Jy’s dalk vertroud met GWM, maar waarskynlik nie Haval nie. Wel, die twee is soos Lexus teenoor Toyota en Infinity teenoor Nissan... in dié geval is Haval die luukser naam in die GWM-gesin.

Die H9 is die maatskappy se vlagskipsportnutsvoertuig en hy’s behoorlik in die diep kant ingegooi met ’n reis van 3 000 km al langs die Suid-Afrikaanse kus. Ons was agter die stuur.

Hoe lyk hy?

Die ontwerp is heel gaaf, en ons is bly die H9 is nié net ’n kloon van ’n Westerse ryding nie. GWM kry dus punte vir oorspronklikheid.

Groottegewys vergelyk die H9 met die Toyota Fortuner, Isuzu mu-X en Ford Everest. Dit lyk op die oog af of hy ’n ordentlike nader- en vertrekhoek het en daar is geïntegreerde treeplanke onder die deure sodat jy maklik kan in- en uitklim.

In die sierrooster, rondom die ruite en op die bakpanele is daar genoeg chroomstrokies om ’n deftige voorkoms aan die H9 te verleen – sonder dat hy enigsins aanstellerig lyk. Die H9 is ook toegerus met netjiese 18”-allooiwielvellings.

Gelaai met katoeters

Dis hier waar die H9 die grootste waarde vir geld bied. Hier is toerusting wat jy gewoonlik net in sportnutse van R1 miljoen of meer vind. Die voorsitplekke het ingeboude lugreëling, hulle masseer jou rug vir jou en is elektries verstelbaar (vir die bestuurder in 8 rigtings en vir die voorste passasier 4).

Al drie rye sitplekke het hulle eie stel knoppies vir die lugreëling sodat elke deel van die kar sy eie klimaat kan kies. Die agterste ry vou 50:50 plat deur knoppies in die bagasieruim te druk, en die middelste ry word met die hand in ’n 60:40-verdeling platgestoot. Elke ry het oorgenoeg bekerhouers en bêreplekke vir los items.

In die middel van die instrumentepaneel is ’n 8 duim-raakskerm met ingeboude satellietnavigasie en ’n indrukwekkende klankstelsel wat deur die kajuit sing.

Daar is ook banddruksensors vir ekstra gemoedsrus, en die passasiers op die voorste en middelste bank geniet ’n onbelemmerde blik op die wolke danksy ’n panoramiese sondak.

As ons so na die H9 kyk, is dit maklik om te verstaan waarom Haval al hoe gewilder word.

Die H9 is beslis nie klein nie en om jou met parkering te help is daar parkeersensors, ’n trukamera en ’n stem wat jou vra hoe jy wil parkeer – reguit of parallel.

Nee, die kar gaan nié die parkering namens jou behartig nie. Wat hy wel doen, is om grafika op die raakskerm te wys wat jou help om netjies in die parkeerplek te kom. Die grafika is ook nuttig om jou woonwa aan die Haval H9 te haak.

Dieselfde radarstelsel waarsku jou teen voertuie in jou blindekol of teen voetgangers as jy uit jou oprit terugstoot in die straat.

KNOPPIEBOERDERY. Anders as in die Weste waar die knoppies op die instrumentepaneel al hoe minder word, het die H9 ’n fisieke knoppie vir haas elke funksie. Op die oog af lyk die H9 so groot soos ’n Nissan Patrol, maar eintlik is hy kleiner.

En onderlangs?

Daar is slegs een model in Suid-Afrika beskikbaar en hy kom met ’n 2 l-turbopetrolenjin wat 180 kW en 350 Nm wringkrag genereer.

Dié enjin is gekoppel aan ’n 8 spoed- outomatiese ratkas wat deur die Duitse aandrywingspesialis ZF ontwikkel is. Met die ritmodusknoppie langs die rathefboom kan jy kies tussen Outomaties (die standaardmodus), 4L (laestrek), Sport (hy verskerp die versneller se reaksie), Sand, Sneeu en Modder.

Die oordraratkas word deur BorgWarner verskaf en daar is ’n Eaton-beperkte glipewenaar op die agteras wat ook kan sluit.

Die Haval H9 se stamboek is inderdaad indrukwekkend. Die bakwerk rus op ’n raamonderstel, nes sommige van sy hardebaard mededingers, en hy’t dubbelmikvering voorlangs en meerskakelvering agter.

Wat van veiligheid?

Die H9 se elektroniese stabiliteitsbeheer is ontwikkel deur Bosch – dié blikbrein bestuur ook die vastrapbeheer, sluitweerremme, afdraandebeheer, wegtrekbeheer en ’n hulpmiddel wat sorg dat jy nooit jou H9 sal rol nie.

As jy ooit in ’n botsing betrokke raak, sal die H9 die insittendes probeer beskerm met frommelsones, staalstawe in die deure, ses lugsakke en Isofix-ankerpunte vir babastoeltjies.

Is Haval hier om te bly?

In die paar jaar wat Haval in Suid-Afrika nesgeskop het, was daar heelwat ander Chinese maatskappye wat teruggetrek het na hulle vaderland. GWM het hom egter van meet af aan ingegrawe.

Haval het in Mei 2017 afgeskop met drie agentskappe; vandag is daar meer as 30 handelaars landwyd. Ons loop elke dag meer Havals op ons paaie raak. En as ons so na die H9 kyk, is dit maklik om te verstaan waarom Haval al hoe gewilder word.

SPESIFIKASIES

Model H9 2.0 Petrol 4WD Luxury

Enjin 2 l-viersilinder-turbopetrol

Krag 180 kW @ 5 500 r.p.m.

Wringkrag 350 Nm @ 1 800 r.p.m.

Ratkas 8 spoed-outomaties

Brandstofverbruik 10,9 l/100 km

Tenk 80 l

Grondvryhoogte 208 mm

Waaddiepte 700 mm

0-100 km/h 10,8 s

Waarborg 5 jaar/100 000 km

Diensplan 5 jaar/60 000 km

Prys R599 900