter in die wa is ’n badkamerhoekie met ’n wasbak waar jy kan gesig was en tande borsel. Bo die wasbak is twee oop rakkies waar jy ’n badsakkie en jou soap-on-a-roap kan bêre en onder dit twee groot rakke wat ook met seiltjies toerits. Dit is ’n goeie plek om jou noodhulptassie en jou meisiekind se vanity case te bêre. Net links van die badkamerhoekie is nóg rakke agter seiltjies vir ekstra handdoeke en dies meer.

Weg Ry & Sleep sê
Baobab kon net sowel ’n akroniem gewees het vir Baie Aangename Oulike Boswa Agter Bakkie.

Woonwatoets
Die tegniese goed

Lengte: 4,57 m

Breedte: 1,97 m

Hoogte: 2,15 m

Nokhoogte binne-in: 1,98 m

Nettogewig: 1 090 kg

Dravermoë: 710 kg

BVM: 1 800 kg

Prys: R362 700 (Bush Lapa kon teen druktyd nog nie ’n aanduiding gee wat die verhoging vir 2019 is nie.)

PLUS

  • Die wa is ruim binne en voel nie beknop nie.  
  • Vir meer pakplek kan ’n mens nie vra nie.  
  • Die wasbakkie agter in die wa is ’n groot gerief.  
  • Die USB-sokke vir selfoonlaaiers is ’n slim toevoeging.  
  • Die dubbele neuswiel laat die wa maklik beweeg, selfs in modderige of sandgrond.

MINUS

  • Vanweë sy BVM gaan jy ’n dubbelkajuitbakkie nodig hê om hom te sleep.  
  • Die ingangsdeur is effens laag, maar ná die derde keer dat ’n mens byna skedelbreuk opdoen, onthou jy om af te buk.

Weg Ry & Sleep het die Baobab by die vervaardiger geleen.

Handelaarsnetwerk

Hoofkantoor R101 Klapmuts (Ou Paarl-pad)

Kontak: 021 224 0919; 084 516 6613