foto’s Cyril Klopper

Isuzu se mense het ons omtrent jaloers agterna gekyk toe ons by die maatskappy se aanleg in Port Elizabeth uitry. Terwyl hulle lessenaars bestuur en papierwerk afhandel, was ons op pad na ’n avontuur – in een van hulle voertuie wat spesiaal vir ons behoeftes aangepas is.

Oor die volgende agt dae sou ons met agterpaaie langs reis tot in Gauteng, en van daar af deur die Noord-Kaap tot in Kaapstad. Oor ’n afstand van 3 520 km – wat verskeie hindernisbane, bergpasse en grondpaaie insluit – het ons goed vertroud geraak met die mu-X. Hier volg ons ry-indrukke. Terloops, het ons mu-X ’n noemnaam? Ja, natuurlik: Moeks!

Bybehore en aanpassings

Met die mu-X se bekendstelling in Mei 2018 het ons ons misnoeë uitgespreek oor die afwesigheid van ’n ewenaarslot op die agteras, en dit lyk of Isuzu ons kommentaar ter harte geneem het, want sedert November 2019 is ’n opsionele Eaton-ewenaarslot vir die mu-X beskikbaar.

Die Eaton MLocker werk soos ’n beperkte glipewenaar in gewone rytoestande, maar sodra die agterwiele se rotasies met 100 r.p.m. of meer verskil, sluit die ewenaar heeltemal, en dít sonder dat die bestuurder ’n vinger hoef te lig. 

Die MLocker ontsluit boonop outomaties sodra jy vinniger as 30 km/h ry en funksioneer dan weer soos ’n beperkte glipewenaar.

Buiten die opsionele ewenaarslot het ons Isuzu gevra om drie aanpassings aan ons mu-X te maak. Die eerste was veldrybande – niks té aggressief nie, maar net lekker. Tweede op ons wenslys was ’n hoogteverstelbare sleephaak sodat ons ’n verskeidenheid waens kan haak, en laastens het ons vir ’n dakrak gevra sodat ons ’n opblaasboot of fietse vir die kinders kan laai, óf dalk ’n daktent vasbout ingval ons sonder ’n woonwa reis.

Die bande wat Isuzu vir ons gekies het, is ’n General Tire Grabber AT3 – vir beter kon ons nie vra nie. Hulle is verbasend stil op ’n teerpad, maar het nietemin ’n aggressiewe loopvlakpatroon wat klou aan ’n grondpad.

Teen druktyd het ons nog nie ’n wa gehaak nie, maar die sleepstang is aan ’n sakplaat met drie rye gate vasgebout. Op die héél laagste verstelling is die haak té laag – ons glo nie ons sal dit ooit in hierdie posisie gebruik nie. Die hoogste verstelling is egter nuttig vir groot boswoonwaens soos ’n Conqueror Commander.

Front Runner se dakrakke is altyd uitstekend, en daarom is ons bly oor die een wat Isuzu vir die mu-X gekies het. Die dakrak maak uiteraard windgeraas, maar dit is glad nie so erg steurend nie en die voordeel om ekstra kampgoed op die dak te kan laai troef die gesuis.

Só ry hy

Die Isuzu mu-X ry heerlik op ’n teerpad, en daai 3 l-turbodieselenjin sing teen enige bergpas uit. Die bakwerk wieg nie te erg deur skerp draaie nie en die meerskakelvering handhaaf die balans tussen goeie padhouvermoë en ’n gemaklike rit.

Op ’n gewone grondpad gaan dinge ook goed, maar die mu-X se agterent is wel geneig om so effens sywaarts te skuif as jy sinkplaat tref. Dit kan ’n mens bang maak as jy vinnig ry, maar die elektroniese vastrapbeheer skop gelukkig in as dinge lelik raak. Die rede hiervoor is die kort asafstand (iets waaraan jy niks kan doen nie) en harde banddruk (ons het die bande deurentyd op 2,8 bar gehou vir ons toets).

Ons moet noem dat die mu-X aansienlik veiliger voel as die eerstegeslag-Toyota Fortuner, wat soms ’n hand vol op ’n grondpad was en ’n reputasie gekry het as ’n ryding wat maklik omslaan.

Om die mu-X se veldryvermoë te toets het ons die Hennops-4x4-hindernisbaan buite Hartbeespoort getakel, en hy kon feitlik al die hindernisse baasraak. Daar was slegs twee wat ons laat omdraai het – en dit was omdat ons bang was ons beskadig die onderstel en treeplanke (die mu-X het wel staalplate wat die oliepan en oordraratkas beskerm).

Die Eaton MLocker doen sy werk, maar hy is nie so glad soos ’n volwaardige ewenaarslot nie. Jy voel vlugtig hoe een van die agterwiele tol en dan spring jy vorentoe wanneer die ewenaar sluit en albei agterwiele byt. Dis nie onaardig of gevaarlik nie, maar jy is wel bewus daarvan.

Ons is egter dankbaar dat Isuzu die Eaton MLocker aanbied as ’n opsionele ekstra, want dit help geweldig baie as jy oor klippe moet klouter.

KLIM, JANNIE. KLIM. Die vaste agteras sorg vir goeie asbeweging en tikkies moderniteit soos die LED-ligstrokies en projektorligte laat ’n andersins ou sportnuts byderwets lyk. Binnelangs is die mu-X ook vernuwe met ’n groot raakskerm en 4x4-knoppie.

Slotsom

Wat meganika betref, is die mu-X ’n ouskoolse ryding – en dís meerendeels ’n goeie ding. Tog is sy elektronika gemoderniseer, en agter die stuur voel die mu-X amper soos ’n ou siel met ’n gesonde gees.

Op die vraag of Moeks kan meeding met die nuwe Ford Everest, Toyota Fortuner en Mitsubishi Pajero Sport, is die kort antwoord nee. Dié drie sportnutse is in hulle tweede geslag, terwyl die eerstegeslag-mu-X bloot ’n ontrimpeling en naamsverandering gekry het.

As jy hom egter teen die eerstegeslag-Everest, -Fortuner en -Pajero Sport opweeg, sou ons waarskynlik die mu-X kies. Maar dit is ’n onregverdige vergelyking omdat daardie mededingers lankal nie meer nuut verkoop word nie.

’n Splinternuwe Isuzu D-Max-bakkie is op pad en ’n nuwe mu-X-sportnuts sal kort op sy hakke volg. Ons hoop Moeks se plaasvervanger het ook soveel gees.

Ry-indruk
Ry-indruk
SPESIFIKASIES

Model: 3.0 AT6 4x4

Enjin: 2 999 cc, viersilinderturbodiesel

Krag: 130 kW @ 3 600 r.p.m.

Wringkrag: 380 Nm @ 1 800 r.p.m.

Ratkas: 6 spoed-outomaties

Brandstofverbruik (getoets): 10 l/100 km

Tenk: 65 l

Nader- en vertrekhoek: 24° en 25,1°

Waaddiepte: 600 mm

Grondvryhoogte: 230 mm

Waarborg: 5 jaar/120 000 km

Diensplan: 5 jaar/90 000 km

Veiligheidsgradering: * * * * *  (ANCAP, 2017) Prys R629 100