In China is Baoding die hoofstad van die Hebei-provinsie, wat volgens ’n 2010-sensus die tuiste is van meer as 11 miljoen mense. Dis hier waar Haval gesetel is, in GWM se hoofkantoor in Chaoyangstraat 2266.

Regoor die hoofkantoor is die reusagtige “Nommer 3”-aanleg wat die Nanshi Qu-nywerheidsbuurt oorheers. Ons weet nie wat alles onder dié dak van 190 000 m2 aangaan nie, maar ons verbeel ons dis ’n mengsel van hipermoderniteit en ouskoolse handearbeid – dieselfde mengsel wat ’n mens in die Haval H9 aantref.

Die Haval H9 lyk goed as jy hom op ’n afstand bekyk. En as jy ’n bietjie nader stap, sien jy Haval het hier en daar elemente by ander vervaardigers geleen. Die luginlate op die enjinkap is pure Mercedes-Benz ML, die kantruite het ’n soortgelyke buitelyn as dié van ’n Toyota Prado, en daar’s beslis iets van ’n Volvo aan die remligte.

Dis net ’n vitterige ou wat tekortkominge in die Haval H9 sal vind.

As jy nóg nader kom en op jou rug onder die kar inkruip, sien jy die meeste van die sweislaste op die onderstel lyk foutloos (die werk van ’n robot), terwyl dié wat deur ’n mens gedoen is, effens slordig is. Maar dis net ’n vitterige ou wat sulke tekortkominge in die Haval H9 sal vind. Ons het reeds ons eerste indrukke kort ná die Haval H9 se bekendstelling gedeel (Weg Ry & Sleep #17), en nou toets ons sy veldry- en padhouvermoë.

LOGIES. Die binneruim is ’n mengsel van outydse analoë wysers en byderwetse raakskermtegnologie. Hier is niks innoverends nie, maar ook geen onaangename verrassings nie. Die aansitterknop is langs die rathefboom – die beste plek – saam met die ritmodusknop en ewenaarslotskakelaar.

Agter die stuur

’n Mens verwag die H9 se 2 l-petrolenjin gaan sukkel om sy lywige bakwerk te roer, maar die turboaangejaagde viersilinderenjin lewer goeie werkverrigting. Jy word wel by die petrolpompe gestraf as jy gereeld voet in die hoek ry, want daai bedrywige enjin raak dors as hy hard werk.

Op die snelweg het ons nooit gesukkel om ander voertuie verby te steek nie – selfs teen opdraandes – en daar is nou en dan selfs ’n aangename brulklank uit die uitlaatpyp. Die enjin werk egter deurentyd hard, en soos ons reeds gemeld het, is die brandstofverbruik dikwels hoog.

Die meerskakelagtervering en onafhanklike dubbelmikvoorvering verskaf ’n stabiele rit, veral op sinkplaatpaaie. Ons het ook ’n klompie asknopers op ’n plaaslike 4x4- hindernisbaan getakel, en dit het gelyk of die leerraamonderstel stewig genoeg is dat die bakwerk nie kreun nie.

Die H9 se Eaton-elektroniesbeheerde beperkte glipewenaar op die agteras werk goed, maar hy loop soms sy rieme styf as die hindernisse té uitdagend raak. Die hindernisbaan het ook die Haval H9 se grootste tekortkoming uitgewys: Sy afmetings onderlangs. Teen 23º is die vertrekhoek betreklik laag en ons het die agterbuffer gereeld teen die grond hoor skraap. Weens die grondvryhoogte van net 206 mm is die H9 se oorbrughoek ook nie watwonders nie en die treeplanke kap maklik.

Die kar se waaddiepte van 700 mm is wel lofwaardig en die 8 spoed- outomatiese ratkas (van die Duitse vervaardiger ZF) lewer ’n kommervrye rit.

Wat is ’n sportnutsvoertuig sonder ’n ritmodusknoppie? Die H9 het ses ritmodusse: Outomaties, Sport, 4L, Modder, Sand en Sneeu. Jy gaan meestal die Sportmodus gebruik om die beste uit die enjin te haal, en as jy ’n grondpad tref, is dit wys om oor te skakel na Outomaties. Ons kon nie juis ’n verskil tussen die Modder-, Sand- en Sneeumodus voel nie, maar 4L laat die H9 soos ’n os voor ’n ploeg voel. Dán word 2,48 keer méér wringkrag na die wiele toe gestuur.

Die Haval H9 het heeltydse vierwielaandrywing en die kragverspreiding word deur ’n Borg Warner-oordraratkas met laestrekratte beheer. Die stelsel besluit self hoeveel wringkrag na watter dryfas gestuur moet word. Wringkrag word tipies verdeel in 15/85 op teerpaaie, 30/70 op grondpaaie en 50/50 vir elke dryfas wanneer dinge taai raak óf as jy die 4L-ritmodus kies.

Die Haval H9
Die Haval H9

Slotsom

Die Haval H9 se naaste mededinger is die Toyota Prado. Die Prado het ’n groter brandstoftenk (150 l teenoor 80 l) en beter grondvryhoogte (215 mm teenoor 206 mm), en dan het die Prado natuurlik ook ’n groter binneruim en – die belangrikste van alles – ’n 3 l-dieselenjin. Maar die Prado kos R850 000 teenoor die H9 se R600 000 – en dan het die H9 boonop moderne apparaatjies wat die Prado outyds laat lyk.

Dis te vroeg om enige uitlatings oor betroubaarheid te maak, maar die terugvoer van eienaars in Australië (waar die H9 sedert 2015 beskikbaar is) klink positief.

Is die Haval H9 ’n veldryvoertuig? Hy presteer goed, baie na aan ’n Toyota Fortuner en ’n Ford Everest, maar hy’s eerder ’n luukse grondpadkoets as ’n ware bostrok.

GebOU OM TE HOU. Dit is moeilik om fout te vind met die H9 – ons hét probeer. Ons sal egter ’n paar jaar moet wag om te sien of die handelsnaam betroubaar is.
SPESIFIKASIES

Model: Haval H9 2.0 Petrol 4WD Luxury

Enjin: 2 l-viersilinder-turbopetrol

Krag: 180 kW @ 5 500 r.p.m.

Wringkrag: 350 Nm @ 1 800 r.p.m.

Ratkas: 8 spoed-outomaties

0-100 km/h-versnelling: 10,8 s

Brandstofverbruik: 12 l/100 km

Tenk: 80 l

Grondvryhoogte: 206 mm

Nader- en vertrekhoek: 28° en 23°

Oorbrughoek: 23°

Waaddiepte: 700 mm

Tarragewig: 2 300 kg

Diensplan: 5 jaar/60 000 km

Waarborg: 5 jaar/100 000 km

Veiligheidsgradering: (ANCAP, 2015)

Prys: R599 900