Bakkie of niks

2008 Toyota Hilux 3.0 D-4D 4x4 dubbelkajuit (outomaties)

Soos baie Toyota-aanhangers op ons vasteland is dit onwaarskynlik dat Jaco Wilson van Witbank ooit van sy huidige ryding ontslae sal raak. Dalk om ’n Land Cruiser aan te skaf... ’n Land Cruiser 79 V8-turbodiesel (dubbelkajuit), om presies te wees. Ek het voorheen met ’n Fortuner 3.0 D-4D gery wat aan my behoeftes vir ’n ordentlike vierwielaangedrewe voertuig voldoen het. Ek het voor dit ook ’n 3.0 D-4D gery, maar dit was die Hilux 4x2.

Ek twee jaar ’n Fortuner gehad, maar omdat ek eintlik ’n bakkieman is, kon ek nooit gewoond raak aan hoe min pakplek die Fortuner het nie, veral as ons gaan kamp. Sowat twee jaar gelede het ek voelers begin uitsteek om te sien of daar dalk iets anders vir my is, maar die werklikheid is ek sou nooit iets anders as ’n Toyota aangeskaf het nie.

Ek het uiteindelik hierdie tweedehandse Hilux 4x4 gekoop vir R220 000. En hy voldoen regtig aan my vereistes dat dit bekostigbaar moet wees om te onderhou, gemaklik moet ry en in staat moet wees om sonder moeite my woonwa te sleep.

Dit was nie vir my nodig om veel aan die Hilux te verander nie, maar ek het hom wel met ’n seilkappie toegerus. Hy het reeds die snorkel gehad toe ek hom gekoop het. As ek nou ’n paar skille gehad het wat los rondlê, sou ek waarskynlik die vering ’n bietjie opgradeer.

Tot dusver het die Hilux my nog nie teleurgestel nie. Dit is ’n wonderlike voertuig vir die langpad danksy die outomatiese ratkas en kruisspoedbeheer. Hy sleep my Jurgens Xplorer met gemak, en dienste en onderdele kos nie ’n plaas se geld nie. Die enigste ding wat my so effentjies pla, is dat die ratkas die kar ’n bietjie lui en dors maak in die dorpsverkeer.

Gepraat van brandstofverbruik: Sonder die wa kyk ek na gemiddeld 11 l/100 km en dit styg tot by 12,8 l/100 km wanneer ek sleep.

Gesinswa

2018 Volkswagen Kombi 2.0 TDI DSG

Toe sy gesin groter word en hy met twee groeiende seuns moes huishou, het Andre Warnich van Centurion geweet die tyd het aangebreek vir ’n nuwe ryding. Ek was eintlik baie tevrede met my Volkswagen Amarok 2.0 BiTDI en het vier jaar met hom gery, maar met twee seuns in die gesin het die ruimte binne-in die kar belangriker geraak as die pakplek agterop die bakkie.

Ek het sommer van die begin af geweet my enigste werklike keuse is ’n Kombi. Die ruimte, ekonomiese brandstofverbruik en die feit dat dit pret is om te bestuur het hom loshande die gunstelingkeuse gemaak. Ek het ses maande met ’n demonstrasiemodel gery en hom uiteindelik vir R550 000 gekoop. Die gesin het hom sommer ook gou ‘Pappa se bussie’ gedoop.

Die Kombi is baie veelsydig, nes al sy Volkswagen-voorgangers deur die jare, maar die ander ding wat werklik die oog tref, is hoe liggies hy met brandstof te werk gaan. Ek sleep ’n 2015 Jurgens Penta en die Kombi gebruik selde meer as 8,7 l/100 km. Sonder die wa kry ek gemiddeld 7,2 l/100 km.

As ek vir een oomblik van my praktiese oorwegings vergeet, sal ek nie omgee om ’n Lotus Super 7 as ’n speelding te hê nie. Maar dit is net om te krap wanneer ek lus het om ’n bietjie meer opwindend te ry. Die volgende ding wat ek waarskynlik gaan aanskaf, is ’n stel ordentlike sitplekoortreksels vir die Kombi. Hy was tot dusver nog net ’n droomvoertuig en ek het geen probleme om te rapporteer nie. Hierdie voertuig is volmaak vir my gesin se behoeftes en daar is niks wat ek sal verander nie.

Ons gunsteling-kampbestemming is Bosveld-Oase in Noordwes, want daar is baie om te doen – nie net vir die seuns nie, maar ook vir hulle ouers. Dit is pret vir die hele gesin